Toevlug met ‘n uitsig

FOTOS: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WORDS: Michelle Coburn


Werner en Philippa du Toit van Mud Studio het opnuut nesgeskop in ’n eiesoortige huis op ’n plaas in die Oos-Vrystaat: Hulle ruim gesinshuis was sowaar eens op ’n tyd ’n vervalle kerk.

’n Gedaanteverwisseling soos dié kan beswaarlik iets anders as ’n wonderwerk genoem word. Wat eens op ’n tyd ’n donker, verlate Katolieke sendingkerk was, is nou ’n rustige ooplanruimte vol lig – en die tuiste van Werner en Philippa du Toit en hulle twee jong dogters, Catherine en Ella Rose.

Dié suksesvolle egpaar is plaaslik én internasionaal bekend vir die handgemaakte keramiekware en kralekandelare wat hulle in die ateljee onder in hulle tuin maak, en hulle werk pryk in huise en winkels wêreldwyd – van Los Angeles tot Londen tot Milaan.

Werner en Philippa se ontwerpfilosofie – om eenvoudige stukke te maak wat tot die sintuie spreek – is ook dadelik sigbaar in die ontwerp en versiering van hulle huis. Werner, voorheen ’n grafiese ontwerper, beskryf dit as “eenvoudig en karig gemeubileer – en daar’s altyd ruimte vir verbetering!”. Hy beskou hom nie as iemand met ’n persoonlike styl nie en hou daarvan om ontwerp te benader deur te “voel, kyk, luister, proe… ek bou, breek af en herbou totdat dit net reg is vir al my sintuie”.

Volgens die Du Toits was die herbouing van die plek maklik en – met die uitsondering van ’n lek in die dak – sonder enige groot kopsere. Dit het Werner en ’n span bouers ses maande geneem en alles het volgens plan verloop: In Mei 2008 kon die gesin intrek, sonder enige vertragings.

Die vloerplan is behou soos dit oorspronklik in die kerk was. Dis eintlik steeds net een vertrek, met die drie mure van die kinders se kamers wat die leef- en eetvertrek van die ruim hoofslaapkamer skei – ’n slim en weldeurdagte afbakening van die openbare en private dele van die huis. Aan die een punt van die kerk het die altaarnis ’n kombuis geword, met ’n indrukwekkende kruis wat waghou. Dit loop uit op die groot eet- en leefgedeelte. Aan die ander kant van die huis, waar die gemeente die kerk binnegekom het, is ’n badkamer, terwyl die vertrek waar die jasse opgehang is, in ’n tweede badkamer verander is.

Die omliggende landelikheid

Die huis is sterk verbind tot die aarde en die omliggende landelikheid. Groot deure met glaspanele laat die oorvloedige Vrystaatse lig die vertrekke binnestroom, waar dit dan van verskillende oppervlakke, veral die glimmende vloer, weerkaats word. (Dis met wit padverf bedek, wat min onderhoud verg.) Nog ’n voordeel van die terrein is dat die son se heel laaste strale elke dag hier vasgevang word.

Drie elemente was die vertrekpunt vir die dekor: die swaar tiensitplek-eetkamertafel van hout wat Werner self gemaak het, die gesin se boeke en die Morsø-kaggel. (Volgens Werner is geen huis volledig sonder minstens een van dié kaggels en ’n Ngunivel nie.)

Die oop plafon dra verder by tot die lugtige gevoel, terwyl neutrale skakerings asook materiale en -afwerkings, waaronder afgevlakte sementmure en handgekerfde stoeltjies van Lesotho-sandsteen, sorg vir ’n gevoel van warmte en beheerste gerief. Maar dit alles word gekombineer met funksionaliteit, iets wat in dié landelike gesinsomgewing belangrik is. Hierdie aspekte word aangevul deur ’n versameling familie-erfstukke en van Mud Studio se eie skeppings, waaronder twee van hulle kralekandelare in die leefvertrek en die hoofslaapkamer. Al twee is by die Ralph Lauren-winkel in New York te koop.

Philippa, wat ’n suksesvolle bemagtigingsprojek in die nabygeleë Clocolan bedryf wat kleikrale verskaf aan interieurwinkels en lodges, waaronder Singita, sê haar gunstelingaspek van die huis is die ongelooflike uitsigte oor die plaas waar hulle die afgelope agt jaar woon – dit verander die heeltyd, by elke deur en elke venster. Werner hou weer van die badkamer omdat dit ’n bad met ’n uitsig het. Daar’s ook sementblaaie met vierkantige wasbakke wat handgemaak is met sandsteen uit Lesotho – die produk van ’n plaaslike werkskeppingsprojek.

Bemagtiging is belangrik vir die Du Toits, wat van die inwoners oplei vir elke beskikbare pos in hulle ateljee – hulle weet hoe hoog die werkloosheidsyfer in die gebied is.

Dié kreatiewe egpaar se benadering tot leef en werk is presies dieselfde: Dit gaan oor integriteit en eenvoud.

Die resultaat is ’n omgewing wat dien as ’n plek waar jy van die wêreld kan ontvlug. Maar terselfdertyd is dit ’n ruimte van waar hulle invloed nie net na die omliggende gemeenskap oorspoel nie, maar ook na diegene wat hulle unieke skeppings koop en daarmee saamleef.

• Mud Studio www.mudstudio.net, [email protected]

SO MAAK MENS

Skep ’n neutrale toevlugsoord

Huiseienaars vermy gewoonlik ’n neutrale palet en neem net aan dit gaan koud wees en baie onderhoud verg – én hulle dink dis nie eintlik gesinsvriendelik nie. Tog toon die Du Toits se huis ’n beperkte palet is een van die beste maniere om ’n stylvolle dog plat-op-die-aarde leefomgewing te skep. Soos Philippa sê: “Wit is die heel maklikste om skoon te hou omdat dit so maklik is om die vuiligheid raak te sien!”

• Kies funksionele materiale en afwerkings Die sementvloer het ’n hele paar lae duursame wit padverf gekry. Dit weerkaats natuurlike lig en sorg vir ’n helder gloed deur die hele huis. Leermeubels en hout is duursaam en sorg vir kontras, terwyl Persiese tapyte esteties goed werk as dit effens verweer is.

• Sorg vir warmte Kombineer ’n verskeidenheid van materiale, teksture en skakerings binne die beperkte palet. Dié mure is afgewerk met ’n kombinasie van sand en Gyproc se Rhinolite-gipspleister, wat sorg vir ’n afwerking waaraan ’n mens net wil vat, plus dan hout, natuurlike klei, linne en wol, wat help om vir ’n warm, knus gevoel.

• Maak dit visueel interessant Wit is die perfekte manier om ’n individuele styl te verkry. Die Du Toits kombineer meubel-erfstukke en Persiese tapyte met die massiewe hout-eetkamertafel wat Werner gemaak het. Rondom die tafel staan moderne wit stoele. Renosterkoppe van Perspex in die kombuis, ’n wit koeiskedel en sandsteenstoeltjies is interessante stukke waaroor mense praat en wat sorg vir diversiteit in die huis.