Botsel uit die bodem

FOTOS: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Lin Sampson


In die oeroue omgewing van die Wieg van die Mensdom, daar waar alles begin het, is die moderne argitektuur steeds besig om te ontwikkel op Monaghan Farm, die eerste agri-landgoed in Suid-Afrika.

Laat ek nou maar bieg: Monaghan het vir my geklink na louter hel, een vol banale argiteksontwerpte huise en ’n kliniese eksklusiwiteit. Maar die werklikheid is veel anders: Dis asof die geskiedenis van hierdie stuk aarde – en hier praat ons van miljoene en miljoene jare – die hele gebied deurdrenk. Hoewel dit nie in die Wieg van die Mensdom lê nie, is dit so na daaraan as wat enige ontwikkeling ooit sal kom. Dis ’n plek waar jy dalk nog ’n pyl uit die Steentydperk kan optel, ’n plek waar die ontdekkings nog maar net begin het. In die digte plantegroei op die rivieroewer kry ’n mens blouape, ystervarke en bokkies, en dalk, vir ’n oomblik, sien jy ’n hoephoep of rooikophoutkapper

Dís waar Prospero Bailey, kleinseun van die finansier en politikus sir Abe Bailey, grootgeword het. Prospero se pa, Jim, was ’n soort Henry Rider Haggard-karakter wat in die Tweede Wêreldoorlog ’n vegvlieënier was, die tydskrif Drum op die been gebring het en op hierdie grond geboer het. En hy het die grond bewerk met ’n goeie begrip van die maankrater-romanse, die prehistoriese verlede en die suiwer, eerlike skoonheid daarvan.

Nou is Prospero en sy Deense argitekvrou, Anna, besig om dié stuk plaasgrond van 520 ha in ’n ekolandgoed te ontwikkel. (“Skep” is dalk ’n beter woord, maar Prospero haat dit.) “Ek sien voor my geestesoog meenthuise wat opmekaar staan, met ’n naam soos Fisheagle’s Nest of Leopard’s Lair. Monaghan Farm is presies net wat dit sê: ’n plaas, een waarvan slegs 3% ooit bebou sal word. Die minste wat ’n 21ste eeuse ontwikkeling kan doen, is om ’n sterk omgewingsbewustheid te kweek.”

’n Mens gaan die gebied deur ’n plaasskuur binne – geen grandiose Palladiaanse hekke, geen argitektoniese geraas nie – net ’n gewone plaasskuur wat vreedsaam op die oog val, al skuil daar iewers ’n vaartbelynde veiligheidstelsel. Die draaie in die pad lyk asof ’n kind se hand daaragter sit, en al die oorspronklike plaasstrukture – watertrôe, pompe en ou skure – is behou. Hier is geen deftige fonteine, geen skugter cul-de-sacs en geen Gotiese naambordjies nie. Die horison lê ver, met die Magaliesberg aan die noordelike grens. En die ongerepte landskap se paaie word omsoom met bloekombome wat Jim Bailey nog aangeplant het.

“Toe die padskrapers hier inkom, kon ek omtrent hoor hoe my pa in sy graf omdraai, maar nou is alles weer rustig. Ek dink eerlikwaar my pa sou goedkeur wat ek hier gedoen het,” sê Prospero. Hy beskryf die grond, waar ’n trop Ngunibeeste vreedsaam die veld in staan en staar, as “farmy-farmy”. Elke huiseienaar kry elke dag ’n krat vol organies gekweekte groente en vrugte, en mense word aangemoedig om ’n boerderytjie te begin.

Ses argitekte, onder wie Philip Briel, is betrokke by Monaghan. Só verduidelik hy die intuïtiwe en organiese benadering tot sy ontwerp: “Aangesien hierdie ’n werkende plaas is, het ek navorsing gaan doen oor boerdery-argitektuur, met sy tradisie van staalskure. Ek het ’n bietjie by daardie estetika geleen en die I-balk as ’n linguistiese element ingespan om iets tot stand te bring wat ek ‘agri-modern’ noem,” sê hy.

Deel van die staalstruktuur is ook aan die buitekant van die huis te sien, niks word versteek nie en hout en sement word rou gebruik. Die klip, met die kleur van warm brood, is natuurlik en word uit die omgewing verkry, terwyl die sementstrook om die luike met ’n houtgreinpatroon spog.

Die isolering is omgewingsvriendelik

Die noordelike aansig van die huis is lig en oop, terwyl die suidekant soos ’n fort lyk. “Deel van die kliënt se opdrag,” sê Philip,” was dat elke kamer noord moet front. Hulle wou volop lig hê, en elke kamer moes oop wees na buite sodat ’n mens nie deur die huis hoef te stap om by die swembad uit te kom nie.” ’n Ongewone toevoegsel is ’n lang horisontale venster wat amper soos ’n steekwond in die klipmuur sny. “Ek wou horisontale fatsoene gebruik om die kimlyn te beklemtoon,” sê Philip. Die huis wat Philip ontwerp het, is geweldig ekovriendelik.

Die eienaar, Richard Bonatz, verduidelik: “Die erwe is 4 500 m2 groot en ons is mal daaroor dat die huis enkelverdieping is met enorme skuifdeure wat die binnekant met buite verbind. Ons het nie lugreëling nodig nie: Lae luggate met hoër vensters sorg vir goeie ventilasie; ons gebruik sonkrag; die isolering is omgewingsvriendelik; en reënwater word op die dak geberg en dan vir die vlei agter die huis gebruik. Ons het van ’n 200 m2-huis in Fourways waar ons R1 000 per maand vir elektrisiteit betaal het, getrek na ’n huis van 500 m2 waar ons R700 betaal.

Waarvan Richard die meeste hou, is die manier waarop die huis as ’t ware in die landskap hurk. “As ons soggens met ons bergfietse na die koppie toe ry, is dit asof daar nie ’n huis naby is nie. Dit voel of ’n mens in ongerepte Afrika is.”

Monaghan is die resultaat van Prospero se fyn estetika en afsku van die voorstedelike bestaan. “Dis nie lekker om jou kinders in die noorde van Johannesburg groot te maak nie. Hoewel die middestad nog oor die estetika van ’n wonderlik wilde pioniersdorp beskik, is die nuwe noorde gestroop van enige skoonheid.”

Philip vertel hoe hy die eerste keer by Monaghan betrokke geraak het. “Prospero het gesê ‘ek moet ’n huis bou’. Ons is plaas toe en ek het gesê ‘vat my na die varkhokke toe’. Ons het dit gerestoureer en hy woon nou nog daar – met ou dakkappe wat aan mekaar vasgespyker is, die pompgeboue netjies skoongemaak en alles saamgebind deur ommuurde tuine en klein swembaddens. Daar’s selfs ’n renoster in die tuin.”

Richard stem saam dis Prospero se betrokkenheid wat hom aangespoor het. “Ons weet die plek sal nie net nog ’n landgoed met oppervlakkige moderne argitektuur word nie. Prospero is uiters waaksaam en die riglyne streng.”

Die natuur verskaf ’n tesourus van dinge wat ’n mens hoor en sien. Dié verbintenis tussen die mens en die plek, tussen die mens en die omgewing, maak ’n mens emosioneel en fisiek sterk.

“Ek hoop Monaghan sal ’n al hoe meer eklektiese en vermaaklike klomp karakters lok, mense wat streef na ’n eenvoudige, eerlike bestaan,” sê Prospero. Dis ’n sentiment wat Richard deel: “As ’n mens in Johannesburg woon, is dit die enigste plek waar jy jou kinders in ’n skoon en gesonde omgewing kan grootmaak.”

• Monaghan Farm www.monaghanfarm.co.za

• Philip Briel Architecture & Interior Design www.philipbriel.com, info@philipbriel.com

• Julie Peatling Interior Design 011 468 5408, juliepeatling@mweb.co.za