Foto’s: Dook | Produksie: Annemarie Meintjes | Woorde: Remy Raitt
Met die Stonehaven Lodge-kapel in die KwaZulu-Natalse Middelland het die argitek Richard Stretton bloekomhoutpale losgemaak van die landelik-Suid-Afrikaanse cliché’s van grasdakke en klipmure – en dit weer sy regmatige plek in die kollig laat inneem.
Richard Stretton van Koop Design blaas nie graag sy eie beuel nie. Dis onnodig, want die poëtiese kwaliteit van sy werk spreek vanself. Richard se indrukwekkende repertoire sluit in die sogenaamde Dalton Compound hoog teen ’n heuwelagtige landskap in die omgewing van Nottingham Road, wat in 2010 met ’n Afrisam-SAIA-toekenning vir volhoubare argitektuur bekroon is.
Die kapel, wat as die Sable Room bekend staan en op dieselfde plaas as die Windmills-hotel gebou is, verander die golwende groen heuwels van die Kwa-Zulu-Natalse Middelland in ’n ruimte waar ’n mens wil feesvier.
“My kliënt is briljant,” verduidelik Richard opgewonde. “Hy het hierdie gopserige hotel op ’n ongelooflike stuk grond langs die N3 gekoop, ’n plek waar vragmotorbestuurders eens op ’n tyd ’n blaaskans gevat het. Hy het baie geld bestee om die hotel reg te ruk en die kapel te bou, en wanneer daar nou troues in die kapel plaasvind, kan die bruilofsgaste in die hotel oornag.”
“Ek wou al lankal ’n bloekompaalstruktuur bou, maar iets wat ’n bietjie meer gevorderd is as die soort bousels waarvoor bloemkompale gewoonlik gebruik word,” verduidelik die argitek.
Die manier hoe die bloemkompale hier gebruik word, herinner eerder aan die Ioniese pilare van antieke Griekeland, terwyl die konsep van ’n Griekse agora – ’n openbare bymekaarkomplek of plein – weer die ontwerp van die kapel beïnvloed het.
Eenvoudig dog treffend
Dié Griekse inspirasie het aanleiding gegee tot ’n eenvoudige dog baie treffende seremoniële ruimte wat gebou is met materiaal wat gewoonlik vir lapas en kinders se speelrame gebruik word.
Richard, wat bekend is vir sy omgewingsensitiewe en energiedoeltreffende geboue, het gesorg dat die kapel perfek inskakel by die omgewing. Sy Stonehaven Lodge-skepping “laat die grens tussen landskap en argitektuur vervaag”, en die kapel sal met die verloop van tyd natuurlik en grasieus verouder, net soos die gras en bome rondom dit.
Heelwat uitdagings moes in die ontwerp- en uiteindelike bouproses die hoof gebied word. Die oorspronklike gedagte met die kapel-ontwerp was om die ruimte af te baken met ’n versameling kort opeenvolgende “kreukels” met glas tussenin.
“Maar die beweging in die struktuur, spesifiek vanweë die hoogte en gewig, het daardie plan in die wiele gery. Daarom is ’n staal-en-glas-omhulsel ontwerp wat ingebou is in die primêre stuktuur van bloempale,” sê Richard.
Die natuurlike voorkoms van die bloemkompale vorm ’n subtiele kontras met die ligte bekledingsmuur van staal en glas wat die interieur skei van die buitestoep en die groter landskap. Richard verduidelik die pale beperk die direkte sonlig, en voeg dan by: “Die staalelemente word tot die minimum beperk omdat die gewig van die dak deur die pilare gedra word. Die mure vorm dus ’n interaksie tussen die bloekompale wat verouder en grys word, en die buite-omgewing.”
Richard se bedoeling was om die aandag vorentoe te verskuif – daar is dus geen pale wat dié uitsig suid oor die dam versper nie, en direkte sonlig is ook nie ’n probleem nie. Deur die wisselwerking tussen binne en buite haarfyn te beplan sorg Richard ook dat die bruilofsgaste se aandag op die seremonie is wat in die kapel plaasvind.
Sentimentele verwysings
Die moderne interpretasie van klassieke brandskildervensters is toevertrou aan Angela Shaw, Richard se vrou. Die vensters is ’n sentimentele verwysing na kerke en seremonies, sonder om openlik godsdienstig te wees. Die vensters loop al aan die westekant van die gebou en sorg in die agtermiddaglig vir ’n reënboog van kleur op die leiklipvloer.
Ander sentimentele elemente sluit in die loodregte pilare en die deure van soliede hout. Die vloer wat subtiel skuins loop, is geïnspireer deur die Notre Dame du Haut-kapel wat Le Corbusier in Ronchamp, Frankryk, ontwerp het, terwyl die uiteindelike ontwerp-perspektief ’n herinterpretasie is van die trappe by die Vatikaan.
Die dakbalke van gedetailleerde liggewig staal en donker hout wat dig teen mekaar gebruik word, herinner aan die filigraanwerk van die Victoriaanse en Gotiese argitektuur. Die balke definieer nie net die kapel se sentrale paadjie nie, maar staan ook in pragtige kontras met die ligte berkelaaghout wat vir die plafon en die houtmeubels gebruik is.
Die meubels in die kapel is ook spesiaal deur Koop ontwerp. Die populierhout wat vir die kerkbanke, tafel en kateder gebruik is, kom van ’n ekologies volhoubare bron en is deur die skrynwerkspan van die Dalton- private reservaat (wat al lank saam met Koop werk) uitgesoek, behandel en geïnstalleer. Volgens Richard is die regop staalraam-kerkbanke met hulle houtplank-sitplekke en -rugkante geïnspireer deur die staatsmeubels wat op spoorwegstasies en in skole gebruik word.
Suid-Afrikaanse argitektuurliefhebbers sal die Stonehaven Lodge-kapel waarskynlik ’n myl ver uitken as een van Richard Stretton se ontwerpe, veral danksy sy gebruik van natuurlike materiale, tesame met eenvoudige dog uiters innoverende en perfek uitgewerkte ontwerp, en ’n omgewingsimmetrie wat die geboue en omliggende landskap laat saamsmelt. Richard het die projek “volkome instinktief” benader, en dis juis dié instink wat ’n mens laat uitsien na nog vele van sy vernuwende argitektuurprojekte reg oor die land.
• Koop Design: 031 303 3922, [email protected]
• Simon Clements Garden & Landscape Design: 031 312 3637, [email protected]
• Stonehaven Lodge: 033 266 6955