FOTO’S: Jackie Meiring | WORDS: Jeremy Hansen
Met hulle strandhuis-ontwerpe herskep twee Suid-Afrikaanse argitekte in Nieu-Seeland die nostalgiese vakansiehuisgevoel van ’n tyd toe eenvoud en basiese vreugdes belangrik was.
Die bach – die Nieu-Seelanders se naam vir ’n eenvoudige, basiese strandhuis – was geslagte lank ’n kosbare deel van die volkstradisie, en vandag nog klou mense daaraan vas omdat dit ’n herinnering is aan die tyd toe dít die groot gelykmaker was tussen ryk en arm.
Die naam is afgelei van die Engelse woord “bachelor”, wat suggereer dat dit geskik is vir alleenlopers, maar tog het groot gesinne dikwels in somervakansies dié huise volgepak. Die afgelope dekade word ál meer stadshuise in vakansiedorpe gebou, met etlike badkamers en al wat moderne gerief is – en dan is die eienaars van dié paleise vermetel genoeg om dit ’n bach te noem!
Vir sommige is dit ’n skande dat dié romantiese term so deur die modder gesleep word, en nou begin talle mense – ook in ander dele van die wêreld – wonder: Wanneer is ’n bach nie meer ’n bach nie? Waar lê die perfekte balans tussen ’n té karige en ’n té oordadige vakansiehuis?
Die Aucklandse argitekte Lance en Nicola Herbst hou hulle met dié kwessie besig sedert hulle in die middel jare negentig uit Suid-Afrika na Nieu-Seeland geëmigreer het. Hoewel die egpaar ook kommersiële geboue en stadshuise ontwerp, het hulle bekendheid verwerf as die meesters van die volmaakte bach.
Die Herbsts het besluit om ’n bach te bou op Groot-Barrière-eiland, ’n vakansieplek sowat ’n uur per ligte vliegtuig uit Auckland, wat hulle in hulle eerste jaar in Nieu-Seeland besoek het. Dié eiland is glad nie naby die beroemde Groot-Barrièrerif nie – dis bloot die eerste eiland wat skepe uit die Ooste raakgeloop het wanneer hulle onderweg was na Auckland.
Eers net ‘n nederige huisie
Houthuise is skaars in Suid-Afrika, en daarom was Lance en Nicola dadelik gefassineer deur die hout-bachs wat hulle op Groot Barrièreeiland ontdek het. Kort daarna het hulle ’n lappie grond op die eiland gekoop, met die bach-bouvorm begin eksperimenteer en ’n nederige huisie gebou wat aanvanklik nie eens warm water gehad het nie.
Dié bach het in 2001 op die voorblad van ’n Nieu-Seelandse tydskrif verskyn en die aandag getrek van Nigel Timms, ’n Kiwi-boorling wat al 25 jaar in die VSA woon. Nigel (58), die eienaar van ’n suksesvolle handelsonderneming, het ’n behoefte gehad aan ’n vakansieplek met dieselfde gevoel as die somervakansies wat hy as kind geniet het in ’n baie basiese bach op Waikukustrand noord van Christchurch.
“Dit is dié deel van Nieu-Seeland waarna jy verlang wanneer jy oorsee woon,” sê Nigel. Dit moes ook ’n plek wees wat sy Amerikaanse kinders – onderskeidelik 16, 13 en pasgebore – op hulle eie kan geniet as hulle ouer is. Die foto’s van die Herbsts se bach het hom laat besluit om ’n erf op Groot Barrière-eiland te koop, en hy het vir Lance en Nicola gevra om vir hom ook ’n bach te ontwerp. “Ek soek iets eenvoudigs,” was sy opdrag aan hulle.
Die eindresultaat is ’n beskeie dog beeldskone bach – ’n 120 m2- tweeslaapkamerwoning net ’n entjie se stap van Kaitokestrand af. Soos al die ander huise op die eiland vorm dit nie deel van ’n elektrisiteitsnetwerk nie. Daar is ’n houtkaggel om die huis te verhit, ’n sonpaneel vir warm water, en die yskas en stoof werk met gas.
Soos alle opregte bachs staan dié vakansiehuis ook doelbewus in skerp kontras met die stadslewe: Die hoofleefruimte is ’n houtdek met ’n dak en skuifskerms vir ekstra beskerming; die gang wat die leefruimte met die slaapkamers verbind, is ’n oop “briestonnel” met nog skuifskerms; en daar is geen formele ingang nie – die Herbsts verkies die meer ontspanne manier om besoekers na die dek te lok van waar hulle dan die bach binnegaan.
Die oop gevoel van die dek-met-’n-dak word gebalanseer deur die klein binneleefruimte reg langs die kombuis. “Hierdie leefruimte moes intiem wees – ’n plek waar jy knus kan sit en kyk hoe die storms buite woed,” sê Lance.
Lance en Nicola het ook al die binnemeubels ontwerp. Hierdie is die sewende bach wat die Herbsts op die eiland ontwerp het, en elkeen van dié uitspanplekke het ’n eiesoortige bydrae tot hulle bach-ontwerp-oeuvre gelewer.
Elke keer van voor af
Hoe het hulle dit reggekry om nie in ’n ontwerpgroef te verval nie? “Ons begin elke keer reg van voor af,” sê Lance. “Dit is so maklik om in gemaklike stilistiese oplossings te verval, maar ons besef maar alte goed dat ’n mens opregte passie nodig het om elke nuwe projek suksesvol aan te pak.”
In hierdie geval moes Lance en Nicola boonop ’n ander, taamlik ongewone probleem die hoof bied: Die erf is taamlik beknop en het nie ’n onbelemmerde uitsig oor die oseaan nie. Hulle het besluit om die dek noord te laat front pleks daarvan dat ’n mens jou nek moet rek om die see te sien. Die dek kyk dus uit oor die reservaat met sy silwer en groen manukamirtbome en Mount Hobson, die hoogste punt op die eiland.
Die uitsigte wat jy van binne die huis af het, is ook fyn uitgewerk sodat dit lyk of die buurhuise heeltemal verdwyn het. En soos dit ’n behoorlike bach betaam, laat hierdie huis ’n mens ná skaars ’n paar minute voel asof dit regtig al is wat jy nodig het. Eenvoudig, nè?
Maar moet vir geen oomblik vergeet hoe die Herbsts moes sweet om die lieflike, diskrete detail van dié eenvoudige strukture te ontwerp nie. “Ons glo steeds in elegansie,” sê Lance. “Jy hoef nie jou sin vir die estetiese in die gedrang te bring nie.”
• Lance en Nicola Herbst: www.herbstarchitects.co.nz
• Hierdie bach is te huur – gaan na www.islandaccommodation.co.nz en soek onder die naam “Kopuha house”.