FOTOS: Obie Oberholzer | WOORDE: Helen Grange
PETER RICH is op 24 Februarie as die ABSOLUT VISI Ontwerper van die Jaar aangewys vir sy ontwerp van die Mapungubwe-interpretasiesentrum – die eerste argitek wat dié eer te beurt val. Peter het met VISI gesels oor sy prestasie, terwyl sy vriend die ikoniese Suid-Afrikaanse fotograaf OBIE OBERHOLZER die skouspelagtige foto’s geneem het.
Voordat sy firma in November laasjaar die Wêreldgebou van die Jaar-toekenning by die Wêreld-argitektuurfees in Barcelona gewen het vir die Mapungubwe-interpretasiesentrum in Limpopo, het Peter Rich nie eens ’n webwerf gehad nie. Sedertdien spog hy met een wat al meer as twee miljoen trefslae gekry het.
’n Mens kan maar sê Peter Rich-argitekte, ’n span van agt mense, het die “Oscar” van argitektuurtoekennings ontvang. Dis dié geleentheid in argitektuurgeledere, een waar die wêreld se voorste argitekte deur hulle portuurgroep beoordeel en op die skouer geklop word. Daar was 640 inskrywings uit 67 lande. Peter was erg in sy noppies toe hy in die kategorie Kulturele gebou van die Jaar met die louere wegstap, maar hy was “heeltemal oorstelp” toe hy ook die groot prys wen.
Die beoordelaars het bevind die Mapungubwe-interpretasiesentrum, wat in opdrag van Sanparke gebou is, was van al die projekte argitektonies en sielkundig die kragtigste. “Dit het nie net gewig nie, maar dra ook ’n boodskap van kompleksiteit aan die buitewêreld oor,” was die kommentaar van die Wêreld-argitektuurgemeenskap se voorsitter, Suha Ozkan. Daarop sê Peter bloot: “Ons het ’n gebou opgerig wat wonderlik outentiek is. Dis gemaak uit die aarde en die plaaslike gemeenskap het gehelp – dít is die krag daarvan.”
Oor die ABSOLUT VISI Ontwerper van die Jaar-toekenning wat nou by sy lang lys pryse gevoeg is, sê Peter: “Dis ’n groot eer, veral omdat die ontwerpwêreld nie gewoonlik argitektuur insluit nie – al is dit volgens my die moeder van die kunste. Ek het omtrent ’n dosyn merietetoekennings vir vorige projekte gekry, maar Mapungubwe is vir my spesiaal en die lof wat dit ingeoes het, is vir my van onskatbare waarde.” Peter het selfs verdere erkenning ontvang met die aankondiging dat hy ere-genoot van die Amerikaanse Instituut vir Argitekte word – die inhuldiging vind middel Junie 2010 in Miami plaas.
Die Mapungubwe-interpretasiesentrum, geleë by die samevloeiing van die Limpopo- en Shasherivier waar die grense van Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana bymekaar kom, dien as ’n inleiding vir toeriste oor die Mapungubwe- nasionale park. Dis die terrein van ’n oeroue beskawing wat nie net verbind word met die handelskultuur van Groot-Zimbabwe nie, maar ook die plek is waar die beroemde goue renosterfiguur ontdek is.
Outydse boumetode
Die sentrum, wat van die beplanningstadium af drie jaar geneem het om te voltooi, bestaan uit twee hol klipstapels, terwyl ’n spangewelftegniek gebruik is om die golwende vorms te bou waarvan ’n mens die dun dop in die geboë rande sien. Die gewelfwerk, ’n antieke boutegnologie uit die tyd voor versterkte sement, is onder toesig van ’n span kontrakingenieurs van die Massachusetts-instituut vir Tegnologie voltooi. ’n Spangewelf versprei gravitasiekragte horisontaal ondertoe en maak staat op die klouvermoë van etlike lae oorvleuelende teëls wat saamgeweef word. In dié geval is die teëls 18 mm dik en handgemaak van plaaslike grond, sê Peter, en voeg by: “Hierdie outydse boumetode het ook ’n klein koolstofvoetspoor, en dis die rede waarom argitekte weer daarna begin kyk.”
Binne-in die sentrum tref ’n mens sigsag-wandelgange aan. Die binneruimte vir tentoonstellings is spelonkagtig. Lig word deur gekleurde glas gefiltreer en spikkelpatrone word weerkaats op die poele waardeur die lug afgekoel word. Lig word ook op ’n slim manier met geroeste staalskerms en latwerk versag.
Die koepels aan die buitekant is bedek met los klippe wat op die terrein rondgelê het voordat die bouwerk begin is. Mense het al gesê die gebou lyk soos ’n saadjie wat net eenvoudig daar ontkiem het.
“Die sentrum is ’n simbool van Afrika voor kolonisasie, van sy antieke kulture en mitologieë,” verduidelik Peter. “Dis ontwerp om die kwaliteite aan te neem van ’n heilige ruïne, met verskillende lae van betekenis en rykheid. Die gevoel wat ek wou skep, is een van ’n mistieke, heilige plek, een wat die verhaal van Afrika vertel.”
Die feit dat Peter en sy span op ’n slim manier plaaslike materiaal en arbeid gebruik het, het by die Barcelona-fees ’n sterk indruk gemaak op volhoubaarheidsagenda, hoewel die klem steeds bly op die sentrum se kulturele bydrae. “Wanneer ek daaroor praat, vertel ek ’n liriese, menslike storie – nie ’n windgat-verhaal oor watter geniale ou ek is nie, en die mense hou daarvan,” sê hy.
Peter woon in ’n helderkleurige Ndebele-geïnspireerde huis-en-kantoor in Parktown, maar is nooit lank hier nie; hy bring baie tyd deur in Axum, Ethiopië, waar hy en sy span ’n “meesterplan” vir ’n antieke stad beplan – om meer toeriste te lok. Hy werk ook aan ’n soortgelyke projek in Kigali, Rwanda, en tussendeur dit alles is hy ook nog ’n professor wat ’n jonger geslag argitekte en stadsbeplanners oplei.
Peter, ’n ywerige navorser van inheemse stamme en ’n leidende voorstander van kontemporêre Afrika-argitektuur, hou daarvan om voort te bou op tradisies, en sy geboue vind sterk aanklank in die gemeenskappe waar hulle staan. Een van sy merkwaardigste plaaslike werke is die Alexandra-erfenissentrum in die township Alexandra, wat volgens hom baie geliefd en gewild is in die gemeenskap.
“My inspirasie kom uit die spesifieke konteks van my opdrag – meestal Afrika – wat ek dan in die argitektuur interpreteer,” verduidelik hy. “Afrika-mense het in der waarheid al die oplossings… Die Ndebelevrou is net so talentvol in argitektuur as iemand wat deur die Italiaanse Renaissance-argitek Palladio opgelei is, bloot omdat sy ervaring het in ontwerp en bouwerk. ’n Mens is net so goed as hoeveel jy jou ambag beoefen.”
Kontemporêre Suid-Afrikaanse argitektuur
Met ’n loopbaan van 40 jaar agter hom het dié argitek indrukwekkende werk op sy kerfstok – dit sluit in nasionale geboue, maar ook nederige gemeenskapsgeriewe in Gauteng en Limpopo. Hy hou daarvan om sy geboue te beskryf as “gestroop van styl of mode, maar met ’n respek teenoor die landskap, plek en kultuur”, iets wat eg voel vir die mense vir wie hy dit gebou het. Dit was presies wat hy in gedagte gehad het toe hy op die droë, vergeetbare rif gestaan het wat uitkyk op wat vandag die Mapungubwe-interpretasiesentrum is.
Ironies genoeg was Mapungubwe ook onlangs in die nuus vanweë die omstredenheid rondom die toekenning van steenkoolmynregte aan Coal of Africa Limited (CoAL), nie ver van die interpretasiesentrum af nie – ’n kwessie wat die plek se Wêrelderfenisstatus bedreig.
“As die sentrum gebruik kan word as ’n simbool in die veldtog om die mynbouvoorstel te beveg, dan is ek bly,” sê Peter. “Want mynbedrywighede sal hierdie lieflike kremetartlandskap vernietig.”
Die betekenis van Peter Rich se Wêreldgebou van die Jaar-sege sal miskien eers later ’n tasbare uitwerking hê. Tot dusver het die res van die wêreld nie eintlik kontemporêre Suid-Afrikaanse argitektuur erken nie, sê hy. Maar prof. ’Ora Joubert se nuwe boek, 10+ Years 100+ Buildings – Architecture in a Democratic South Africa, sal saam met sy toekenning hopelik sorg dat die wêreld dit raaksien.
“As argitekte worstel ons met wat ons spesiaal maak in hierdie plek, in die 21ste eeu, hoe ons dit vertolk en hoe ons dit persoonlik maak. Nou het ons die kans om openbare ruimtes te maak wat werlik ons kulturele diversiteit weerspieël,” sê hy.
Dié erfenis het reeds begin. By Mapungubwe gebruik die werklose klipmesselaars wat op die terrein opgelei is, die res van die projek se teëls vir hulle huise in die nabygeleë dorpies. En só sit hulle ’n wonderlike Suid-Afrikaanse suksesverhaal voort.
• Peter Rich-argitekte 011 726 6151, www.peterricharchitects.co.za