FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers
Met The Village is ’n vervalle en onsmaaklike buurt in Windhoek se sentrale stadskern in ’n ontwikkeling met vele gebruike omskep.
Dit het alles begin toe die Suid-Afrikaans-gebore argitek Leon Barnard besluit het om sy eie kantoor in Windhoek te open nadat hy hom in 1990 in die Namibiese hoofstad gevestig het. Dié stap het, amper soos ’n klip wat die water tref, vele golwe van verandering veroorsaak in die buurt. Die uiteinde was ’n stedelike herlewing so reg uit die boeke.
“Ek het ’n afgeleefde ou Duitse herehuis in die voorstad Eros aan die buitewyke van die stad gekoop,” sê Leon. “Die huis, wat die bank op nul gewaardeer het, het sedert die jare vyftig al staan en vergaan. Ek kon my vuis by van die krake in die mure indruk en alles was oortrek met stof en sand.”
Leon wou nie die huis platslaan nie. Hy het eerder ’n omgewingsvriendelike benadering gekies en besluit om met die bestaande huis te werk. In die proses het nie net ’n ruim kontemporêre kantoor ontstaan nie, maar ook ’n reaktiewe argitektoniese oplossing.
Leon en sy sakevennoot, Wouter van Zijl, was beïndruk met hoe goed die verandering gewerk het en het in nóg eiendomme in die buurt belê. Hulle plan was om nog soortgelyke kantoor- en kommersiële ruimte te skep. Hulle het daarin geslaag om van die bure te oorreed dat die herontwikkeling van hulle eiendom in ’n geïntegreerde gemengde- gebruik-gebied vir hulle baie werd sou wees.
Grensmure tussen huise is platgeslaan sodat ’n voetgangerskorridor tussen die huise geskep kon word – met vele binnehowe en pleintjies wat aan die nuwe buurt die gevoel van ’n dorpie verleen het.
Getrou aan die konteks is die nuwe gebou klimaatsensitief en word plaaslike materiaal en handwerkmense gebruik – en die resultaat is ’n verfrissende, eietydse dialek. “Namibië het nie baie natuurlike hulpbronne nie, maar die een ding waarvan ons oorgenoeg het, is klip,” verduidelik Leon. Maar toe hulle begin het, was ervare klipmesselaars so skaars soos hoendertande. “Ons kon darem daarin slaag om één op te spoor, ’n 72-jarige man,” sê Leon. “Namate die proses gevorder het, het hy ’n vakleerling aangestel en uiteindelik sy eie onderneming begin. Tans bestuur hy twee spanne opgeleide klipmesselaars.”
Dik klipmure is die perfekte oplossing in ’n semi-woestyn – dit hou die plek koel in die snikhete dae en straal warmte uit in die koeler aande. Leon glo ook in hoë binnevolumes, ’n goed geïsoleerde dak, kruisventilasie en diep stoepe sodat die geboue omtrent nooit lugreëling nodig het nie. Baie waterfokuspunte regdeur die ontwikkeling dien ’n dubbele doel: Dit laat die omgewing koeler lyk én help met klimaatbeheer deur verdamping.
Leon span strykdeur die beginsel van nulletjies en kruisies in: Vir elke negatiewe ruimte is daar ’n positiewe een; en vir elke gebou is daar ’n oop binnehof of groen ruimte. Bestaande swembaddens kry nuwe lewe as ’n visdam of peinspoel. Die oorspronklike plantegroei, veral inheemse spesies, word so-ver moontlik behou – en dit verleen aan The Village die gevoel van ’n lushof, al lê dit eintlik in ’n semi-woestyn.
The Village is nou die tuiste van ’n paar prokureurspraktyke, verskeie argitekskantore en die ateljee van ’n binnehuisontwerper, plus nog konferensiegeriewe by The Village Courtyard Suites, wat ook korttermynverblyf bied. In die hartjie van die ontwikkeling is die restaurant Fresh and Wild, en hier kom sit die nuwe gemeenskap smiddae saam aan vir middagete of ’n koppie koffie. Toekomstige planne sluit in die omskepping van ’n ongebruikte kerk in ’n galery en teater, langtermyn-huurverblyf en ’n groot dorpsplein.
Dié ontwikkeling kon nie ’n méér gepaste naam gekry het nie: Dit het die intimiteit en skaal van ’n klein dorpie, met ’n sterk plaaslike identiteit. En dit het gelei tot die ontstaan van ’n hele nuwe gemeenskap.
• Leon Barnard-argitekte +26 46 124 0405, leon@leonbarnard.com

