Oorsprong van ‘n meesterstuk

FOTOS: Mark Serra | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Michelle Snaddon


Die wêreld is keelvol vir die kras verbruikerskultuur van die afgelope jare, en smag ál meer na outentieke, ouwêreldse ervarings. Nêrens word soveel klem op oorsprong gelê as by die La Motte-wynlandgoed buite Franschhoek nie – onlangs is ’n nuwe galery gebou waar ’n sonderlinge versameling kunswerke deur Jacob Hendrik Pierneef nou gehuisves word.

Op ’n sonnige wintersdag vroeër vanjaar het ’n langverwagte krat vol oorspronklike kunswerke deur Jacob Hendrik Pierneef by La Motte aangekom. Die 44 skilderye waarop die Suid-Afrikaanse landskap so duidelik herkenbaar is, was sedert die kunstenaar se dood in 1957 deel van die persoonlike versameling van sy dogter, Marita, in haar huis in die suidweste van Engeland totdat sy besluit het om alles aan die wynlandgoed te verkoop. Marita (nou 82) wou hê die kunswerke moet na hulle land van oorsprong terugkeer en het ná deeglike besinning besluit La Motte, met sy sterk fokus op erfenis, sou die beste tuiste wees.

Dit het alles in Londen begin toe Marita ’n koppie tee saam met die eienaars van La Motte, Hein en Hanneli Rupert-Koegelenberg, geniet het om haar seën te gee aan die landgoed se Pierneef-wynversameling. Hanneli se belangstelling in Pierneef kom al ’n lang pad – haar pa, wyle dr. Anton Rupert, het vir elkeen van sy drie kinders ’n stel Pierneef-linosneewerke gegee en Hanneli wou van dié werk op La Motte se wynetikette gebruik, maar moes toestemming kry van die kunstenaar se erfgenaam. Marita het ingestem, hulle vriendskap het gegroei en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Om die geskiedkundige kunsversameling te huisves is ’n splinternuwe galery gebou, asook ’n restaurant en plaaswinkel wat heel paslik Pierneef à La Motte gedoop is. Vir die Rupert-familie was erfenis en geskiedenis nog altyd van uiterste belang, en daarom het hulle aan die Stellenbosse binneontwerper Christo Barnard opdrag gegee om “tradisie met ’n kinkel” as riglyn te gebruik vir die interieur van die nuwe restaurant en winkel. Christo het Hanneli se gunstelingkleur, groen, as vertrekpunt gebruik en ’n ruim, kalm interieur geskep wat soomloos inskakel by die stoep, waar ’n versameling eenvoudige kloosterstyl-houttafels onder die majestueuse ou eikebome staan. Die geronde rusbanke en eetkamerstoele binne is in pistasieneutgroen materiaal van Design Team oorgetrek, terwyl groen Forest-stoele van The Modern Garden Company buite gebruik word.

Oorkant die klipperige stroompie met suiwer water uit ’n bron hoër op in die berg staan die plaaswinkel waar ’n mens deur massas vars blomme begroet word. Binne word jy deur die geur van varsgebakte brood en koek oorrompel, maar ook deur die Spaansestyl-ham, vis, vleis en pluimvee-speserye. Ook hier bly die erfenis nie agterweë nie: Dis nie sommer enige speserymengsel nie, maar ’n resep van Wilhelmina Mostert wat uit 1847 dateer. Hetta van Deventer, die koskonsultant vir die projek, het dié juweel ontdek toe sy by die Nasionale Biblioteek navorsing oor oorspronklike resepte gedoen het. Sy het haar in die kookboeke en reisjoernale van Adam Tas en Lady Anne Barnard verdiep om outentieke idees vir die winkel en vir Chris Erasmus se restaurantspyskaart te kry.

Hier vertel elke ding sy eie storie

Hier vertel elke ding sy eie storie. Die resep vir Ouma se brood kom byvoorbeeld uit die kookboek van Hanneli se ma, wyle Huberte Rupert, en die organiese steengemaalde meel wat gebruik word, word by die gerestoureerde watermeul – ’n nasionale monument – op die plaas gemaal. Die meel is te koop in herbruikbare linnesakke, en daar is ook doeke te kry waarmee jy deeg kan bedek wanneer dit moet rys. ’n Mens is deurentyd bewus van Pierneef danksy plekmatjies en afdroogdoeke wat met sy linosneewerke bedruk is, en boonop kan jy in die ontvangsgedeelte by die ingang na die werf die oorspronklike kunswerke bewonder.

By die restaurant en plaaswinkel word slegs plaaslike verskaffers gebruik. Die Lucas Jamon-ham in die Spaanse styl kom uit die Karoo, so ook die “lamsvleisham”, wat papierdun gesny en dan toegedraai word in die fynste papier waarop Pierneef se handtekening gedruk is. Dis plaasvars produkte op hulle allerbeste, en alles word pragtig verpak met linte en sakke. En as jy vroeër vertoef het in die musiekkamer met sy glasmure – tussen die uitstalling van kontemporêre kuns en die nuwe Pierneef-versameling – sou jy Hanneli se beroemde mezzosopraanstem gehoor en dadelik verstaan het waarom daar ’n Operakoek tussen die heerlike suurlemoenmeringuetert, gebakte kaaskoek en individuele wortelkoekies pryk.

La Motte se organies gesertifiseerde wyne is ook te koop, en so ook blindproestelle en elegante wyngeskenksakke wat bedruk is met die plaas se oorspronklike handgeskrewe transportakte wat uit 1695 dateer. ’n Ander La Motte-produk is die nuwe reeks Arômes de la Motte- vlugtige olies van laventel, roosmalva, Kaapse sneeubossie en boegoe wat op die plaas gekweek word – nog ’n sprekende bewys dat die fynbeplande plaaswinkel elke aspek van die boerdery weerspieël. Outentieke eenvoud, ja, oftewel tradisie met ’n kinkel.

La Motte, R45, Hoofstraat, Franschhoek, 021 876 8000, www.la-motte.com.

Die restaurant is Saterdae en Sondae oop vir ontbyt, Dinsdae tot Sondae vir middagete en Donderdae tot Saterdae vir aandete.

Die proelokaal is Maandae tot Saterdae oop van 09:00 tot 17:00.