FOTO’S: Mark Serra | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers | MODE: Laura Steed
Met sy jongste projek bewys die interieurontwerper Francois du Plessis dit is inderdaad moontlik om ’n ruimte radikaal reg te ruk, al is jou begroting hóé knap. Vindingrykheid, ’n lagie verf en ’n oog vir ou meubels met potensiaal is al wat nodig is.
Die ou Art Deco-hotel La Splendida lyk nogal beskeie met Vlaeberg en die kurwes van die nuwe Kaapstad-stadion in die agtergrond. Boonop is sy bure die hoë woonstelblokke van Kusweg in Mouillepunt.
Neil Markovitz van die Newmark-hotelgroep het die effe afgematte drieverdiepinghotel met ’n sypaadjiekafee op grondvlak opgeraap toe dit verlede jaar opgeveil is, en dadelik begin om nuwe lewe in dié baken te blaas.
Die interieurontwerper Francois du Plessis, ’n hotelspesialis wat veral bekend is vir die onderbeklemtoonde glans wat hy aan ander Newmark-projekte soos die Victoria & Alfred-, Dock House- en Ambassador-hotel verleen het, het die uitdaging aanvaar om met ’n baie knap begroting die moeë interieur nuwe woema te gee.
Om openbare ruimtes soos hotelle te konseptualiseer verg ’n ander stel vaardighede as private wonings, sê Francois. “Wanneer jy met ’n huis werk, ontwerp jy volgens die kliënt se leefstyl en behoeftes, maar as jy ’n hotel onder jou vlerk neem wat basies deur Jan Alleman gebruik gaan word, moet jy voor jou geestesoog ’n gebruiker sien.”
Die denkbeeldige besoeker wat Francois vir La Splendida opgetower het, is ’n bruingebrande toeris met ’n branderplank onder die arm. Hy het ’n voorliefde vir avontuur en is op soek na ’n rustige, gerieflik plek om te bly. “Dis ’n driesterhotel – die teikenmark is dus jonger… hulle soek ’n meer ontspanne plek waar hulle kan rondloop in die plakkies wat hulle nou net op die strand gedra het,” sê Francois.
Hy het ’n eenvoudige strategie gevolg om die Art Deco-dame ’n ontrimpeling te gee: Die interieur is skoon en wit gehou met spatsels kleur en meubels uit die jare vyftig – wat sorg dat die hotel modieus-koel dog toeganklik voel. “Vir my was die meubels uit die jare dertig, wat eie is aan Art Deco-argitektuur, te swaar vir die voorkoms wat ek in gedagte gehad het. Die 1950’s-meubels, daarenteen, lyk amper Skandinawies en het ’n meer moderne gevoel.”
Kleure reflekteer die uitsig
Francois glo ’n ontwerp moet sy konteks weerspieël en het die hotel se uitsig gebruik om die drie kleure te kies wat vir die drie verdiepings ingespan is – rooi, blou en groen.
Op die eerste verdieping eggo helder spatsels rooi een van Mouillepunt se mees geliefde bakens: die rooi-en-wit vuurtoring wat in 1824 gebou is. Op die tweede verdieping weerspieël ’n lemmetjiegroen skakering die Miami-styl palmbome van die promenade, terwyl die kobaltblou op die boonste verdieping ’n viering is van die see en helderblou lug.
Omdat die begroting beperk was, is amper al die bestaande ingeboude toerusting en toebehore behou. Die meeste meubels is by die Milnerton-mark, in tweedehandswinkels aan Koebergweg en in Woodstock, en in antiekwinkels op Stellenbosch gekoop. Die helder kleuraksente is te sien in die stoffeermateriaal waarmee die ou meubels oorgetrek is, lampskerms, kapstokke en die geverfde kroegyskassies.
Vir die badkamers het Francois die slaapkamers se kleurskema omgeruil. Die oorspronklike wit badkamertoebehore is behou, maar die plafonne en deure is in die toepaslike helder kleur geverf. Die vloere het ook nuwe lewe gekry met swart-en-wit teëls.
“Iemand wou weet wat my inspirasie was, en my antwoord was ‘Geld!’,” sê Francois. “Partykeer is ’n knap begroting al inspirasie wat jy nodig het om regtig kreatief te raak.”
La Splendida: 021 439 5119, www.newmarkhotels.com, Kusweg 121, Mouillepunt
Francois du Plessis: 021 461 1166, fdpinteriors@webafrica.org.za
Sótano-restaurant: 021 433 1757

