Vryheidspark

FOTOS: Adriaan Louw | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


’n Nuwe uitstalruimte in Vryheidspark, Pretoria, gaan besoekers binnekort met ander oë laat kyk na Suid-Afrika se kulturele, historiese en spirituele verlede.

Dit gebeur nie aldag dat tradisionele genesers, Afrika-akademici en ’n kontemporêre argiteksfirma met sy hoofkantoor in Johannesburg se woelige Oxfordstraat koppe bymekaar sit om ’n 21ste eeuse gebou te ontwerp nie.

Maar dis presies wat met die ontwerp van //Hapo (jy spreek dit uit as “Kapo” met ’n Khoisan-klikgeluid), ’n interaktiewe interpretasie-en-tentoonstellingsruimte, gebeur het. Die gebou het rondom ’n konsultasieproses ontstaan, maar dit kon ook nie eintlik anders nie, want //Hapo beteken “droom”, en volgens ’n ou Khoi-gesegde sal g’n droom bewaarheid word as die hele gemeenskap nie daarin deel nie.

Hierdie spesifieke deel van Vryheidspark, ’n gedenkterrein vir mense wat hulle lewe in die stryd teen apartheid afgelê het, gaan die verhaal van Suider-Afrika in storie- en visuele formaat vertel wanneer dit op 1 April 2011 vir die publiek oopgestel word.

Die gebou sou reg van die begin af “uniek aan Afrika” wees, vertel die hoof-ontwerpargitek, Jeremy Rose van Mashabane Rose en Vennote. Die struktuur het ontstaan rondom die idee om groot klipvorms te skep wat met die landskap saamsmelt. Dié konsep is aanvaar ná ’n uitvoerige gesprek met ’n akademikus en ’n besoek aan die bekende sangoma dr. Credo Mutwa se rotstuin vol medisinale plante op Kuruman.

“Die struktuur bestaan uit kleiner klipvorms wat met mekaar verbind is en wat as’t ware uitsit en saamtrek,” verduidelik Jeremy. “Hierdie natuurlike vorms vind weerklank met die ander gedenktekens op die terrein, onder meer die Isivane-ruimte waar klippe ’n heilige begraafplaas omring.”

Volgens Jeremy het die span op ’n koperomhulsel vir die dak en die mure van die gebou besluit. “Koper verouder baie stadig en sal uiteindelik groen word om by die kleur van die koppie in te skakel.”

Die interieur voel asof ’n mens binne-in ’n grot is met vensters van onreëlmatige grootte en op verskillende vlakke wat die skeure in natuurlike rots naboots. “Ons het agtergekom hoe baie van die inheemse godsdienstige rituele binne grotte plaavind,” sê Jeremy. “Uiteindelik sorg die ontwerp vir individuele karakter, maar laat terselfdertyd die gebou as ’n museumruimte werk.”

Die binneruimtes is gegrond op die sewe tydvakke waarin die Suid-Afrikaanse geskiedenis ontvou het, soos “Die Aarde”, “Kolonisasie en Verset”, en “Nasie- en Vastelandbou”. Die struktuur sak en rys tussen die lae en hoë ruimtes wat ’n spesifieke tydvak definieer. “Die plekke waar die ruimtes ‘saamgeforseer’ word, is waar die storie ’n wending neem en idees gevorm word, byvoorbeeld die gebeure wat die stryd teen apartheid voorafgegaan het,” verduidelik Jeremy.

Tradisionele genesers het plante met medisinale eienskappe gekies om rondom die geboue te plant en aan die landskapontwerpers verduidelik waar elke soort plant moet groei. Die laaste woord behoort aan Jeremy: “Uiteindelik het die ontwerp van hierdie gebou ontstaan uit ’n soektog na beelde deur middel van ’n reeks gesprekke oor inheemse idees – ’n unieke proses wat tot ’n unieke struktuur gelei het.”

• Mashabane Rose Vennote 011 486 1057, www.mashabanerose.co.za

www.freedompark.co.za