WOORDE Nechama Brodie
Henning Rasmuss en Anthony Orelowitz is mededirekteure van Paragon Architects. Hulle was deel van die ontwerpspan van die Kaapstad-stadion en ook die praktyk wat verantwoordelik was vir die Norton Rose Towers by Alicelaan 15 en die nuwe Alexander Forbes-gebou by Wesstraat 115 (dit verskyn in VISI 66 The Office). Nou het Henning sy oog op Afrika. Hy gesels met Nechama Brodie oor ’n paar van die landskappe wat sy loopbaan help vorm het.
Die 1970’s: Die laaste opbloei in die boubedryf
Henning het in Johannesburg grootgeword en as kind gereeld in Melville saam met sy pa op die bus geklim om “stad toe” te gaan.
“Ek het altyd na bouterreine gaan kyk terwyl my pa al sy take afgehandel het,” vertel Henning. “Hy het my teen ’n plankheining staangemaak met loergate op grootmens- en kinderhoogte en my vir ure daar gelos. Dit het ’n diep indruk op my gelaat. Ek het grootgeword terwyl Johannesburg se laaste opbloei in die boubedryf letterlik voor my oë afgespeel het.”
Henning onthou byvoorbeeld die voltooiing van die ou Standard Bank-gebou – ’n “hangende gebou” wat van bo af ondertoe gebou is – en die Carlton-sentrum.
“Wat my bybly, is die reuk,” sê hy, “die reuk van beton en sweiswerk. Die geluide en die reuke. Die omvang van die uitgrawings…”
Henning wou in ’n stadium by sy pa weet wat al dié mense doen. Sy pa het verduidelik die argitek is die enigste mens wat weet en verstaan wat elkeen op die bouterrein doen.
Die 1980’s: Gebroke geboue
Henning bieg hy was effens dronk die aand toe hy besluit het om argitektuur te studeer. Hy was besig met sy militêre diensplig en moes sy aansoekvorms vir universiteit voltooi en tussen regte en argitektuur kies.
“Ek het een van my vriende gevra watter kursus ek moet kies,” vertel hy. “Hy’t gesê jy is klaar so ’n groot etter, jy sal ’n verskriklike prokureur wees! So toe maak ek maar ’n merkie langs argitektuur.”
Volgens Henning het hy en ’n groep vriende, onder andere Thorsten Deckler van 26’10 Architects (wat ook in VISI 66 The Office verskyn), op universiteit begin om argitektuur te “eet, drink en slaap”. Sy studiejare het saamgeval met ’n ooglopende agteruitgang van Johannesburg se sentrale sakedistrik toe talle groot ondernemings die middestad verruil het vir Braamfontein, die ontluikende sakekern van Sandton en die voorstede.
“Ons was heeltemal te vinde vir die idee van gebroke geboue, ou nywerheidsgeboue, geboue wat ingeplof word – die gebroke aard van alles en die geraamtes van geboue… Dit was ’n regte 1980’s-ding,” sê hy oor die obsessie met struktuur en dekonstruksie, “soos om met fotokopieë en Letraset te werk”.
Die 1990’s: Herlewing
Henning sê as jong gegradueerde het almal gepraat oor Johannesburg wat dood is. “Dit het my verskriklik geïrriteer om ’n jong argitek te wees in ’n stad wat volgens almal sy laaste asem uitgeblaas het. Ek wou probeer verstaan hoekom.”
Ná 1994 het Henning kennis gemaak met “allerhande buitelandse argitekte wat baie geïnteresseerd was in Johannesburg”. Hy het hulle op stadstoere geneem en eers opgewonde geword oor die Goudstad se argitektuur nadat hy dié oorsese besoekers begin rondneem het.
Volgens Henning was dit die begin van ’n nuwe fase: Hy het die verband tussen maatskaplike geskiedenis en argitektuur gesnap.
“Ek het nog altyd baie in die geskiedenis belang gestel,” sê hy. “In die algemeen verstaan ek stede deur middel van die geskiedenis – elke periode, elke dekade, word gedefinieer deur die dinge wat toe gebeur het of die geboue wat tot stand gekom het.
“Toe ek in Berlyn gewoon het, het ek die geskiedenis van alles geken,” vertel hy. “Ek het my hele lewe in Johanesburg gewoon, maar toe besef ek ken net ’n baie klein deeltjie van die stad se storie.”
Op ’n wandeltog deur die oostelike middestad – die voormalige “kleredistrik” wat nou deur die Maboneng-distrik begrens word – het Henning ou nywerheidsargitektuur gesien wat weens apartheid vervalle was nadat die tekstielbedryf na die tuislande verskuif is. “Ek het gesien hoe die regering die stad gebreek het… ek het begin verstaan waarom sekere dele van ’n stad herlewe en ander ondergaan.”
Henning het heelwat tyd in Hillbrow, Bellevue, Yeoville en Observatory deurgebring en bewus geword van die sikliese aard van die Goudstad se stedelike migrasie, maar ook tekens van lewe gewaar in plekke wat deur talle ander afgeskryf is as dooie kolle. “Jy kon nog na Café Zurich [in Hillbrow] gaan,” ’n ikoniese koffie-en-kuierplek waar Henning se pa, ’n Duitse immigrant, in die 1950’s tyd deurgebring het, “maar nou was daar ’n totaal nuwe geslag immigrante wat van Afrika pleks van Europa kom.”
Oorgangsruimtes
In die 1990’s het Henning en Thorsten “op ’n reaktiewe manier begin werk”. Volgens hom het hy en Thorsten “hulleself na die Venesiese argitektuur-biënnale genooi, dronk geword en ’n voorlegging ingedien”.
Nadat hulle genooi is om ’n aanbieding te doen, het Henning besef hulle moet die storie van Johannesburg vertel. “Dit was nodig dat ons sekere goed moet weet om die storie ’n sekere houding en geur te gee.”
As gevolg hiervan het hy ’n “sterk mening ontwikkel oor net mooi alles wat met Johannesburg te doen het”, en dít het weer daartoe gelei dat hy, tesame met Thorsten, een van die gesogte stedelike denkers geword het as dit kom by die herontwaking van die stad. Die twee het deelgeneem aan talle tentoonstellings en publikasies wat fokus op Suid-Afrikaanse oorgangsruimtes, veral saam met Anne Graupner, wat nou Thorsten se sakevennoot en vrou is.
Volgens Henning het Thorsten en Anne “’n meer aktivistiese praktyk begin”, terwyl hy “meer hoofstroom” geword het. In 1997, ná ’n paar maande waarin hy in Hongkong gewerk het, het Henning saam met Anthony Orelowitz ’n projek van stapel gestuur wat uiteindelik Paragon Architects geword het.
Die gebou met die hyser
“Ons het maar soos almal anders begin,” sê Henning. “Ons het badkamers opgeknap en stoepe en kombuise gebou. Ons moes maar rondsoek vir werk.”
Nou, sê hy, is private huise die enige werk wat hulle nié sal aanvaar nie. “Ons het besluit om te fokus op groter ontwikkelaars en projekte waarmee ’n mens geld kan maak.”
Hulle eerste groot projek was die opknapping van die Peregrine Holdings-hoofkantoor in Sandton. Dit het onder meer die byvoeging van twee ekstra verdiepings behels, asook die uitgrawing van die terrein vir parkering en tuine.
In 2002 het Paragon sy “eerste gebou met ’n hyser”-projek gekry wat deel gevorm het van die ontwikkeling by Melrose Arch. Dié hyser is nou deel van die firma se geskiedenis: Henning verduidelik hulle het in daardie stadium geruime tyd reeds by die eiendomsontwikkelaar en -belegger Zenprop vlerk gesleep, en die direkteur het gesê hy sal dit oorweeg om vir Paragon werk te gee “wanneer ’n ander maatskappy ons vertrou om ’n gebou met ’n hyser te bou”.
Hulle het vir Zenprop gebel die dag toe hulle die Melrose Arch-projek gekry het, en het sedertdien so baie werk vir die maatskappy gedoen dat Paragon amper begin bekend staan het as Zenprop se eie argitekspraktyk. (Zenprop is ook die ontwikkelaar van die Norton Rose- en Alexander Forbes-gebou.)
Flink by die dak
Paragon was een van die vennote van ’n gesamentlike projek met POINT Architects & Urban Designers wat betrokke was by die oprigting van die Kaapstad-stadion in Groenpunt. Hulle het vanaf 2006 tot met die oorhandiging van die stadion aan die Stad Kaapstad in 2009 aan die projek gewerk.
“Vir my was dit een van daardie geleenthede wat net eenkeer oor jou pad kom,” sê Henning. “Ek het die deel van die projek gekies wat my die meeste geïnteresseer het: hoofsaaklik die dak. Die struktuur is tegnologies ongelooflik gevorderd. Dit behels meer as 9 000 stukke glasse waarvan net 6 800 dieselfde grootte is. Die dak moes ook kon lig en sak om in die wind uit te sit.”
Die stadion – en spesifiek die dak – het uiteindelik ’n hele aantal internasionale ontwerp- en konstruksietoekennings gewen, maar Henning het ’n groot prys daarvoor betaal: Hy het amper al sy kliënte in Johannesburg verloor omdat hy baie tyd in Kaaptad moes deurbring.
Die soeke na ’n globale praktyk
“Ek en Anthony het oor die jare ’n reeks ander ondernemings begin wat nou die Paragon Group vorm,” verduidelik Henning. Dit sluit in Hub Architects saam met Jean-Paul Zietsman, Paragon Interface Architects met Marilize van Dyk, Paragon Habitat Architects met Nadia Tromp, Aspire Architects met Rendani Netshilema, Paragon Arquitetura [in Brasilië] saam met Leticia de Andrade, en Paragon Architects South Africa met Thulani Sibande. “Dit is die verhaal van ons reis saam met verskillende vennote,” sê Henning.
Hy werk reeds meer as ’n dekade in Afrika en doen nou uitsluitlik ontwikkelingswerk op die vasteland. “Ons het besluit een van die vennote moet fokus op werk in Afrika, en nou is ons verteenwoordig in 11 verskillende lande en besig met projekte in ses van hierdie lande.
“Baie mense nader ons omdat hulle die soort geboue wil hê wat ons in Sandton oprig,” sê Henning. “Ons gaan nie na Ghana en ontwerp op ’n ander manier nie. Die verskille tree in die bouprosesse na vore en word eers later in die proses eg ‘plaaslike’ projekte.”
Een van sy projekte behels die oprigting van ’n brouery in Cabinda, Angola, waarvoor elke stuk ingevoer moes word – “selfs die skroewe, spykers en hamers”. “Ek hou daarvan om geboue op te rig op plekke wat groot logistieke uitdagings bied,” sê hy.
Volgens Henning word ’n groot deel van sy tyd in Afrika bestee aan die opbou van verhoudings. “Ons is nie besig met projekte in al 11 lande nie, maar ons probeer ons net so wyd as moontlik uitgooi. Ons weet nog nie eens waar die kolletjies is nie, maar ek probeer dit al klaar verbind!”
Henning sê hy “gebruik baie van sy tyd om deur vensters te staar”. Hy maak klein eenminuut-films waar hy ook al gaan: Hy skakel sy foon se kamera vir presies 60 sekondes aan en skep dan ’n massiewe visuele collage – van nagklubs, restaurante, bouterreine, selfs die kos wat hy eet. “Ek gebruik die video’s vir opdragte, en om goed aan te teken. Later keer ek daarna terug en kyk dit weer. Ek kyk hoe mense bou, ek bestudeer die pleisterwerk, die teëls…” Detail eerder as argitektuur is wat hom boei.
“Ons wil die beste kommersiële argitektuurpraktyk op die vasteland wees. Dit gaan ’n lang reis wees. Dis lankal nie meer geboue wat my opgewonde maak nie. Nou is ek besig om die onderneming te ontwerp.”
Koop die nuwe VISI 66 The Office om ons artikel oor die nuwe Alexander Forbes-gebou in Sandton te lees.