Timmer-truuk

FOTO’S: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Michelle Coburn


 

Agter een van die karaktervolle ou Victoriaanse kothuise in Oranjezicht, Kaapstad, skuil deesdae ’n verrassend kontemporêre aanbouing, maar jy sal dit nooit raai nie – tensy jy ingenooi word.

Moenie by die bure gaan klik nie, maar in hulle midde is ’n huis met ’n geheim: Hoewel die fasade pas by haar ouderdom en status – van die gietysterheining tot die brandskilderglasvensters – spog dié erfenishuis nou, ná ’n tweejaar-restourasieprojek, met ’n blinknuwe interieur – en ’n ekstra verdieping wat glad nie van die straat af sigbaar is nie.

Die eienaar, Martina Panzer Smith, wat hier woon saam met haar man en jong seun, sê hulle was eers van plan om in die ou tweeslaapkamer-kothuis in te trek en dan met verloop van tyd te besluit hoe om die restaourasieprojek aan te pak.

Maar die donker, beknopte interieur “met stokou geblomde muurpapier en toutjiesligskakelaars” was net te afgeleef. “Die huis het ’n studeerkamer, derde slaapkamer en ’n garage gekort, en ons wou die vloei tussen die vertrekke verbeter en die kombuis die hart van die huis maak.”

Dis hier waar ’n familievriend, die interieur argitek Jan-Heyn Vorster, in die prentjie kom. Hy het vantevore op dieselfde perseel gewerk en het geweet sy verkies iets tussen eenvoudige funksionaliteit, estetiese kwaliteite en uitstekende gehalte.

As dogter van die bekende Kaapse skrynwerker Franz Panzer was daar by Martina geen twyfel nie toe sy oor die hoofboumateriaal vir haar nuwe huis moes besluit. “Ek het van jongs af geleer om die natuurlike warmte, tekstuur en karakter van hout te waardeer en wou my met soveel as moontlik daarvan omring.”

Los elemente

Nadat die vereistes van die Nasionale Erfenisraad nagekom is en Franz aangewys is om die hout te kies en verskaf, het hulle besluit om die voorste gedeelte van die huis oop te maak deur die skeidsmure plat te slaan en “los elemente” te skep, soos Jan-Heyn dit noem. Dié elemente, wat ’n muur insluit met ’n kontemporêre kaggel, baken die leef-, sit- en eetruimte af, maar sonder dat dit aparte vertrekke word.

Die oorspronklike houtvloere was ongelukkig te dun ná jare van afskuur en kon gevolglik nie gered word nie, maar die span het nietemin probeer om soveel as moontlik van dié hout te gebruik om ’n basis te vorm vir die nuwe vloer van soliede eikehout, wat liggies met olie behandel is.

“Topgehalte hardehout soos die Amerikaanse instandhouding nie,” sê Franz. “Deur eenvoudig die hout te olie en net so te los kan jy die plesier ervaar om te sien hoe dit natuurlik verouder. Boonop het jy die gemoedsrus dat dit basies vir ewig sal hou. Moet nooit ’n hoëglans-afwerking kies nie, tensy jy ’n peloton skoonmakers het wat die vloer kan skoonhou en politoer, want elke skrapie en stowwerigheid sal soos ’n seer duim uitstaan.”

Een van die doelwitte van die restourasieprojek was om ’n duidelike onderskeid te tref tussen die tradisionele vorm van die spitsdakkothuis en die nuwe aanbouing oor twee vlakke aan die agterkant.

Hiervoor is ’n staalraam – ’n duidelik sigbare ontwerpelement in hierdie gedeelte – geïnstalleer, asook ’n beton-“voetstuk” waarop die houtboks met ’n ry bobeukvensters (“clerestory windows”) geheg is. “Die erf én die vereistes van die erfeniskomitee was taamlik knap, en daarom was hierdie die beste oplossing om aan al die gesin se leefbehoeftes te voldoen,” sê Jan-Heyn.

Hout en beton

Op die onderste verdieping van die nuwe aanbouing is die fokus beslis die groot kombuis wat deur enorme glasstapeldeure uitloop op ’n veelvlakkige houtdek van Basiliaanse okkerneuthout, ook bekend as ipê. Die opvallendste kenmerk in hierdie gedeelte is die sigbetonplafon wat met ’n duidelike houtgrein spog. Die beton is oor Noorse sparden gegiet om dié hout se natuurlike eienskappe en goudrooi gloed aan te neem. Die eindresultaat komplementeer die wit lakvernis-kombuiseiland en vlekvryestaal-werkoppervlakke, en help ook om die nuwe deel van die oorspronklike huis te onderskei.

Pleks daarvan om die sigbetonhout weg te gooi is dit in kolomme gesny en as strukturele stukke vir die houtboks op die boonste vlak ingespan. Dié vlak huisves twee slaapkamers, wat die ligdeurdrenkte hoofslaapkamer en badkamer insluit. Hier sorg ’n groot komvenster en glaswerk van die vloer tot die plafon dat die ruimte een is met die lug en die uitsig op Tafelberg. Die skuifhortjies van reuselewensboomhout, wat met verloop van tyd silwergrys sal verweer om by die dek onder te pas, kan verstel word vir ekstra privaatheid en klimaatbeheer.

Deur die bobeukvensters bo die trapportaal en in die kleiner slaapkamer oorkant die gang kan ’n mens stukkies van Leeukop en die skerp spits van die oorspronklike dak sien. Om uit hierdie nuwe hoek na die oue te kyk gee ’n mens die gevoel dat die gerestoureerde matriarg nou die beste van twee wêrelde geniet. Vandat sy haar stille herlewing toevertrou het aan die mense wat haar die beste ken, is sy vry om met grasie die patina van ’n nuwe era te omhels.  

Meyer + Vorster-argitekte: 021 461 5514, www.meyervorster.co.za

Berrisford Construction: 021 448 1659, berrisfordconstruction.com

Still The Bathroom Gallery: 021 421 9970, www.stillbathrooms.co.za

Versfeld Custom Furniture: 021 448 4418, versfeld@customfurniture.co.za