Goeie gety

FOTOS Greg Cox PRODUKSIE Etienne Hanekom WOORDE Alma Viviers


Read in English.

Die Ebb Tide-woonstelle in Kampsbaai is nie net ‘n luukse seeparadys nie; dis ook die vervulling van ‘n droom vir die eienaar-ontwikkelaar, David Higginson.

“Ek gaan jou na ’n plek toe vat wat jou lewe sal verander, het my vriend Paul gesê terwyl ons op Birmingham se lughawe gesit het,” onthou David Higginson. Dit was 1989 en hulle was op pad Suid-Afrika toe om beleggingsmoontlikhede te ondersoek. Wat ’n week lange sakereis sou wees, het uiteindelik ’n vakansie van drie weke geword – en teen die einde daarvan was David se lewe inderdaad totaal anders.

“Ek het baie gereis: Ek het in Bermuda en New York gewoon en baie tyd in Europa deurgebring. Maar daar was dit… die berg, die see, die kosmopolitiese stad… alles wat ek nog altyd wou hê,” mymer hy.

Ná daardie eerste reis was David elke jaar terug vir ’n pelgrimstog – om van die yskoue winters te ontsnap, maar ook van die veeleisende taak om ’n hele paar kroeë te bedryf. David het sy sakebelange in Brittanje verkoop en ’n sabbatsverlof van ses maande in Kaapstad geneem. “Daarna is ek vir ’n maand terug Londen toe, maar ek het geweet ek kan nie die lewenstyl handhaaf wat ek in die Moederstad gehad het nie – dit was net onvervangbaar.” Dis toe dat David opgepak en vir altyd koers gekies het Kaapstad toe: “Toe ek eers my golden retriever bring, het ek geweet dis nie ’n korttermynstorie nie.”

Dis egter nie net Suid-Afrika wat David se hart gesteel het nie, maar ook ’n Suid-Afrikaanse vrou. Hy en Loryn is nou drie jaar getroud en saam met hulle tweejarige seun, Oliver, leef hulle David se kinderdroom uit om langs die see te bly. “As ’n kind wat in die Britse nywerheidsdorp Nottingham grootgeword het, was ek gewoond aan net een seevakansie per jaar, meestal by Devon of Cornwall,” onthou hy. “Vanoggend was ek al om 06:15 op die strand saam met Oliver en die honde – dis ongeloofl ik kosbaar.”

As ’n gesoute hotelier en restaurateur maak David deesdae staat op sy uitgebreide ervaring in die sakewêreld en gasvryheidsbedryf: Hy ontwikkel en belê in vakansie-huurplekke – en gee sodoende ook ander mense die geleentheid om die stukkie paradys van sy tuiste te ervaar. Hy besit ’n hele paar vakansiewoonstelle in Kampsbaai en Caledon, en die luukse Ebb Tide-eenhede is die jongste toevoeging tot sy portefeulje. Dié is geleë op die grens tussen Kampsbaai en Bakoven en kyk uit oor die ongeloofl ike Barleybaai – die resultaat van byna nege jaar se beplanning.

David het die eiendom, ’n vervalle ou huis, in 2000 gekoop met die oog daarop om dit as vier vakansiewoonstelle te ontwikkel. Weens uitgerekte onderhandelings met die bure en stadsraad moes sy planne ’n hele paar jaar wag. Maar sy deursettingsvermoë het vrugte afgewerp, en in 2003 is die argitek Greg Wright gevra om vier hiperluukse kontemporêre woonstelle te ontwerp. Die piepklein terrein en voorskriftelike beperkings was ’n uitdaging, maar Greg het met ’n samehangende gebou vorendag gekom met vier afsonderlike woonstelle, elkeen met sy eie kenmerkende uitleg.

“Ons het hard gewerk om ’n middeweg te vind wat diskreet genoeg vir die bure sou wees, maar tog ook skulptureel opwindend sodat die ontwikkeling ’n sterk teenwoordigheid in die straat sal hê,” verduidelik Greg.

Die interieur van elke woonstel is ontwerp om die meeste van die uitsig te maak en soveel as moontlik sonlig te kry. Die resultaat is ’n oop, deursigtige rangskikking van ruimtes waar die grense tussen binne en buite verdwyn.

’n Koel, eenvoudige palet van afwerkings en die fynste aandag aan selfs die kleinste detail sorg vir ’n algehele gevoel van harmonie en eenheid. “Op daardie gebied is ons effens kompulsief,” erken Greg. “Niks word aan die toeval oorgelaat nie; alles word lank vooruit deeglik deurdink en geantisipeer.” Die hoogte van die ingevoerde Viking-yskas het byvoorbeeld die plasing van die kombuiskaste bepaal – sodat al die elemente ’n geheel vorm. Plate Griekse Volakas-marmer is ingevoer en tot die regte grootte gesny sodat daar geen onooglike lasplekke is nie. Greg glo die gevoel wat iemand in ’n spesifi eke leefruimte kry, is die somtotaal van die aandag aan detail tydens die ontwerpproses – ’n proses wat uiteindelik bo die fi sieke uitstyg en meer oor emosies begin gaan.

By Ebb Tide kan besoekers die leefstyl ervaar wat David laat besluit het om in Kampsbaai te kom woon – en, in die woorde van Waldo Emerson, “in die sonskyn leef, die see vol swem; die wilde lug se heilsaamheid indrink”.

Vir huur- en koopnavrae oor Ebb Tide, kontak Audrey Matthews van Ronnie Matthews Estates by 083 254 4477 of audrey@ronniematthews.co.za.

Greg Wright Architects 021 465 9775, www.gwarchitects.co.za

Eers gepubliseer in VISI 51. Sien meer van ons gunsteling strandhuise hier en koop die Endless Summer uitgawe van VISI vir die volkome strandhuis versameling.