FOTOS: Dook | WOORDE: Ailsa Uys
Die verhaal van Living Life is een van goeie bedoelings, ’n fantastiese visie en ’n stewige dosis goeie ou harde werk. Die resultaat is ’n idilliese bestaan vir Klaradyn Grobler en haar gesin – ’n manier van lewe wat nie net die Ladybrandse gemeenskap ophef nie, maar ook iets beteken vir die aarde se welstand.
Toe Klaradyn Britz 16 jaar gelede die gejaagde lewe in Gauteng en haar loopbaan as dekorstilis vaarwel roep om vir ’n kort rukkie haar swaer se restaurant in die Oos-Vrystaat te bestuur, het sy geen benul gehad dat dié besluit haar op ’n pad sou bring wat die res van haar lewe onherroeplik sou verander nie.
Nicol Grobler, ’n plaaslike argitek, het haar voete onder haar uitgeslaan en die egpaar het saam begin soek na hulle droomhuis: Hulle het die hele kus platgery, maar uiteindelik besef hulle ware tuiste is die dorp waar hulle mekaar ontmoet het. Ladybrand se Living Life- handgemaakte produkte is 10 jaar gelede gebore, terwyl die Living Life Station Café – ’n wilde gedagte – sewe jaar later op die been gebring is.
Dié gesinsonderneming was soos ’n wegholtrein wat sy eie momentum verkry het. “Ons kon dit nie keer nie, en vandag is dit ons hart en siel, ons energie en inspirasie,” verduidelik Klaradyn. “Ons plan was nooit om organies en omgewingsvriendelik te wees nie – dit het net vanself gebeur. Hoe meer ons met die wêreld en die mense om ons geleef het, hoe meer het ons besef ons moet ‘ons deeltjie’ doen om die planeet te beskerm.”
Dit het dalk klein begin, maar dié “klein deeltjie” het ’n gefokusde en meetbare deel van die Groblers se werk en alledaagse lewe geword: Die fabriek waar vroue handgemaakte dekor en huisware maak; die groentetuine wat op die bord van honger gaste beland; die volledige winkel wat nederig begin het as ’n uitskotplek buite die fabriek; die vaardigheidsoordragprojek wat plaaslike inwoners help om klein sakeondernemings te begin; en, natuurlik, die Groblers se nabygeleë huis waar hulle twee tienerdogters ook die breë filosofie uitleef.
Die doelpale by Living Life verander die heeltyd en idees brei uit en word meer ambisieus. Nicol bly aan die voorpunt van ekosake deur geleenthede soos die Green Building-konferensie by te woon – sodoende behou hy sy fokus oor wat die gesin en die gemeenskap kan bereik. Tog gee hy toe al hou hulle daarvan om met ’n klomp idees te eksperimenteer, werk nie almal van hulle nie.
Die egpaar wys daarop dat hoe meer welaf mense raak, hoe makliker is dit om foute te maak en die maklike roete in te slaan. “Om soos ons te lewe is nie net rosegeur en maneskyn nie – dit verg ’n groot poging, maar dis alles die moeite werd.”
’n Vreedsame bestaan
Die Groblers werk ook hard om diegene om hulle op te lei: Die 40 mense wat hier werk en woon, moet die filosofie aanneem voordat dit kan werk. Nicol sê dis ’n voortdurende proses: “Ons gebruik byvoorbeeld nie suikersakkies in die restaurant nie – bloot omdat ons die ekstra verpakkingsmateriaal wil vermy – maar omdat ons gaste meen suiker in ’n suikerpotjie is onhigiënies, moet ons ’n ander plan maak.”
Elke dag vind vaardigheidsoordrag, opleiding en ontwikkeling plaas. Klaradyn se ma, Beaulah Britz, is as ’t ware getroud met die hekelnaald, die breinaald en die tuin. Buiten dat sy permanente werknemers oplei, skakel sy ook met ’n hele paar pensioentrekkers wat aan Living Life hekelwerk verskaf. Drie plaaslike manne wat hulle eie onderneming bedryf, verskaf staal- en draadwerk, die klipgroef in die nabygeleë Lesotho word deur mynwerkers bedryf wat hulle werk verloor het, en selfs die gemmerbroodmannetjies marsjeer elke week van ’n nabygeleë plaas af in. “Die belegging in mense is noodsaaklik – dis ons bydrae tot die gemeenskap van Ladybrand en die omgewing,” sê Klaradyn. “Ons is bevoorreg om oor dié vaardighede te beskik en móét dit oordra na ander mense toe – handwerk kan so maklik van die een geslag tot die volgende verlore gaan.”
Al die groente, bessies, vrugte en kruie word op die perseel of op die plaas Avalon buite die dorp – nog ’n familiesaak – gekweek. Kaas, vleis en hoender word plaaslik verkry. “Ons het ’n goeie verhouding opgebou met die boere en ’n mens kan nie glo wat alles hier op jou voorstoep beskikbaar is nie: steengemaalde organiese meel, snyblomme, eiers en indringer-wattel vir ons pizza-oond,” verduidelik Nicol. Die enigste belangrike bestanddeel wat van verder af kom, is koffie uit Zimbabwe. “Stil Coffee se Africblack is puik koffie en ons voel ons ondersteun die gewone mense in Zimbabwe.”
Wat die eetplek se spyskaart betref, verander die sjef, Yurietta Stevens, dit elke dag na goeddunke. “As ’n vars bestanddeel opraak, haal ons die gereg van die swartbord af.” Dis ’n benadering wat werk vir die lojale gaste wat hierheen stroom om nie net goeie koffie te geniet nie, maar ook smullekker kos wat stadig gaargemaak word. Dis ’n uiteenlopende spulletjie wat hier kom eet: Daar’s toeriste, Ladybranders, expats en mense uit Maseru. Klaradyn sê die verskillende aksente en karakters sorg dat haar dae allermins saai is.
Ondanks al die suksesse wonder Klaradyn steeds of sy genoeg doen. “Ons doen ons bes, maar ons is nie groen ‘goody two shoes’ nie. Ons doen nie alles reg nie, en ons koolstofvoetspoor kan veel kleiner wees. Ons mik hoog.”
Wat is volgende op Living Life se goen agenda? Om nóg meer reënwater op te vang, en sonkragenergie vir warm water. Gastekamers van strooibale, wurmplase, die herwinning van gryswater… die lysie hou nie op nie. Tog is die Groblers se benadering om dit stadig te vat: Die vrugte daarvan is beter gesinsgesondheid, ’n vreedsame bestaan en wedersydse respek, wat mooi saamgevat word in Living Life se slagspreuk: “Live to love, love to live!”
• Living Life- handgemaakte produkte 051 924 5733, Station Café 051 924 2834

