FOTO’S: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Ronel Nel
Frank Lloyd Wright se organiese argitektuur was die inspirasie vir die gesinshuis wat F.C. en Joleen Buys in Pretoria gebou het, boonop grootliks met herwinde materiaal. Die resultaat is die ene skoon lyne.
Met die eggo van ’n visarend wat bo jou kop sweef en ’n glas koel pinot noir op die dek is dit moeilik om te glo jy sit slegs enkele kilometer van die N1-snelweg af. Of minute weg van die hoofstad se hart. Want hier is dit net bos en rooihartbeeste, asuurblou lug wat bo-op blink water rus, en die soel lyne van ’n huis wat ruim om sy eie asse staan.
Floris (F.C.) en Joleen Buys se huis naby die Roodeplaatdam, noordoos van Pretoria, is die verwesenliking van ’n droom wat ’n paar jaar gelede in Amerika ontstaan het. Dít is waar hulle Frank Lloyd Wright se Fallingwater-meesterstuk in Pennsilvanië en later ook sy unieke Martin House in Buffalo aanskou het.
Soos die Wright-meesterstuk is die Buys-huis ook ontwerp met die natuurlike omgewing in gedagte. Maar waar Wright baie op Japannese ontwerp gesteun het vir inspirasie, het Johan Els, Joleen se pa, wat ook die hoofargitek was, Afrika se eie ruimtes in sy agterkop gehou.
G’n niks Toskaans nie, dankie.
Organiese blyplek
Johan het die struktuur rondom die liniêre visuele asse ontwerp, en dit vorm die sentrale element van dié “organiese” huis. Uit enige plek in die huis is ’n fokuspunt sigbaar – van ’n venster wat ’n jong kokerboom perfek raam, ’n massiewe skildery, of die pizza-oond in die boma wat deur die kroegvenster sigbaar is.
Hierdie kontemporêre – selfs eg Suid-Afrikaanse – argitektoniese meesterstuk is boonop hoofsaaklik saamgestel uit herwinde boumateriale en tweedehandse meubels van aanlyn-uitverkopings.
Soos met Fallingwaters het Johan en die Buyse klip gebruik wat van hulle eie erf afkomstig is. Die anker van die huis is ’n 30 m lange klipmuur: Dié klip kom uit die fondamente van die aanbouing in 2008 by die NG gemeente Moreletapark.
“Ons het daardie muur vier keer afgebreek en oorgebou,” vertel hulle. “Om die klip op te lyn dat dit in en op mekaar pas en nie in die gewone Suid-Afrikaanse klipmuurstyl gemessel is nie, verg groot moeite, vermoë en geduld.” Sam Aphane was die uithouer-aanhouerbouer, en die Buyse het in ruil daarvoor vir hom ook ’n huis help bou in Kwamhlanga.
Die blokkies van die blink parketvloere kom uit ’n huis wat in 1954 gebou is, en die enorme papierligte in die voorportaal uit Hongkong.
Omtrent alles deur eBay of Gumtree
Joleen was ook die interieurargitek en beligtingsingenieur. “’n Mens hoef nie ’n fortuin uit te gee om besonderse, unieke dekor in die hande te kry nie. Hierdie ligte het byvoorbeeld maar R800 elk gekos, en vir ’n soortgelyke lig sou ons plaaslik amper R10 000 moes opdok. Omtrent alles wat jy hier sien, het ons op eBay of Gumtree gekoop, of by tweedehandswinkels.”
Beligting is duidelik Joleen se groot passie: Sy ontwerp ook haar eie ligreeks en net in die hoofslaapkamer is daar veertien skakelaars – F.C. het getel!
Die groot etenstafel in die kuiergedeelte is ’n middeldeurgesnyde asbeswaterpyp met ’n ronde blad van Supawood op ’n groot stuk spaanderbord.
Die ruim kombuis is kontemporêr met ’n werkblad van Marbelite en ingeboude nisse vir eetgerei. Omtrent die enigste item waarop hulle werklik baie bestee het, is die sesplaat-gasstoof en oond. Die kombuis is immers die hart van die huis…
Die lieflike ou Coke-yskassie in die kroeg (die soort wat bo nog ’n plek het vir ’n groot ysblik) dateer vroeg uit die vorige eeu en word tans gebruik om glase en bottels te bêre. En om alles te kroon is die kroegblad ’n mooi ou deurkosyn!
Integrasie met die omgewing
Integrasie met die omliggende natuurskoon het die kern van Johan se ontwerp gevorm. “Ons Afrikalug is eenvoudig te rojaal om te ignoreer in moderne Suid-Afrikaanse huise.” Die gevolg is ’n huis wat oop en lig is met hoë én lae vensters asook ’n uitsig van alle kante af om die binneplaas. F.C. het ’n soutlek buite aangebring, en diere soos koedoes, rooibokke en ystervarke kom gereeld op hulle erf kuier.
Selfs die kleinste detail getuig van die integrasie met die omgewing. Waar die vensterglas byvoorbeeld die klipmuur ontmoet, is geen metaalrame gebruik nie.
Tog bly dit ook ’n gesinswoning: Twee klein mannetjies woel die hele ruimte vol – oor leiklipteëls, keisteenvloere en houtplanke – maar ’n mens kan hulle met gemak van letterlik enige plek in die huis af dophou. Hulle is veilig, want daar’s ’n sandput waar hulle kan speel, en die lang swembad het ’n houtdek bo-oor wat kan afskuif.
Buite word dit ligskemer en die visarende begin dam toe sirkel. Die vuurketel is reg om gestook te word. Ook hier kom die herwinningstema sterk na vore: Die vuurbak is gemaak van die onderkant van ’n sandfilter uit ou Olimpiese swembad.
Hulle het 35% op boukoste bespaar deur te herwin, vertel F.C. En twee jaar en baie laataand-familiebeplanningsvergaderings later waar argitek-sus Liana ook haar insette gelewer het, is die Buys-huis langs die water reg. Heeltemal doodreg.
MEG-argitekte: 012 342 1221, johanels@megarch.co.za
Liana Claassen-argitekte: 083 501 4670, lcarchitects@lantic.net
Binnehuis-argitek Joleen Buys: 083 458 8704, buysjoleen@gmail.com
Pierre Badenhorst-ingenieurs: 012 346 1112, gideon@pbe.co.za
Outline-landskapargitekte: 083 264 0818, fourie@outlinela.co.za

