Tussen Kopenhagen & Khayelitsha

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


Op die Swartlandse dorpie Riebeek-Kasteel staan ’n plaasskuur wat met sinkplate bedek is – die vergestalting van die kunstenaar Jacques Coetzer se nuutste projek onder die vaandel “Volhoubare Middelklas”.

Twee Volvo-stasiewaens in die oprit, twee honde op die stoep en ’n lappie kikoejoegras waar ’n trampolien in die son bak – op die oog af niks buitengewoons vir ’n Afrikaanse middelklasgesin nie.

Maar die kunstenaar, pa en broodwinner Jacques Coetzer is mal oor paradokse en teenstellings soos die konsep “Volhoubare Middelklas”.

“My hele lewe voel soos ’n paradoks,” verduidelik hy met ’n koppie boeretroos uit Kenia in die hand. “Die middelklas is my tuisgrond waar ek myself geposisioneer het; ek ondermyn en ondervra dit van binne af.”

Aan die ander kant is die gedagte van volhoubaarheid: “Soos baie ander mense het ek al hierdie goeie bedoelings om meer volhoubaar te lewe, maar ek voel soms soos ’n hopelose verkwister. Volhoubaarheid is moeite vir die gewone man. Ek het met die idee begin speel as jy die middelklas kan verander en meer volhoubaar maak, kan jy die wêreld verander.”

Die idee van Volhoubare Middelklas het posgevat toe Jacques en sy vrou, Leán, ’n choreograaf en kunstenaar, besluit het om ná byna veertig jaar die groen voorstede van die Jakarandastad vaarwel te roep, aangespoor deur hulle daaglikse stryd in die stadsverkeer, die golf van voorstedelike uitbreiding, die onderliggende paranoia oor persoonlike veiligheid en die nimmereindigende aanslag op stedelinge se koopkrag – alles temas wat toe reeds in sy werk neerslag gevind het.

In 2009 het die Coetzer-gesin sak en pak afgesit na Riebeek-Kasteel, waar Jacques sy lyf argitek en bouer sou hou om ’n nuwe, meer volhoubare huis vir sy trotse middelklasgesin te bou.

Hy is geïnspireer deur die Skandinawiese estetika en modernistiese beginsels en het die huis ontwerp om modulêr te wees sodat die binneruimte veranderbaar is en ’n mens maklik later kan aanbou. Hy het ook die uitleg en boumateriale “so standaard as moontlik” gehou in ’n poging om dit bekostigbaar en volhoubaar te maak.

Die skerp helling van die terrein het hom laat besluit om ’n staalstruktuur op te rig en hiervoor is die hulp van ’n stoorbouer van Malmesbury ingespan. Die basiese struktuur, wat lyk soos ’n plaasskuur wat in die lengte deurgesny is, is binne slegs twee dae opgerig.

Buite is die raamwerk met gerolde aluminiumsinkplaat beklee, die binnekant met laaghout en vir die vloerborde is versterkte veselbord ingespan.

“Ek het gedink dis meer volhoubare keuses, maar toe ons materiale begin bestel, het ek gehoor die sinkplaat kom uit Australië en die vloerborde uit Thailand – die materiale het dus ’n enorme koolstofvoetspoor.”

’n Ongelooflike uitsig

Jacques moes toe aan ander maniere dink om meer volhoubaar te wees. Hulle het byvoorbeeld skadunet laat sak om die oggendson te beheer en ’n klomp papierbasdoringbome aan die westekant aangeplant pleks daarvan om standard lugverkoeling te installeer. Hulle kook eerder met gas en die geiser en ligte is van die energiebesparende soort. Van die leefgedeelte en kombuis se mure is met swartbordverf geverf sodat hulle kan aanteken hoeveel elektrisiteit en gas hulle gebruik.

Die Coetzers is nie net meer bewus van wat hulle verbruik nie, maar ook meer in voeling met hulle omgewing. Van die stoep af het hulle ’n ongelooflike uitsig oor die Riebeekvallei, wat as ’t ware ’n kosmandjie is – koringlande, wingerde en olyfboorde. Leán vertel hulle is baie minder in die versoeking om geld te bestee omdat daar nie juis winkels is nie.

Verder is die dorpie só klein dat hulle byna oral heen kan stap of fietsry – hulle hoef nie meer ure in die verkeer te sit om Jan (7) en Juliana (5) skool toe te neem nie. Die kinders het ook meer vryheid, al is die erf en huis kleiner as hulle vorige blyplek in Pretoria. Nou is die stiller strate en openbare ruimtes van die dorp ook hulle speelplek.

Die gesin voel ook meer veilig op Riebeek-Kasteel. “Ek wou aanvanklik ’n tipiese hoë muur om die huis bou, maar ná ’n tydjie het ons besef ’n lae tuinmuur sal werk,” sê Jacques. “Dis baie meer sosiaal – in die middae knoop almal wat gaan stap, ’n geselsie aan.”

Die ontwerp van die huis het aanvanklik ’n opskudding op die dorp veroorsaak omdat dit so anders is as die meer tradisionele Victoriaanse en Kaaps-Hollandse argitektuur van die omgewing. Jacques voel die styl is heel gepas vir die landelike omgewing waar staalskure ’n algemene gesig is. “’n Kind het op ’n dag hier verby gestap saam met sy ma en na die huis verwys as ’n white man’s shack,” sê hy. “Ek hou nogal daarvan, want ek het inspirasie geput uit van Kopenhagen tot Khayelitsha.”

As jy hom oor die potensiële impak van sy projek uitvra, grinnik Jacques net: “Ek is hopeloos te realisties om te dink dit gaan iets verander. Die hele konsep is meer my eie soeke as wat dit ’n antwoord of ’n utopie of selfs ’n prototipe is. Dis eerder my eie ondersoek na ’n alternatief.”

• Jacques Coetzer www.jacquescoetzer.co.za

• Leán Coetzer www.leancoetzer.co.za

• Leán se uitvoerstuk Lullaby vorm deel van die 2010 Spier Contemporary-uitstalling wat tot 14 Mei in die Kaapstadse stadsaal te sien is voordat dit na Johannesburg en Durban verskuif word. www.spiercontemporary2010.co.za