FOTOS: Inge Prins | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqualine Myburgh Chemaly
Die grafiese ontwerper Olivier Schildt se sestigs-juweel in die noorde van Johannesburg is nie net ’n huis nie, maar ook ’n kunsskepping.
Enigiemand wat Tom Ford se regisseursdebuut, A Single Man, gesien het, moet sekerlik dink dis ook net een van die wêreld se voorste ontwerpgeeste wat so ’n elegante voorbeeld van sestigs-argitektuur kan opspoor vir dié tragiese fliek.
Met sy oog vir perfeksie en elegansie het Ford ’n hout-en-glashuis in die Skandinawiese styl gekies, een in Los Angeles met ’n geil tuin – die agtergrond waarteen die onberispelik gestileerde Colin Firth die ergste dag van sy lewe beleef. Enige retro-liefhebber sal swymel oor die huis. Is dit moonlik dat sulke argitektoniese perfeksie buite Stockholm kan bestaan?
Wel, ons dink ons het op ’n bietjie daarvan afgekom: hier, in Suid-Afrika. Boonop staan die huis op ’n koppie in die voorstand Robindale, tussen Linden en Randburg. Amper asof dit nie daar hoort nie.
Die eienaar, Olivier Schildt, was nog altyd mal oor die blinkgladde vorms van die Moderne era, maar het nooit kon droom dat hy eendag in so ’n huis sou bly nie. Drie jaar gelede was Olivier besig om ontwerpinspirasie in die koerante se eiendomsblaaie te soek om sy woonstel van 70 m2 in Craighall te restoureer toe hy afkom op Corneliaweg 1.
“Die oomblik toe ek deur die deur stap, het ek geweet ek gaan in dié huis woon,” onthou hy. “Ek was nog altyd gaande oor die Moderne boustyl. Dis so ’n interessante styl – die ontwerp van die gebou sê veel meer as die interieur.”
Olivier het ’n eiesoortige verhouding met sy huis en is liefderik besig met die uitdaging om dit te bewaar en seker te maak alles lyk net soos dit gelyk het in 1969, die jaar toe die huis gebou is.
Gelukkig is daar nog nie te veel met die huis gelol teen die tyd dat Olivier dit gekoop het nie. Die kombuis is die enigste deel waar van die vorige eienaars groot veranderinge aangebring het, maar dis ’n oopplanruimte wat gerieflik saamleef met die skoon lyne.
Buiten vir die skoonmaak van die brandstofkaggel en badkamers, wat voorheen effens afgeskeep is, is Olivier se prioriteit om die glimmende merantihout wat die boonste meter van die buitemure bedek, skoon te maak en in stand te hou – en dan die onderkant van die dakoorhang. Hy beplan om ’n bypassende houtvloer te lê waarop besoekers na die perfek outentieke voordeur kan stap, volledig met ronde viniel-inlegwerk.
Sirkels is deel van die huis se ontwerptaal
Sirkels is deel van die huis se ontwerptaal, en die sagte lyne word in die badkamers, die sitkamer se geronde nis én in die rondings van die buitemure herhaal.
Al die oorspronklike hortjiesvensters is nog daar, terwyl houtrakke en -verdelers aan die huis ’n outentieke sestigs-elegansie verleen.
Waaroor Olivier bitterlik spyt is, is dat hy nie kon vasstel wie die huis ontwerp het nie. Al het hy die planne by die stadsraad in die hande gekry, is die handtekening daarop nie duidelik nie. Olivier, wat in dié argitektoniese speurtog altyd op die spoor van iets of iemand is, glo dieselfde argitek het waarskynlik vier soortgelyke huise in die gebied ontwerp. As ’n mens in die buurt rondry, sien jy ’n hele paar sulke retro-huise met houtafwerkings, en die meeste van hulle is opgeknap om dit effens meer Modern te maak, met kontemporêre afwerkings.
Maar Olivier wil hou by die oorspronklike ontwerp en al die ou kenmerke behou. En hy wil baie graag weet presies wie agter die huis sit. “Wie ook al hierdie huis ontwerp het, het verstaan hoe die son in Afrika beweeg,” sê hy.
Die kombuis-eetkamer loop uit op ’n oostelike patio en as dit tyd is vir ontbyt, dan stroom die son daar in. Maar aan die noordelike kant kom die son deur die enorme vensters en deur die Plexiglas-dak oor die stoep, wat die huis op ’n natuurlike manier warm maak.
Die vensters is sonder tierlantyntjies, en snags verlig Olivier die tuin sodat die lowergroen broodbome en frangipani’s as ’t ware in die huis genooi word. “Dis wonderlik om die ritme van dag en nag te ervaar as ’n mens nie gordyne of blindings het nie,” sê hy. Die swembad, wat om ’n ronde plonspoel vou, skreeu behoorlik om ’n leikliprand – een van die projekte wat Olivier so gou as moontlik wil aanpak.
Uit ’n westelike gang loop drie slaapkamers wat ook na die noorde toe oopmaak met skuifdeure en, natuurlik, houtluike. Almal het lieflik bewaarde ingeboude kaste van weelderige hout.
In die badkamers wil Olivier ’n bietjie restourasiewerk doen en ’n paar outentieke retro-toebehore terugbring. Die hoofslaapkamer se en suite-badkamer het dieselfde gevoel as ’n Skandinawiese sauna, met hout en mosaïekteëls wat sorg vir warmte en Europese sofistikasie. Sy gevoel is dat dié badkamer agterna aangebou is, maar totdat Olivier agter die kap van Robindale se retro-byl kom, sal hy hom eenvoudig moet laat lei deur sy eie Moderne-instinkte.
• Olivier Schildt www.rexcreative.com, olivier@rexcreative.com

