Romanse op die rotse

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes en Klara van Wyngaarden | WOORDE: Lee Thorn


Nostalgie is terug – gaan kyk maar by die Oyster Box-hotel in Umhlanga Rocks, wat ná ’n restourasie weer sy deure oopgegooi het.

Stap deur die sorgvuldig gerestoureerde voordeur van die nuwe Oyster Box en ’n ry klam voetspore op die swart-en-wit teëls vat jou dadelik terug na lank vergete seevakansies. Die ou Umhlangabaken straal behoorlik nostalgie en romanse uit nadat dit liefderik opgeknap en onlangs op ’n sonderlinge geleentheid vol outydse glans – geskik vir konings en koninginne – geopen is. (Koning Goodwill Zwelethini het ’n toespraak gelewer en die korporatiewe koningin Bea Tollman was die gasvrou).

Die elegante Bea, ’n Suid-Afrikaner wat in Londen woon, en haar man, Stanley, is die eienaars van die bekroonde internasionale hotelgroep Red Carnation, maar toe hulle in 2006 die Oyster Box koop, was dit nie net nog ’n belegging nie – dit was ’n viering van die liefde. En ’n mens kan dit sien.

Wayne Coetzer, die hoofbestuurder, vertel die Tollmans het mekaar in hulle jong dae by die hotel ontmoet. “Hulle eerste afspraak was by die Grill Room, tafel 10. Bea het die heel eerste keer in haar lewe oesters bestel en was só geskok oor hoe dit smaak dat sy dit uitgespoeg het!”

Hulle romanse het nietemin geblom – ’n storie wat slegs getroef word deur Wayne se eie verhaal. Hy het as kind in die Oyster Box vakansie gehou, wat hom laat besluit het om hom in die gasvryheidsbedryf te begewe. Hy het by ’n wildslodge gewerk toe hy op die dogter van ’n Britse egpaar verlief raak. Wayne het ’n verkyker wat haar pa by die lodge vergeet het, terugbesorg, en toe die gesin later weer Suid-Afrika toe kom en in die Oyster Box bly, het hulle hom saamgenooi. Hy is saam terug Brittanje toe en is in 1998 met Tania getroud.

Twee jaar later het die egpaar op ’n brug in Buckinghamshire gestaan en die swane gevoer toe hulle met ’n Suid-Afrikaanse man begin gesels. “Sy tante was Kay Hill, eienaar van die Oyster Box. Sy is kort tevore oorlede en hy het gemeen die hotel kan dalk verkoop word. Ons het gesê dit kon eenvoudig nie: Dis so ’n liefl ike eiendom, een wat al ikoonstatus bereik het.”

Kort daarna trek Wayne en Tania Suid-Afrika toe, en terwyl hy by die Hiltonhotel werk, ontmoet hy een van die Oyster Box se erfgename. “Die plek is teen ’n verlies van R3 miljoen per jaar bedryf en hulle was bang dit word verkoop en platgeslaan om woonstelle te bou,” vertel Wayne. “Die man het gesê hy soek iemand om dit winsgewend te maak sodat hulle dit as ’n gesonde hotel kon verkoop. Toe vra hy my om die hoofbestuurder te word!”

Die omvang van die uitdaging het hom op sy eerste werkdag in 2002 eers getref. “Daar was net vier ouer gaste in die restaurant met sy 120 sitplekke, elkeen met ’n bakkie waterige minestronesop voor hulle. Ek het vir een van hulle gevra wanneer hulle aangekom het, waarop hy gesê het: ‘1983’!” In die daaropvolgende jare is al vier van hulle oorlede – Wayne het twee van hulle se begrafnis gereël aangesien hulle nie meer familie of vriende gehad het nie.

Hy het die hotel stadig op koers gekry. “Ons het R10 000 per kamer gekry om dit reg te maak – dus het ons ’n werkswinkel in die kelder op die been gebring. Tania, haar suster en plaaslike vroue het die sagte meubilering gemaak. Ek het die kombuis verander, ons het locals verwelkom, die tariewe subtiel opgeskuif… en ná vyf jaar ’n wins van R8,5 miljoen per jaar gemaak.”

Omdat die eienaars gehoop het ’n familie sal die hotel koop, het Wayne vir Clive Bennett, uitvoerende hoof van die Red Carnation Collection in Suid-Afrika, gebel. Hy het die Tollmans in Brittanje laat weet die Oyster Box is te koop. “Ons het mekaar daar ontmoet,” het hulle geantwoord. “Koop dit onmiddellik!”

In die jare sedertdien het Bea en haar dogter Toni persoonlik die restourasie behartig – en al die kosbare elemente uit die Oyster Box noukeurig bewaar, van die deure tot die vloerteëls. Hulle het ook self nuwe stukke gesoek om die mengsel te verryk en vernuwe. Vandag glinster kandelare uit die London Savoy bo die koek-en-teetafel in die Palm Court, terwyl ’n staanhorlosie wat die blitsoorlog buite Christie’s oorleef het, die ure in die voorportaal geduldig uittik. Maar die mees romantiese van alles is ’n uitgewaste foto in die July Room van ’n renperd en ’n seëvierende jokkie nadat Flash On die Durbanse July in 1956 gewen het. Wayne verduidelik: “Stanley het geld op daai perd verwed – en met sy wengeld vir Bea ’n verloofring gekoop!”

• Die Oyster Box 031 514 5000, www.oysterboxhotel.com

Lank lewe nostalgie

• Anton de Kock van M2K Architecture en die landskapkonsultant Jean Wouters het die karakter van die 62 jaar oue Oyster Box-hotel behou, terwyl moderne geriewe en omgewingsvriendelike kenmerke – van sonkragverwarmers tot ’n gryswaterstelsel – ingebring is.

• Aalwyne, hibiskusse en frangipani’s is vir die duur van die bouwerk verskuif en later by die hotel herplant.

• Dertig van die oorspronklike Oyster Box-personeel is behou en tydens die restourasie opgelei – dus is selfs die blikstem oor die telefoon bekend aan mense wat weer en weer terugkom.

• Katte en honde is in sekere suites welkom – hulle kry speelgoed, ’n spesiale spyskaart en kan saam met die personeel gaan stap.

• ’n Weelderige fliekteater bied tema-aande met etes.

• Elke dag word ’n teemaaltyd – of “high tea” – in die Palm Court voorgesit terwyl ’n pianis rustige musiek speel. En elke Saterdag hou hulle ’n dansete in die Grill Room.

• M2K Architecture 021 426 4556, www.m2karchitecture.co.za