FOTOS: Rolls-Royce | WOORDE: Alma Viviers
Ons leef in ’n tyd waarin ervarings byna net so lekker is soos besittings. die x-faktor in ’n rolls-royce is ’n goeie voorbeeld.
Dis ’n snerpend koue Vrydagoggend buite die Boundary-hotel in London se Shoreditchdistrik. ’n Vloot blinkgepoetste Rolls-Royces – drie modelle uit die Phantom- en een uit die Ghost-reeks – staan in ’n netjiese ry geparkeer.
Ek staan op die sypaadjie en verwonder my saam met die chauffeurs, die vroemôreafleweraars, die straatveërs en die pendelaars aan die petalje. ’n Lang, skraal man met wapperende jaspante hou op sy fiets langs my stil en vra effens huiwerig: “It is? Are they? Are they here for the Pope?”
Toe nie. Al is Pous Benedictus XVI tans in die Britse hoofstad, staan dié vloot en wag vir ons gelukkige lotjie joernaliste wat as deel van die 2010 BMW Eurostyle-toer gaan ervaar in watter weelde belangrike mense rondry.
Die fietstrapper maak dat hy wegkom. Wel, laat hy effens afgehaal oor sy skouer hoor, dis nie elke dag dat jy so iets in dié buurt sien nie.
Ek kies die Jubilee Silver Ghost vir my rit na die kusdorp Chichester in Wes-Sussex, tuiste van Rolls-Royce. Dis die jongste, kompakter model in die stal. Terwyl ons deur die ooste van Londen ry, sien ek hoe sterk dié weeldehandelsmerk is: Die heeltyd draai die koppe.
Oor al die prestige verwag ek om deur ’n ewe imposante fabriek begroet te word, en terwyl ons deur plattelandse dorpies en golwende groen heuwels kronkel, wonder ek wanneer ons dan nou die nywerheidsgebied gaan teëkom waar dié luukse motors uit die aanleg gestoot word. Ek moet erken, jy kon my met ’n veertjie omtik toe ons by ’n breë oprit inry tot by ’n binnehof wat aan drie kante begrens word deur ’n nederige tweeverdiepinggebou, met bome reg rondom.
“’n Plek van buitengewone skoonheid”
Die gebou is ontwerp deur die firma van die vermaarde Britse argitek sir Nicholas Grimshaw, wat veral bekend is vir die Eden Project in Cornwall. “Die terrein word beskou as ‘ ’n plek van buitengewone skoonheid’,” verduidelik Jolyon Brewis, besturende venoot by Grimshaw Architects. “Daarom was dit nodig om die landskap en die gebou een te maak.”
Die drie hoofgeboue – ’n paviljoen met kantore, ’n monteringsaanleg en oppervlaktegnologiesentrum – is deels versonke en word met ’n uitgestrekte plantedak bedek. Rolls- Royce het ook 400 000 nuwe bome en struike aangeplant, en die resultaat is ’n terrein met ’n groter biodiversiteit. Dis beslis nie iets wat ’n mens by ’n motorfabriek verwag nie.
Terwyl ons stap deur die gebou, wat in 2003 voltooi is, wys Jolyon vir ons die passiewe klimaatbeheermaatreëls soos vensterplasing, skadustrukture en verstelbare hortjies, wat die gebou nóg groener maak. Hy verduidelik Rolls- Royce wou ’n gebou oprig wat die handelsmerk weerspieël – onmiskenbaar Brits, ryk aan tradisies, maar tog vernuwend en presies.
’n Deursigtige glasboks, bekend as die Glass Mile, huisves die monteeraanleg en sorg dat enigiemand kan sien wat met die produksieproses aangaan. Die ruimte het dieselfde gevoel as ’n ateljee: Werkers het ’n visuele verbintenis met die buitewêreld, en die volop lig beteken hulle is nie so afhanklik van kunsmatige lig nie.
Nog iets wat my dadelik tref van die monteeraanleg, waar 15 vuurwaens elke dag uitrol, is hoe buitengewoon stil en skoon dit is, en hoe min masjiene daar is. Soos ’n geluidlose kinetiese beeldhouwerk beweeg die motorbakke op die monteerlyn, met werkers in oorjasse en handskoene wat hulle met die hand van die een kleur werkstasie na die volgende stoot.
Rolls-Royce se X-faktor
By die eindpunt sien jy ’n voorbeeld van die buitengewone vakmanskap waarvoor die handelsmerk so beroemd is: ’n Werker is besig om met spesiale kwassies van os- en eekhoringhaar die vyf meter lange aksentstreep om die kar te verf – elke perfekte streep neem drie uur om te verf en is presies 3 mm breed. Van daar af beweeg ons oor na die leer- en houtwerkwinkel, waar vakmanne en -vroue sorg vir die handgemaakte kenmerke wat standard kom met elke bestelling.
Volgens Andrew Ball, bestuurder: korporatiewe kommunikasie van Rolls-Royce, kry ’n mens nie meer regtig ’n standaard-Phantom nie – die meeste eienaars verkies om vir hulle motor verpersoonlikte drumpel- en vloerplate, fineerafwerkings, kontrasterende stikwerk, sitplekomboorsel en ’n verfkleur te kies. En dan praat ons nog nie van die yskaste, kluise en spesiaal gemaakte piekniekstelle nie.
In 2009 het dié pasmakery rekordvlakke bereik, toe 75% van alle Phantom-motors met een of ander vorm van spesiale element gebou is. In sommige markte, sê Andrew, word selfs die tyd wat jy vir ’n motor wag, as ’n statussimbool beskou. Kliënte maak die heeltyd klein verstellings aan hulle spesiale versoeke om te sorg dat die motor nie afgelewer word nie – en sodoende word dit net al hoe begeerliker.
Ná ’n oggendtoer deur ’n fabriek waar gewoonlik net kopers van Rolls-Royce hulle voete sit, klim ek terug in die Ghost, met ’n nuwe waardering vir die ontwerp en vervaardiging daarvan. Ek sal nooit so ’n kar besit nie, maar die ervaring van Rolls-Royce – daai X-faktor – is meer werd as enige bedrag geld.