Kom ry saam in die Mini E…

WOORDE: Alma Viviers


VISI se artikelskrywer, Alma Viviers, het as deel van die 2010 Eurostyle-toer na Londen ’n voorsmaak gekry van waarheen elektriese motors op pad is.

Kollegas wat al voorheen op ’n Eurostyle-toer was, het my gewaarsku: Jy gaan waarskynlik die kans kry om een van die jongste modelle te toetsbestuur. Daarom het ek voor my geestesoog gesien hoe ek soos ’n wafferse Formule 1-jaer voet in die hoek sit om ’n renbaan.

Maar toe ek hoor ek gaan Mini se volledig elektriese model – met ’n outomatiese ratkas en linkerhandstuur – op ’n bedrywige roete in die middestad van Londen bestuur, het my my moed my begewe. Ek het besluit om eerder navigator te speel vir Luis Ezcurra, ’n Spaanse motorjoernalis en voormalige renjaer.

Buiten die heldergeel prop is daar nie veel aan die buitekant van die Mini E wat verklap dat dit ’n elektriese kar is nie. Maar binne sit die battery die hele agtersitplek én nog die grootste deel van die bagasiebak vol.

Net om die motor aan te skakel is al ’n belewenis – dis só stil dat jy nooit weet of die enjin nou loop of nie. Selfs op die pad is die Mini E so stil soos ’n spook. Terwyl ons gery het, het ek gewonder of James Bond nie maar sy Aston Martin vir een van dié moet verruil nie – sy vyande sal nooit weet hy’s op pad om hulle te kom opskroef nie.

Die ander kenmerk wat ’n mens dadelik opval, is die slim regeneratiewe remstelsel: Die oomblik as jy jou voet van die versneller afhaal, begin die motor rem en die bewegingsenergie word gebruik om die battery te herlaai. Dit vat ’n tydjie om daaraan gewoond te raak, maar ek is seker daarvan as jy dit eers onder die knie het, gaan jy net in noodgevalle die rem trap.

Met al die verkeersknope en padwerke in die Londense middestad kon ons nooit eintlik vinniger as 20 myl per uur haal nie, maar toe Luis skielik van baan moes verwissel nadat ek die kluts effens kwytgeraak het met my navigeerwerk, het die Mini E se versnelling en ratse beweging my verras.

Met elektriese motors is mense altyd bang jy gaan staan sonder krag – en die twee wat die kar by my en Luis oorgeneem het, het dit eerstehands ervaar. Op Piccadilly Circus het die Mini in ’n see van karre sy laaste asem uitgeblaas.

Maar volgens BMW is dit juis waaroor dié toetsritte gaan. Mini het ’n wêreldwye toetsvloot van meer as 600 elektriese voertuie, en die doel daarvan is om te sien hoe gewone bestuurders die karre sou gebruik as dit in die mark beskikbaar was. Die Mini E is nog in die toetsfase, en soos BMW hieroor sê: Dit sorg vir waardevolle data sodat sy ingenieurs die voertuig kan verfyn en uiteindelik uitkom by ’n oplossing vir die lang termyn.

www.mini.co.uk/MINI_E/