WOORDE: Michelle Coburn
Krap jy kop oor hoe jou nuwe badkamer moet lyk? Wonder jy dalk hoe die ontwikkeling in Johannesburg vergelyk met dié van New York en Berlyn? Dié klompie boeke behoort ’n paar antwoorde te hê.
Essential Bathrooms deur Terence Conran (Conran Octopus, R230)
Dié hardebandboek met al die basiese dinge is propvol praktiese idees sodat huiseienaars die perfekte badkamer kan beplan. Vir enigiemand wat ’n loftwoonstel restoureer, sal veral die afdeling oor kapsulebadkamers van waarde wees. Hierdie vermaarde ontwerper gee nuttige raad oor alles – van beplanning en uitlegopsies tot toebehore en idees vir die mure.
Bathroom Design onder redaksie van Verena von Holtum (TeNeues, R295)
Al die jongste badkamertrends – soos om dié ruimte deel te maak van die slaapkamer – sal jy kry in hierdie visuele gids, en dis nie net ontwerpmense vir wie dit nuttig sal wees nie, maar ook huiseienaars. Hierin is onderwerpe soos die Zen-gevoel van ’n spa tot die weelderigheid van ’n boetiekhotel, en as jy oorloop van idees, maar nie mooi weet hoe om dit alles in een ruimte byeen te bring nie, gaan jy waarskynlik die perfekte kombinasies hier kry.
The Endless City onder redaksie van Ricky Burdett en Deyan Sudjic (Phaidon, R620)
Dié boek, ’n gesaghebbende studie van stedelike groei deur die London School of Economics wat uiteindelik nou ook in sagtebandvorm beskikbaar is, bied ’n fassinerende blik op die suksesse en mislukkings van ses stede, waaronder Johannesburg, Londen en Mexikostad. Die resultaat is ’n klompie waardevolle lesse vir toekomstige ontwikkeling en vernuwings. Elke stad kry sy eie hoofstuk, gevolg deur ’n studie van 20 vernuwende projekte, waaronder Constitution Hill. Dié boek is van belang vir enigiemand wat in ’n stedelike omgewing bly.
Ecological Hotels onder redaksie van Patricia Masso (TeNeues, R735)
Dié koffietafelboek is ’n versameling stylvolle verblyfopsies waarin die omgewing in ag geneem is tydens die ontwerp, konstruksie én instandhouding. Hotels reg oor die wêreld – van Mongolië tot Tanzanië – word bespreek, en die boek is vir professionele mense in die hotelbedryf net so waardevol as vir reisigers wat graag in dié soort plek oorbly. Suid-Afrika se bydrae is die Grootbos Forest Lodge by Hermanus.
Walking Cape Town Map
Deur die Kaapse Instituut vir Argitektuur Met dié splinternuwe kaart maak die Kaapse Insituut vir Argitektuur, in samewerking met Open House Architecture onder leiding van Ilse Wolff, ons oë oop vir die argitektoniese skatte van Kaapstad. Jy stap verby 25 geboue en historiese bakens op twee asse in die Kaapse stadskom. Die Adderleystraat-as neem jou verby plekke soos die St. George-katedraal, terwyl Langstraat se as van die Uitkykpunt in die Bo-Kaap, verby die stadsaal en uiteindelik tot in Distrik Ses loop. Ons hoop soortgelyke kaarte vir ander Suid-Afrikaanse stede is op pad, want dit is ’n goeie manier om ons vergete argitektoniese erfenis opnuut te ontdek.
• Vir meer inligting besoek die webwerf www.oharchitecture.com

