‘n Plek om te speel

FOTO’S: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


Dis nie alte dikwels dat ‘n mens die vryheid het om net te speel nie, maar dis presies wat Trevyn en Julian McGowan gekry het toe hulle ‘n ou plaashuis in die Klein-Karoo gerestoureer het.

Die naam Pear Tree het in Londen nie eintlik vir hulle iets beteken nie – dit was immers net ’n nou straatjie in die groot stad. Maar hier in Kruisrivier, waar die McGowangesin vir hulle ’n landelike toevlugsoord kom skep het, het die naam betekenis gekry.

“Voordat ons teruggekom het Suid- Afrika toe, het ons in Pear Tree Street gewoon,” verduidelik Trevyn McGowan. “Ironies genoeg was dit aan die buitewyke van ’n nywerheidsgebied waar daar nêrens ’n peerboom in sig was nie. Maar omdat ons daardie huis verkoop het, kon ons terugkom Suid-Afrika toe en uiteindelik ook dié plaas koop.”

Net buite Calitzdorp, uit die Wes-Kaap se befaamde Roete 62, draai ’n beskeie gruispaadjie af na Kruisrivier. Hier, weggesteek in ’n vrugbare vallei aan die voetheuwels van die Swartberg, kyk ’n mens uit oor ’n tapisserie van tabakplantasies en olyfboorde.

Die McGowans het die plaas van 77 ha twee jaar gelede bekom. “Toe ons die eerste keer die huis gesien het, het dit donker plafonne gehad – amper osbloedrooi – plus vlootblou mure en ’n hele rits klein vertrekkies,” sê Trevyn. “Maar ons het die potensiaal raakgesien.”

Die restourasie was vir hulle ’n organiese, spontane proses. Met die bouer Pieter Oosthuizen wat die fyn detail gehanteer het, het die McGowans intuïtiewe besluite geneem, net daar wanneer dit nodig was: Mure is platgeslaan om ruimtes oop te maak en beter vloei en meer natuurlike lig te bewerkstellig. “Elke besoek aan die plaas was ’n ontdekkingsreis,” sê Trevyn. “Maar ons is nooit teleurgestel nie.”

Die treffendste kenmerk van die huis is dat alles spierwit is: wit mure, ’n wit dak, wit vloer, wit binneruim, wit meubels. “Dit was nogal ’n taamlik lelike huis, en as jy begin om dinge soos die dak in ’n ander kleur te verf, dan lig jy daardie kenmerke net uit,” verduidelik Julian. “Wit is in der waarheid ’n logiese kleurkeuse. Dis uiters vergewensgesind en jy hoef jou nie te bekommer oor bypassende afwerkings soos houtvloere nie.”

Die McGowans het ook besluit om dít te gebruik wat tot hulle beskikking is, veral omdat die plaas so afgeleë is en dit taamlik moeilik was om materiaal en voorraad in die hande te kry. “Ons wou niks vermors nie, en dis nogal bevrydend,” sê Trevyn. “Jy leer om met sommige dinge saam te leef. Dit maak jou minder opgesmuk, wat ’n mens ongeloofl ik laat ontspan.”

Só het ’n ou vensterraam ’n nuwe lewe gekry as ’n boekrak; ’n koolstoof is met ’n laag wit verf in ’n spitsvondige sytafeltjie verander; vensters is elders in die huis hergebruik; en selfs die ou skuur en stalle is onderskeidelik in ’n gastehuis en ’n huis vir Trevyn se tante omskep.

’n Landelike eenvoud

Die meeste van die meubels in die huis is óf uit tweede- handswinkels – dit het net ’n laag wit verf en toebehore van Anthropologie gekry – óf dis stukke wat reeds aan die McGowans behoort óf wat hulle van Trevyn se ma geërf het. Omtrent niks is splinternuut gekoop nie en die dekor het ’n landelike eenvoud. ’n Kombinasie van volstruiseierligte, die gebruik van skaapvel, en kunswerke met plaasdiere daarop verleen aan die huis ’n pastorale gevoel.

Werke deur Hylton Nel, William Kentridge, Clinton Friedman, Hanneke Benade en Michael Haigh het elk ’n trotse plek teen die mure. “Van ons gunstelingstukke is hier, want dis hier waar ons die tyd het om dit te waardeer,” sê Trevyn.

Hoewel sy mal is oor die gesin se huis op Wildernis, voel Trevyn die see-omgewing kan nogal onstuimig en uitdagend wees. Hoewel dit ’n mens energie gee en fantasties is vir werk – en dus die ideale plek is vir die egpaar se maatskappy, Source – kom sy agter sy kan net in die Klein- Karoo waarlik ontspan.

“Ek is mal oor die hitte en hoe liefl ik stil alles hier kan wees. Die hitte versag alles,” sê sy. “Ons probeer om elke naweek en die meeste vakansies hierheen te kom. Daar’s niks beter as om op ’n Vrydagaand hier aan te kom, ’n bottel wyn oop te maak en te kyk hoe die maan oor die vallei opkom nie.”

Julian stem volmondig saam, en voeg by die lekkerste ding vir hom is dat hier nie telefone is nie. Hulle het doelbewus besluit om nie ’n telefoonlyn te laat installeer nie, en die selfoonontvangs is maar so-so. “Die kinders mag nie PSP’s of digitale speletjies saambring nie,” sê hy. “Ons moedig hulle aan om te verf en te speel en hulself besig te hou. Aanvanklik het hulle geprotesteer, maar nou is hulle dolgelukkig daaroor.”

Omdat die kinders – Zachary, Gabriel, Ruby en Jacob – die hele plaas tot hulle beskikking het, het hulle hier baie meer vryheid. “Hulle gaan af na die rivier of leisloot en hou resies met papierbootjies. Die seuns het gister gaan krappe vang – en selfs hulle vangs gaargemaak!” sê Trevyn, wat net mooi herinneringe het van die tye wat hulle op haar tante se plaas in Halfway House, Gauteng, deurgebring het.

“Ons wil nog boomhuise bou en werk saam aan die tuin.” Die ou plaasimplemente wat wit geverf en al met die tuinmuur langs gepak is, het ook ’n gesinsprojek geword – tans word dit afgewerk met Delft-geïnspireerde patrone.

Ná net ’n kort rukkie daar is dit duidelik dat Pear Tree Farm ’n ware toevlugsoord is, waar die kinders én ouers die ruimte het om hulle kreatiwiteit in die landelike hart van die Klein- Karoo uit te leef.

• Source: 044 877 0719, trevyn@source-sa.com, www.source-sa.com