Stadsgeluide

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Trevyn & Julian McGowan | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


Pierre Swanepoel van studioMAS laat VISI toe in ’n baie private laboratorium: sy gesinshuis in Forest Town, Johannesburg.

’n Argitek se persoonlike ruimte is nooit heeltemal “klaar” nie, sê Pierre Swanepoel van studioMAS Architecture & Urban Design. In die Lang Huis wat hy ses jaar gelede gebou het, brand die ontwerpvure nog net so hoog soos toe, want dié blyplek wat hy met sy vrou, Sonja, ’n landskapargitek, en hulle vyfjarige dogter, Alba, deel, verander gedurig.

“Ek het die huis rondom my lewe en my gesin ontwerp. Dit het nie ’n ‘styl’ nie,” sê Pierre. “Dis stadsargitektuur.”

Die konsep van “verstedeliking” (“urbanism”) pas perfek by Pierre se groot passie om geboue binne die stad te integreer en om “opnuut met die straat en met mekaar in gesprek te tree” terwyl die beskikbare ruimte optimaal benut word. Sy benadering is ’n teenvoeter vir die soort modernisme wat ’n gebou van sy omgewing isoleer sodat dit uiteindelik oor die ego van die huiseienaar of die argitek gaan.

Sy uitgangspunt – soos met al die ander huise wat hy al ontwerp het – is dat ’n huis vir lank moet bly staan en oor en oor gebruik moet word – afbreek bestaan nie in sy woordeskat nie.

“Dis beslis nie iets wat per toeval gebeur nie,” sê hy. “Wanneer jy ontwerp, is dit belangrik om te onthou dat jou leefstyl gedurig gaan verander.”

Die Lang Huis is ’n sprekende voorbeeld van sy fokus op lang lewensduur en inskakeling by die omgewing: Die grondruimte wat ingeboet is om die gebou op te rig, is met vertikale groei in die vorm van rankplante vervang; die boumateriale – ook sement – “gaan baie waardig verouder”; en genoeg glas verseker dat binne nie van buite vervreem word nie.

Die posisie van die huis op die erf is ook van kardinale belang. “Deur op die voorste rand van die erf te bou, mors jy nie so baie plek soos met die standaard ‘groot-huis-in-die-middel-van-erf’-konsep nie.” Die gebou self vorm ’n veilige grensmuur en die inwoners kan duidelik sien wat buite gebeur – boonop het jy dan plek vir ’n groter tuin agter. “Op dié manier is daar dan heeltyd interaksie met die straat, jou bure en die omgewing,” sê Pierre.

Boonop kom veiligheid, privaatheid en persoonlike gemak glad nie in gedrang nie. “Suid-Afrikaners het die gewoonte om agter mure te bou… hulle dink ‘As ek myself van die buitewêreld afsny, is ek veilig’, maar dis eintlik ’n baie oppervlakkige soort veiligheid. Só word die strate die eiendom van misdadigers, terwyl óns eintlik eienaarskap van die strate moet aanvaar.”

Omdat Pierre mal is oor die binne-buite-leefstyl, het hy gesorg dat die 12 m lange glasskuifdeur met die druk van ’n knoppie kan oopgly sodat die huis deel vorm van die ongerepte paradys van bome en grondbedekkers wat Sonja buite geskep het.

“Dis miskien omdat ek op ’n plaas buite Dullstroom grootgeword het. Ek wil steeds naby die natuur wees, maar ook deel voel van ou Johannesburg. Ek sal nooit in Fourways of Sunninghill kan woon nie, want ek wil die stadsgeluide hoor. Dis bietjie soos daai Neil Diamond-liedjie, ‘What a Beautiful Noise’.”

• studioMAS Architecture and Urban Design 021 461 9297, www.studiomas.co.za