Kind van Afrika

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly


“Kaalvoet-tegnologie” is wat nodig was om dié hipermoderne huis in Craighall met sy sonkrag, ontwerper-afwerkings, versamelaarskuns en Afrika-siel te skep.

In ’n roerende skildery in Peter en Cynthia Tischhauser se huis, die werk van die Johannesburgse kunstenaar Cyril Coetzee, sit die 16de eeuse Portugese digter Camoes op ’n stapel van sy boeke en gesels met die opperhoof van ’n Afrika-dorpie. Hierdie is egter nie ’n gewone koloniale ontmoeting waar vrees en wantroue aan die orde van die dag is nie; dit stel eerder die fantasie voor van ’n ontmoeting wat gevul is met verwondering, verrassing en wedersydse verbasing. Dit is ’n magiese oomblik wat die toon aangee in ’n huis waar Afrika- en Europese estetika saamgesnoer word – alles met ’n strooisel kenmerkende Tischhauser-spitsvondigheid.

Cynthia en Peter het baie jare in dié huis gewoon, maar dit was eers toe hulle twee jaar gelede uit Los Angeles in Amerika teruggekeer het, gevul met nostalgie vir die vasteland wat hulle so liefhet, dat hulle besluit het om hulle huis te omskep in ’n ruimte wat nie net hulle identiteit sou weerspieël nie, maar ook hulle kreatiwiteit aanvuur. Die resultaat is ’n pragtige, gerieflike en doeltreffende leefruimte. Dis ook ’n Afrika-huis, gebou deur mense van Afrika en versier met van die ongelooflikste kuns van reg oor die vasteland.

Selfs al is Peter van Switserse afkoms, is hy en Cynthia mal oor hulle Afrika-wortels. Elke item in hulle huis, van die houtbak op die badkamerblad tot die kosbare Kongolese skilderye in die eetkamer, vertel ’n storie.

Peter, ’n rolprentmaker wat van die grootste advertensieveldtogte reg oor die wêreld help maak het, is ook effens obsessief oor beligting. Elke lig is dus gekies oor die skoonheid daarvan, maar ook omdat dit ’n sekere funksie verrig. Boonop sorg vensters en dakvensters regdeur die huis dat natuurlike lig hulle lewens uit soveel as moontlik oorde binnespoel. Die enorme kantelvenster bo die bed verbind die paartjie se slaapkamer met ’n groot stuk van die Afrika-lug, dag en nag, terwyl die aangrensende muur twee dramatiese Artemide-pyphangligte van Herzog & De Meuron huisves.

Aangesien Peter ’n lig-man is, maak dit sin dat hy ook met sonkragligte sou eksperimenteer, en ’n paneel met fotovoltaïese selle op die dak beteken die hele huis word sonder die hulp van Eskom verlig. Ook die ondervloerse verhitting werk met sonkrag.

Peter noem die paartjie se benadering tot hipertegnologiese doeltreffendheid “kaalvoet-tegnologie” – dis subtiel, maar dit werk. ’n Buitestort is byvoorbeeld uit ruwe klip gebou en word versier met potte en spitsvondige artefakte, maar as jy afkyk, sien jy oor die klipvloer is ’n hand vol LED-liggies gestrooi. Die effek is ongelooflik.

’n Soomlose ontmoeting van twee wêrelde

Peter en Cynthia se styl is gesofistikeerd dog sielvol, wat beteken ontwerperslampe staan gemaklik neffens kosbare Afrika- en Oosterse stukke wat hulle reg oor die wêreld versamel het. Die resultaat is ’n soomlose ontmoeting van twee wêrelde: ’n tegnologies gevorderde huis en die aardsheid van Afrika.

Die mees dramatiese deel van die restourasieprojek was die besluit om nog ’n vlak bo die hoofslaapkamer en -badkamer te bou. Hulle het wel hulp gehad van Peter se argitek-broer, Anthony Tischhauser, maar hulle het al klaar ’n duidelike idee gehad van wat hulle wou hê. Die nuwe ruimte gee die huis ’n volkome nuwe dimensie – van die gemotoriseerde aluminiumvenster van 3,6 m tot die dak-ateljee wat vir Cynthia laat voel sy beoefen haar kuns in ’n Paryse arendsnes. Die hoogte en lig help om die huis met die buitekant te verbind.

Die volgende projek wat die paartjie saam aanpak: ’n aalwyntuin, waarmee hulle al goed op dreef is, ’n kruie-en-groentetuin met ’n gevorderde besproeiingstelsel, en twee byekorwe wat ingebring is om te help met bestuiwing in die tuin.

Maar dit is die paadjie wat oploop na die ateltjee toe wat baie verklap oor die mense wat hier woon. Van hulle slaapkamer af loop die trappies deur Cynthia se biblioteek van kuns- en filosofieboeke en in Peter se kantoor (hy noem dit sy boomhuis), wat verlig word deur vierkantige venstertjies in die Afrika-styl en ’n landskapvenster wat uitkyk oor die lieflike takke van ’n ou eikehoutboom.

Uiteindelik loop die trappies uit in ’n skoon kreatiewe ruimte waar sy skilder en haar versameling Iranse en Turkse tapyte, oorgooidoeke en trourokke hou. Cynthia, voorheen ’n kunshoof, fokus nou op ’n nuwe loopbaan as ’n kunstenaar, en haar liefde vir magiese realisme het regdeur hulle huis ’n sterk teenwoordigheid.

Hoewel die groot opknappingswerk klaar is, is dié egpaar se huis duidelik ’n skilderdoek – en hulle werk saam daaraan om ’n meesterstuk daarvan te maak.

SO MAAK MENS

Haal die meeste uit sonkrag

Omgewings- en geldelike kwessies maak dit noodsaaklik dat huiseienaars versigtig werk met energie. VISI het gaan kers opsteek by Peter en Cynthia Tischhauser, wat sedert hulle twee jaar gelede hulle huis gerestoureer het, son-energie gebruik vir verhitting en beligting.

• Die nuwe trap in die huis eindig op die dak waar agt sonkragpanele die huis se water verhit en ’n paneel met fotovoltaïese selle die energie vir die ligte verskaf.

• Onder, in ’n vertrek wat uit die tuin loop, sorg ’n sonverhitte watertenk van 1 000 liter wat deur vier rekenaars aangedryf word, vir warm water in die kombuis en badkamers. Dis ook waar al die hitte vir die slaapkamers vandaan kom: Van hier af vertak ’n netwerk van ondervloerse warmwaterpype.

• 60% van die huis se ligte word deur die son opgewek, wat beteken Eskom se probleme raak hulle omtrent glad nie – hulle kan bloot nie TV kyk nie.

• Die laewatt-LED-ligte in die plafon is ingevoer uit die VSA en werk almal met sonkrag. In die kombuis is 12 van hulle saam gegroepeer en gooi 24 W lig oor die bereidingsgedeelte.