Ongetemde oase

FOTOS: Leana Cluines-Ross | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly


Die modeontwerper Clive Rundle moes 15 jaar intensief werskaf om dié op die oog af verwaarloosde Victoriaanse tuin in Kensington, Johannesburg, tot stand te bring.

Clive Rundle was nog nooit iemand wat die mode slaafs navolg nie. Sy vertonings, altyd die skouspel aan die einde van die Suid- Afrikaanse Modeweek, is ’n boeiende storie – glad nie oor trends nie, maar oor wat in die ontwerper se kop aangaan.

Sy mees onlangse herfs-winter-2010-versameling was ’n dekonstruksie van die klassieke wit katoenmanshemp – dis met die gebruik van kilometers swart tulle in ’n aandrok herskep. Die naam van die vertoning was “A Lesbian Wedding”.

Clive, wat deur baie mense as die intellektueel se ontwerper beskou word, het ’n enorme klomp aanhangers, juis oor sy onvoorspelbaarheid. Vroue wat ’n draai maak in sy splinternuwe winkel in The Firs in Rosebank, Johannesburg, wéét ’n Clive Rundle-ontwerp sal soos geen ander wees nie.

Toe hy sy deurmekaar groen oase op Kensington se heuwels gemaak het, het Clive dus geen ander idees as dié in sy eie kop gevolg nie. “Dink daaraan as ’n verlate Victoriaanse tuin wat ’n nuwe eienaar kry, en dié probeer ’n Japannese gevoel inbring,” is hoe hy dit beskryf.

My eerste ervaring van die tuin was ’n MMS op my selfoon met beeldskone foto’s sonder woorde daarby: ’n elegante maanblom bedags en in die aandlig; ’n kersiebloeisel, liefl ik in volle blom; ’n geroeste tafel langs ’n kristalhelder fontein.

Op hulle eie het die foto’s my dronkgeslaan. Wat op aarde probeer Clive sê? Eers toe ek die skepping in sy volle glorie sien, het ek die boodskap verstaan. Dis eenvoudig: Hierdie is sy kosbaarste skepping, en sy passie is om die poësie daarvan met ander te deel.

Moenie ’n fout maak nie: Dis nie ’n klassieke tuin nie. Met die eerste oogopslag lyk dit soos ’n deurmekaar versameling oorgroeide terrasse waar niks ooit gehark of gevee, gesnoei of skoongemaak word nie. Dis omdat Clive ’n obsessie het dat die tuin uitgelos moet word: “Hier mag niks gesny word nie – die enigste plante wat ooit gesnoei word, is die rose,” sê hy.

Maar dis waar die oënskynlike verwaarlosing eindig. Clive ken elke enkele plant in sy tuin, elke klip, elke waterfokuspunt en elke sitplek. Dis onder die liefl ike groen kombers wat sy huis omvou waar hy elke minuut deurbring as hy hier is.

Die warmte en patina van dié karaktervolle huis en tuin belig die ironie van so baie Suid-Afrikaners se estetiese uitkyk: Ons hou vakansie in Provence en Toskane en kan nie uitgepraat raak oor die magic en sjarme van die eeue oue ongemanikuurde villas en tuine nie, maar dan kom ons terug en skep perfekte ruimtes binne en buite deur bo-oor die krake te verf en die onkruid uit te trek – en uiteindelik bly daar geen magic oor nie.

Vorm van Japannese Victoriana

Dit het Clive egter 15 jaar geneem om sy vorm van Japannese Victoriana tot stand te bring. Toe hy en sy lewensmaat, wyle Colin Kaufmann, by die ou huis ingetrek het, het die tuin ’n klassieke ontwerp gehad met grasbedekte terrasse en randakkers vol blomme. Dit het hom ses maande geneem om die tuin ’n nuwe struktuur te gee en die terrasse te bou wat nou die fondament van sy digte, ingewikkelde uitleg vorm. Hy het ook ’n uitgebreide netwerk van waterfokuspunte en dammetjies bedink wat elke duim van die tuin verbind.

Die eerste paar jaar was moeilik. Die ontwerper sê hy het meer oor ingenieurswese en modderstortings geleer as oor enigiets anders. Daar’s skaars ’n sentimeter grasperk; ’n geheime reeks paadjies, dammetjies en sitplekke verbind ’n digte, wonderlike woud van bome en struike.

Sy algemene tuinfi losofi e is om te kyk hoe die plante groei en aan niks te raak nie – selfs al val dit dood op die grond. Dié effek van verwaarlosing vereis in der waarheid daaglikse werk. Die plantwerk is lukraak, met boskasies en individuele plante wat dit laat lyk of voëls sommer net saadjies daar laat val het. En wanneer hy ’n klein wonderwerk ontdek – soos ’n impatiens wat homself saai en ’n laventeltapyt laat ooprol – los hy dit en moedig die plant aan om oor te neem.

Twee jaar gelede het hy op ’n intensiewe skaal met massaaanplantings begin, en vandag staan daar 100 kersiebome wat blom, 45 houtappels en ’n ontelbare klomp drolpere. Die enorme adamsnaalde was daar toe Clive begin het.

Hy het op ’n sikliese manier geplant sodat daar enige tyd ’n massa-aanplanting is wat asemrowend lyk. Selfs ná die dramatiese kersiebloeisels sal die eerste wind pienk blomblaartjies oor die ganse tuinvloer strooi, iets wat op sigself ’n skouspel is.

Niks groei hier heeljaar nie, en in die winter is die massas kaal takke iets om te aanskou. Dis die enigste tyd dat die tuin oorspoel word met sonlig en die grafiese ontwerp sigbaar is.

Elke duim van die tuin vertel ’n boeiende verhaal. ’n Planthuis in die slonsig-sjiek styl rond die Victoriaanse effek af en ’n versonke ou bad het koue én warm lopende water vir wanneer die eienaar wil een word met die natuur. Staal, veral ou geroeste meubels, fassineer hom en die tuin is besaai met stoele en chaises longue in die Victoriaanse styl.

Die ontwerper se volgende projek is om ’n buitenshuise eetplek onder sy liefl ike roosprieel te skep. Hy weet nog nie mooi waar hy die tafelblad gaan kry wat hy soek nie, maar soos met alles wat hy aanpak, is Clive nie haastig nie. Hy weet hy sal dit vind wanneer die tyd ryp is.

• Clive Rundle 011 880 3839, www.cliverundle.co.za