FOTOS: Jeff Goldberg & Bill Timmerman | WOORDE: Trevyn McGowan
Die Amerikaanse argitek Rick Joy benader elke projek met dieselfde drie maatstawwe: eenvoud, suiwerheid en grasie. Trevyn McGowan, een van sy grootste bewonderaars, het met hom gesels.
As my grootste droom bewaarheid word en ek kan enige argitek ter wêreld aanstel om iets vir my te ontwerp, sal Rick Joy van Tucson in die VSA beslis die wenner wees. Ek bewonder sy werk al vir meer as tien jaar omdat hy die “volmaakte toevlugsoord” verstaan: ’n huis vol vrede en stilte, maar wat terselfdertyd die mees dramatiese aspekte van die omringende landskap na vore bring. In Suid-Afrika met sy magdom ongelooflike natuurskoon wat as agtergrond dien, is Rick se beeldskone maar tog diskrete, omgewingsbewuste, klimaatsensitiewe argitektoniese beeldhouwerke die perfekte inspirasie.
Rick begin die voorwoord van sy boek Desert Works met ’n beskrywing van ’n kampvakansie saam met sy seun en die weerkaatsing van meteoorreën wat hy in sy seun se oë gesien het. Met dié intieme staaltjie lei hy sy veelbekroonde werk in, en selfs al fokus sy praktyk deesdae op groot internasionale projekte, beskik elke bousel steeds oor dieselfde persoonlike, outentieke suiwerheid wat sy eerste geboue so ánders gemaak het (hy het aan die begin as argitek en boukontrakteur gewerk).
Rick het kuns en musiek gestudeer en daarna vir 12 jaar as terreinskrynwerker gewerk voordat hy op argitektuur – die perfekte kruising tussen dié diverse rigtings – besluit het. Tot vandag toe speel sy passie vir musiek ’n belangrike rol in sy benadering tot argitektuur – die “stiltes” in sy geboue is net so noodsaaklik soos die “note” en hy verwys dikwels na homself as ’n dirigent wat as “bemiddelaar” optree tussen botsende kragte in die ontwerp- en bouproses.
Rick is ’n boorling van die groen landskap van Maine, maar het in 1990 sy argitektuurgraad in Arizona behaal. Die majestueuse skaal en kulturele diversiteit van dié woestynlandskap het hom gou oorrompel en aanvanklik het hy meestal residensiële projekte aanvaar. Rick het vir baie jare toesig gehou oor die konstruksieproses van sy geboue en danksy dié betrokkenheid – en veral die gesamentlike oplossing van probleme op die bouterrein – kon sy praktyk beter gehaltebeheer toepas, maar terselfdertyd ook meer eksperimenteer.
Die geskiedenis en plaaslike boutradisies vorm altyd die hoeksteen van Rick se benadering wanneer hy die “multi-sensuele” aspekte van die terrein en die onmiddellike omgewing ondersoek. Die geluide en reuke en hoe ’n mens dit ervaar; die geknars van gruisklip onder jou skoen of die gevoel van verligting wat druppende water in die woestynhitte verskaf; die verrassing van ’n piepklein detail of ’n uitsig op ’n uitgestrekte stuk aarde; wat ’n mens moet doen om die lig of ander klimaatstoestande die beste vas te vang… letterlik álles word ontleed en vorm uiteindelik deel van Rick se leefstylvoorstel vir die spesifieke plek en individu. Intuïsie bly ook nie agterweë nie, want uiteindelik is sy doel om ’n kliënt se teenwoordigheid in ’n ruimte en in die groter landskap meer eg te laat voel.
Rick se ontwerpe spog met voortdurende, energiewekkende teenstellings tussen soliede massa en “geaardheid” aan die een kant, en die gevoel van “liggies oor die aarde beweeg” aan die ander: Die konsep van ’n ononderbroke hoogommuurde binnehof wat die blou hemel openbaar (400 Rubio Studio), of drie staalbedekte kubusse wat bo die woestyngrond huiwer en net liggies daaraan raak (Casa Jax).
Vrede en ongeforseerde glansrykheid
Sy soomlose konstruksie, die afwesigheid van standaard detail en die ineensmelting van een materiaal in ’n ander sorg vir vorms wat elegant sowel as eenvoudig is; trouens, juis deur oënskynlik eenvoudige strukture en ’n beperkte verskeidenheid materiale word die gevoel van opperse luuksheid, vrede en ongeforseerde glansrykheid gebore.
“Dit is gewoonlik ’n uitdaging om sekere aansluitings of ’n hoekdetail op te los, maar die heel grootste uitdaging is altyd om die oplossing eenvoudig te hou. Ná al die jare is ek nog net so geïnteresseerd daarin om basiese probleme op te los – of ek nou met omgedolwe grond, staalbedekte fasades, bakstene of klippe werk… die uiteindelike doel is tog om elke metode of materiaal tot sy reg te laat kom.”
In Rick se geboue staan die buitewêreld in skerp reliëf danksy die gebruik van groot stukke glas wat amper soos gate in die rou oppervlak van die mure lyk, terwyl hy die beweging van die son vasvang deur openinge op verskillende vlakke te gebruik. Jy voel kalm en veilig in sy geboue, maar terselfdertyd een met die ongelooflike landskap buite.
Die argitektspraktyk het geweldig uitgebrei en Rick kan vanselfsprekend nie meer al die konstuksiewerk persoonlik bestuur nie. Tog vereis die verskeidenheid projekte, internasionaal en in die VSA, byvoorbeeld die ongelooflike Amangiri vir Aman Resorts in Utah wat hy saam met I-10 Studio ontwerp het, dat hy steeds baie moet reis en voortdurend moet seker maak “die regte materiaal word vir die regte detail gebruik om die atmosfeer van elke plek tot sy reg te laat kom”.
Die drie projekte wat hy die graagste uitsonder, is “Catalina House, met sy kombinasie van massa en lig, beskerming en blootstelling, omhulling en verhulling, en met genoeg ruimte om tegelykertyd sosiaal of privaat te verkeer”; “Desert Nomad House, wat net liggies aan die aarde raak en die landskap respekteer deur die ongelooflike uitsigte op spesifieke tye van die dag te raam”; en Taos Hacienda, ’n Spaans-Amerikaanse hacienda-tipologie met ’n groot binnehof. Die huis lê net soos ’n fort op die rand van die mesa met goed gekose uitsigte na buite. Danksy die lig wat oor die gekompakteerde grond streel en massiewe koepelplafonne, is die alledaagse gevul met vrede.”
As ’n mens hom oor sy sensitiwiteit vir die omgewing uitvra, antwoord Rick die geheim lê daarin om jou kliënt te oortuig om meer bewustelik in verskillende ruimtes te leef. Uiteindelik, sê hy, kom ’n mens dikwels veel verder met beginsels van volhoubaarheid as met die jongste tegnologie. Hy verkies laetegnologie-oplossings en dring aan op die beskerming van die natuurlike terrein, die verantwoordelike gebruik van die regte materiaal en natuurlik die regte boumetodes sodat die gebou vir baie lank sal hou.
Hoe meer mense sy “persoonlike” benadering tot argitektuur respekteer en hoe besiger sy reisprogram raak, hoe groter is Rick se uitdaging om op die huidige oomblik en sensuele ontdekking te fokus. “Om ’n argitek te wees sleep my dikwels weg van die taak om geboue te maak. Deesdae word die meeste van my tyd opgeslurp om as bemiddelaar op te tree, om belange te verstaan en te versoen, om balans te soek, om aanklank te vind. Die grootste geheim is om genoeg tyd in te ruim om te besin oor die ruimte wat jy inneem of waarin jy leef… en om vrede te vind.”
• Rick Joy-argitekte Bpk, www.rickjoy.com, [email protected], +1 520 624 1442