Vir die voels

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes & Klara van Wyngaarden 


Verwyder die etiket van ou plastiekbottels waarin jy skoonmaakmiddels gekoop het, en verander dit in ’n eetplek vir die voëls.

JY BENODIG

• leë ou plastiekbottels

• ’n kombuisskêr

• potlode

• deursigtige kabelstroppe

• saadmengsel vir wilde voëls

SO MAAK JY

1 Was die bottels behoorlik sodat jy van enig chemikalieë en reuke ontslae raak.

2 Vat die skêr en sny driekwart van die basis aan die handvatsel se kant af. Moenie te veel van die bodem wegsny nie, anders sal die saad nat word as dit reën.

3 Maak ’n gaatjie in die bodem wat kleiner is as die potlood wat jy gaan gebruik – druk die potlood in sodat dit baie styf sit. (Die potlood wys vir jou wat die vlak van die saad is – as jy die punt kan sien, moet jy nog saad ingooi.)

4 Maak die bottel in ’n boom vas – gebruik deursigtige kabelstroppe om dit stewig vas te maak (dit moenie beweeg as ’n voëltjie op die potlood kom land nie). Gooi saad in.

• Ons het ons kabelstroppe en voëlsaad by Builders Warhehouse gekoop.