Die gazebo wat kan toemaak

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Johan van Zyl


Leon Barnard se praktyk werk tans aan Windhoek se hoogste (en heel eerste groen) wolkekrabber, maar vir homself het hy ‘n “dood-gewone, basiese skuur met slaap-kamers aan die punte” gebou. Almal wat daar kom, kry lus om dieselfde dag no in te trek!

Leon Barnard is water-, skadu- en binnehof-bedonnerd, net soos die Sri Lankaanse argitek Geoffrey Bawa by wie se werk hy aanklank vind. (Hy’s toevallig ook onder die sterreteken van die Vis gebore.) Tog, as jy sy fi ksasie met water volkóme wil verstaan, hoef jy net op ’n oondwarm dag deur die middestad se strate te drentel en dan ’n draai te maak by The Village, die stedelike vernuwingsprojek wat ons in die vorige uitgawe van VISI gewys het.

In hierdie kleindorpse netwerk van eens vervalle geboue wat met paadjies, binnehowe en waterfokuspunte verbind is, lyk en voel die Namibiese hoofstad minstens 10 °C koeler.

Dis dieselfde storie met Leon se eie huis aan die rand van dié ontwikkeling. By die ingang van sy lawende groen oase op straatvlak lei houttrappe jou ondertoe tot by ’n groot koidam wat jy moet oorsteek om die skuurstruktuur met fasades wat heeltemal kan oopmaak, binne te gaan. Aan die ander kant, regoor die visdam, is die swembad, en as jy jou luilekker soos ’n Lotto-wenner op die ou barbierstoel tussen dié twee waterbronne bevind, vergeet jy gou dis 36 °C buite. Leon het ook die bestaande plantegroei behou en aangevul met grootliks inheemse, droogtebestande plante soos koorsbome, kameeldorings, soetdorings en apiesdorings wat broodnodige skaduwee verskaf. Aan die voorkant is enkele vye-, olyf- en sitrusbome geplant, asook ’n kruietuin waaruit jy kan pluk deur bloot die kombuisvenster oop te skuif.

Dis nie ’n tradisionele vrystaande huis nie, sê Leon. “Dis deur my eie engel Gabriël, Gabriël Theophilus, binne die konteks van The Village gebou as ’n erkenning aan die plaaslike boustyl, plantegroei, geologie en die uitsig, maar met ’n kontemporêre gevoel.”

Baie van die klimaat- en energiebeheerbeginsels wat in The Village gebruik is, word ook in sy eie huis en die nuwe wolkekrabber (die Namibiese hoofkantoor van Ou Mutual, Nedbank en Mutual & Federal) toegepas. Die huis front noord sodat die son in die somer as ’t ware bo-oor loop (dit laat ook die uitsig tot sy reg kom); die plafon is hemelhoog; die sinkdak is spierwit geverf om sonlig te weerkaats; tussen die dak en plafon is ’n ekstradik laag polistireen; en die kruisventilasie is so goed as wat dit kan wees. Al wat nog kort, is ’n seilskerm aan die agterkant wat in die somer uitgevou kan word om die stoep met sy liefl ike kameeldoringboom en enorme vuurbak uit Indië koeler te hou. In die winter sal die skerm weer heeltemal weggevou word om die maksimum hoeveelheid sonlig in te laat. Die sonpanele op die dak sorg heeljaar vir warm water en in Windhoek se kort maar soms snerpend koue winters ook vir ondervloerse verhitting.

“Die stad het my half met ’n slap riem gevang,” vertel Leon die volgende aand oor ’n glas wyn. “Ek het die eerste keer hier kom vakansie hou die laaste keer toe dit in Windhoek gereën het…” Hy grinnik. “Maar as jy eers hier is, leer jy baie gou hoe kosbaar water is. Daarom word reën in Namibië gevíér. Dis ’n happening. Kinders trek hulle klere uit en dans kaal buite.”

Die grootste uitdaging, sê hy, was om met die steil helling te werk wat aan die onderpunt tot by die buurhuise se agterplase gestrek het. Om dié en veiligheidsredes het hy groot keermure van klip gebou en só ’n bruikbare platform geskep vir die huis en tuin. Hy noem dié lieflike korfskansmure (of “gabions”) “eenvoudige, aardse tegnologie” nwat duur ingenieurswerk uitskakel.

“Daar’s ligte beweging in die mure, die water kan deurloop, die plante kry kans om te groei, en dis omtrent 60% goedkoper in ’n plek soos Windhoek waar klip in oorvloed is. Dis ook die perfekte manier om van bourommel ontslae te raak.”

Selfs ’n tweede glas wyn kan Leon nie in die luim kry vir uitgepofte praatjies oor argitektuur nie. “Ag nee wat, vele argitektuur wat fantasties en slim lyk op papier, is eintlik maar selfwaan. Hier waar ek werk, is ’n mens te alle tye bewus van mense wat nié het nie. Om uiteindelik die begroting, die bouterrein, die boukontrakteur en die politiek te bestuur het meer te doen met mensekennis en pragmatisme as met slimmighede.

“Ondanks al die wonderlike voordele van die stad, leer ’n mens in Windhoek improviseer omdat so baie goed eenvoudig nie hier te koop nis nie. Jy gaan gevolglik baie slimmer om met die goed wat jy reeds het – ek gebruik soms klip in ’n ontwerp omdat hier eerstens baie klip is en omdat ek weet die ou wat fantasties met klip kan werk, sit werkloos.”

Eers twee weke later in Kaapstad spring agt sinne op uit die notaboek, agt sinne wat elkeen begin met “Ek glo”. Só, stilletjies, het dié Suid-Afrikaner van geboorte en oudstudent van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit tóg sy argitektoniese manifes op die tafel gesit.

Ons noem dit Leon Barnard se agt argiteksgebooie:

• Ek glo 100% in die integrasie van binne en buite. My huis is eintlik maar ’n gazebo wat kan toemaak.

• Ek glo in minimalisme en ek’s nie vreeslik lief vir kleur nie. Eenvoud is tydloos.

• Ek glo in one-space living. Ek wil nooit weer in ’n plek met ’n klomp kleiner vertrekke, elkeen met ’n spesifi eke funksie, woon nie. Dit beperk jou. Dit hou jou vas.

• Ek glo ’n huis is ’n toevlugsoord. Jy moet daar kan ontspan en jou batterye herlaai.

• Ek glo in positiewe buiteruimtes en in gesprek tussen geboue, ’n weerspieëling van ’n gemeenskap se integrasie (of nie).

• Ek glo in plaaslik: plaaslike weer, plaaslike arbeid, plaaslike materiaal, plaaslike mense, plaaslike dinge.

• Ek glo vandag nog aan iets wat hulle my as student in die Oos-Kaap geleer het: A building must make a beautiful ruin.

• Ek glo ’n huis moet oop wees of heeltemal kan oopmaak. Dis ’n weerspieëling van waar ’n mens is in die lewe. Open and transparent. What you see is what you get.

• Leon Barnard-argitekte 00 264 61 240 405, leon@leonbarnard.com