FOTO’S: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Nick Plewman
In Mpumalanga is ’n merkwaardige klipstruktuur met unieke proporsies as’t ware in die landskap ingebrand. Hoewel Coromandel nou op die rand van totale verval huiwer, sal dit altyd ’n pelgrimsplek bly vir argitektuurliefhebbers.
Lank gelede, op ’n ligte vliegtuig tussen Londolozi en Johannesburg, sit ek my en verwonder aan die honderde ronde klipkrale wat die gekreukelde groen landskap van die Mpumalanga-platorand versier, toe iets gans anders my aandag trek: ’n misterieuse klomp parallelle lyne en diep reghoekige skaduwees wat lyk of dit letterlik in die landskap ingebrand is.
Ek het onmiddellik besef dit moet Coromandel wees, ’n legendariese bousel in argitekskringe. Gewoonlik gebruik dosente ’n stokou foto of twee om vir studente te wys watter ikoniese stuk landskapsargitektuur dit is, maar verder is daar verrassend genoeg baie min bekend daaroor.
Ek het pas met my studie begin toe my ma my ’n Fairlady-artikel oor Coromandel in die hand stop wat deur ’n vriend van haar geskryf is – sy wou my daarmee inspireer. Op die foto’s wat by die artikel gebruik is, sien ’n mens digte rye klipstutmure wat verrys uit wat destyds as die Oos-Transvaalse heuwels bekend was.
Vandag, 25 jaar later, het ek steeds daardie knipsel, en ek besef wat daardie roerende gebaar van my ma vir my loopbaan beteken het. Dit was asof daardie stutmure die hoogste menslike strewe weer met die aarde verbind het, meer as enige ander gebou wat ek al aanskou het.
’n Leeftyd sou verbygaan voordat ek Coromandel uiteindelik kon binnestap. Ek het telkens daar probeer uitkom, maar elke keer het die plaasbestuur my verwilder… Toe die fotograaf Dook my dus bel en saamnooi, het ek die kans aangegryp.
’n Ingetoë plek
Coromandel is ’n ingetoë plek – met al die imposante nuwe ingange hier in die forelkontrei is dit maklik om die nederige bordjie en hek mis te ry. As jy wel afgedraai het, gee ’n imposante laning bome te kenne dat iets belangriks vorentoe wag.
Die hekhuisie lyk vaagweg Provensaals en het outentiek verouder, maar as ek nou daaraan terugdink, wonder ek of dit nie doelbewus ’n vals verwagting probeer skep sodat jou mond letterlik oopval wanneer jy om die beroemde draai op die smal oprit teen die heuwel kom nie. Dié gesig is voorwaar ’n argitektoniese meesterstuk.
Oor die jare het elke besoeker aan Coromandel sekerlik soos ’n karakter in ’n Rider Haggardavontuurroman gevoel wat op die punt is om ’n grootse ontdekking te maak, maar wanneer dit hier gebeur, laat dit jou wonder: Watter visie, en watter ysere wilskrag, het ’n swart muur van hierdie omvang uit ’n doodgewone Afrika-heuwel gesmee?
Die ontwerp is verstommend kompromisloos. Massiewe mure van gebeitelde klip wat in vier rye oor meer as 200m gerangskik is, strek al langs ’n enkelterras op ’n noordwessuidoos- as. Bo die mure is ’n dak wat met gras en selfs bome bedek is, asof die veld uit die aarde gedryf en toe tot ’n hoër vlak verhef is.
Muuropeninge word spaarsaam gebruik – selfs die voordeur is so weggesteek dat niemand jou sal verkwalik as jy dalk dink jy gaan die graftombe van ’n antieke koning binne nie. Bo die deur, uitgekap uit ’n blok klip wat groter is as die res, staan: “HIC TERMINUS HAERET, Marco Zanuso per Sydney Press MCMLXXV”.
Sydney Press was in die jare sewentig ’n kleurryke miljoenêr, in die dae toe dié titel nog iets beteken het. Hy het die Edgars-sakeryk – en daarmee saam sy persoonlike fortuin – opgebou. Hier, in die heuwels van die ou Oos- Transvaal, het hy ’n klomp plase gekoop en ’n uitgebreide boerdery gevorm.
Onkonvensionele argitek
As ’n mens die naam Marco Zanuso op Google intik, ontdek jy ’n Italiaanse argitek wat pleks van geboue eerder bekend was vir sy industriële ontwerpe en ’n magdom eenvoudige dog baie treffende meubels en huishoudelike toestelle.
Zanuso se geboue oes nie naastenby soveel lof in soos sy ander ontwerpe nie, hoewel ’n mens wel verwysings kry na fabrieke in Milaan en huise in Sardinië. Hy is in 1916 gebore en in 2001 oorlede. Sydney Press het sy hart verloor op die “lewende” strate, geboue en monumente van antieke Italië, en lank voordat hy van Zanuso gehoor het, glo besluit om ’n Italiaanse argitek te gebruik.
Die ongenaakbare son en eindelose ruimte het klaarblyklik die grootste indruk op Zanuso gemaak toe hy destyds in Afrika aangekom het, en daarom het hy die huis aan die een kant ontwerp as ’n huldeblyk aan die uitgestrekte landskap, en aan die ander kant as ’n skuiling teen die hitte en weerkaatsing.
Lewende straat
Die ander belangrike rolspeler in die storie van Coromandel is die landskapontwerper Patrick Watson. Hy is sekerlik in sy noppies om te sien hoe die landskappe wat hy destyds geskep het, behoorlik floreer en die gebou as ’t ware in die veld laat wortelskiet het. Ek wonder watter soort plek Coromandel in sy gloriejare was.
Ek is seker “die lewende straat” was deel van sy visie, maar nou, ná 20 jaar van verwaarlosing en sonder enige mens of meubelstuk, is dit moeilik om jou voor te stel dat mense van vlees en bloed eens op ’n tyd hier gelukkig was. Ek is eerder bewus van die koue hand van ’n onversetlike gees…
Die ontbyt-binnehof word amper totaal oorheers deur ’n lang spieëlpoel wat alles verdubbel en die hemel en aarde op speelse wyse een maak. Dit was dalk lekker om in die sprankelende weerkaatsing van die son hier ontbyt te geniet, maar soos die dag vorder, word die poel donkerder. Die weerkaatsing verdiep en begin binnetoe toe draai… dit breek ’n kloof diep in die aarde in, en as jy dit toelaat, ook in jou siel.
Noudat jy nie meer mense hier hoor lag nie, voel dit of jy ’n grafmonument besoek. Ek’s nie so seker of Coromandel ’n fantastiese wegbreekplek was nie, maar as ’n monument aan die ideaal dat die mens se soeke na onsterflikheid wel versoenbaar is met die oneindige geduld van Moeder Aarde, is Zanuso se onbekendste gebou dalk tog Suid-Afrika se voortreflikste stuk landskapargitektuur.
Meer inligting: http://coromandel.za.net