WOORDE Nechama Brodie
Amper ’n dekade nadat hy sy onderneming in Hyde Park gesluit het, keer die hout-alchemis Pierre Cronje terug na Gauteng: dié keer met ’n reuse nuwe toonkamer in die ontwerperdistrik Kramerville in Sandton.
Pierre Cronje sê Kramerville was die “natuurlike keuse” vir sy nuwe toonkamer. Nadat hy verskeie moontlikhede in dié gesogte ontwerpdistrik oorweeg het, het hy uiteindelik ’n ruimte van 700 sqm in Desmondstraat gekies.
“Dit was voorheen ’n bank,” vertel Pierre. “Dit is ’n ouer gebou en die perseel was taamlik vervalle met lae plafonne en teëls en sagtebord om die klank te absorbeer. Elke tiende bord was daar een van daardie fluoorligte… dit het soos ’n 1980’s-kantoor gevoel.”
Pierre se begroting was beperk, maar ’n paar eenvoudige veranderinge was genoeg om die ruimte ingrypend te transformeer. Heel eerste is die plafonborde verwyder om die ruimte bo dit oop te maak en die toonkamer hoogte te gee. Sy eie werkswinkel het nuwe liginstallasies ontwerp: ’n kombinasie van fluoor-, LED- en afwaartse beligting in “loopplanke” wat van ongeseëlde Franse eikehoutplanke gemaak is.
Vervolgens is een van die agterste vertrekke gebruik om ’n “fabriek-atmosfeer” te herskep waar ’n indrukwekkende versameling skrynwerkersgereedskap en onbehandelde stukke inheemse en ingevoerde hout uitgestal word. ’n Plaatjie langs ’n stuk outeniekwageelhout verklap die ouderdom en afkoms van die boom en verduidelik hoe slegs dooie of sterwende bome “geoes” word om die woude volhoubaar te bestuur.
In die middel van die ruimte is ’n stuk Franse eikehoutboomstam (weliswaar ingevoer, maar ook afkomstig uit natuurlik volhoubare woude) wat in planke gesaag en deur penne verdeel word sodat jy die geleidelike verdeling kan sien – dit is presies hier waar al Pierre se gewilde kontemporêre eikehoutontwerpe gebore word.
“Ek wou aan mense wys ook maak regtig meubels,” sê Pierre. “Ons voer nie massaproduksiemeubels uit Indonesië of China in nie.”
Die toonkamer is afgerond met epoksiverf op die vloere en ’n vars laag verf teen die mure. Om jou te herinner aan die oorspronklike doel van die ruimte het Pierre besluit om die bank se kluiskamer te behou – kompleet met ’n loervenster agter tralies en ’n reusagtige hoësekerheidsdeur. Hier het hy ’n wynkelder-installasie ingerig waarvoor Edgar Allen Poe sy siel sal verkoop.
“Ek is mal oor die ruimte,” sê Pierre, “en nog meer so omdat dit regtig op die goedkoopste manier verander is.”
Loer in by die Pierre Cronje-toonkamer by Desmondstraat 16, Kramerville, www.pierrecronje.co.za

