Twee siele, een mond

FOTO’S: Clinton Friedman | WOORDE: Jacquie Myburgh Chemaly


As ’n mens aan Durbanse ontwerp dink, kom Egg – die ontwerpateljee van die egpaar Greg en Roche Dry – dadelik by ’n mens op. En binnekort wil die twee ook Johannesburg, Hongkong en Parys stormerhand verower.

Ons dink nie eens meer daaroor nie,” sê Roche Dry oor die feit dat sy en haar man, Greg, al meer as 20 jaar een van Suid-Afrika se voorste ontwerpduo’s is.

Hulle is ook nie een van daardie saamwerken- woon-paartjies wat by die huis glad nie oor werk praat nie. Greg sê dit is onmoontlik om tjoepstil te bly as ’n idee by jou opkom wanneer jy byvoorbeeld jou tande borsel. En wat van al daardie blink gedagtes wanneer ’n mens iets sien of hoor, en jou maat dink presies dieselfde ding? “Ons ontwerp instinktief, want ons dink dieselfde – dit is regtig asof ons dieselfde brein deel.”

Greg sê party mense wonder of dit ’n goeie ding is as twee mense saamkom, maar die manier waarop hy en sy vrou saamwerk, het ’n ritme van sy eie. Sy is die konseptuele een, terwyl Greg grootliks met die tegniese kant van dinge doenig is. Hy is ook die meubelontwerper in die span en kom met baie van die malste idees vorendag.

“Dit is moeilik om aan mense – laat staan nog onsself – te verduidelik hoe ons werk,” sê Greg. “Ons bekyk die probleem, identifiseer die uitdaging en soek ’n oplossing.”

Italiaanse kos as inspirasie

Greg en Roche se jongste projek is die interieurontwerp van Craft, ’n restaurant in Glen Ashley in Durban-Noord wat in Italiaanse streekskos spesialiseer. Die eienaar is die advertensie-, kos- en modekenner Neil Roake, en daarom is ’n mens glad nie verbaas nie dat Craft aan die een kant ’n gemaklike trattoria met mure van lieflike ligte populierhout is, en aan die ander kant spog met heerlik lawwe elemente waarmee beslis net Neil en sy goeie vriende by Egg vorendag kon kom.

Craft se ontwerp moes die konsep “Italiaanse streekskos” weerspieël, maar sonder om naby die geykte prentjie van rooi-en-wit geruite tafeldoeke te kom. Greg en Roche het die tafelbasisse gebruik van die vorige restaurant wat daar sake gedoen het, maar dit met rooi poeierverf laat spuit – dis letterlik die enigste vaagweg “tradisionele” trattoriaelement wat ingespan is.

Kos is ’n groot dryfkrag in die egpaar se lewe: Roche is onlangs by die Eat Invarsprodukte- toekennings bekroon vir Chuck & Bob’s, die charcuterie-onderneming wat sy saam met Simon Hemingway besit, en nou verstaan ’n mens ook waarom ’n Italiaanse kaas as inspirasie gedien het vir die ligte by Craft…

Om saam met Neil te werk is soos om saam met familie te werk, sê Greg. Hulle ken mekaar al donkiejare, en Neil het Greg en Roche nog altyd baie vryheid gegun wanneer hulle iets vir hom ontwerp. Sy Concierge Boutique Bungalows-hotel is byvoorbeeld ’n fantastiese toonvenster vir die egpaar se interieur- en meubelontwerp-talente. Omdat Neil met sy een voet in die advertensiewêreld staan, sorg hy altyd vir ’n grafiese element saam met die Egg-span se ontwerpe.

Greg en Roche sê toe hulle Egg begin het, wou hulle ’n handelsmerk skep wat jare sal hou, maar hulle fantaseer nie daaroor dat hulle kinders dit sal oorneem nie. Hulle is nog jonk, beklemtoon Greg, en moet hulle eie belangstellings volg.

Wat is volgende? In 2011: beslis Johannesburg. En Parys en Hongkong nie te lank daarna nie… Min mense besef watter aanhang Egg internasionaal geniet, en vir elke plaaslike navraag kry hulle tien van oorsee. Dis tyd om hulle vlerke te sprei, sê die twee.

Hierdie artikel – met nóg foto’s – verskyn in VISI 54, waarin Suid-Afrika se blinkste ontwerpfamilies oor kreatiwiteit praat. Dié uitgawe is nou te koop!

• Egg Designs: 031 783 4953, www.eggdesigns.co.za

• Craft: 031 562 1951, www.crafttrattoria.co.za

• Chuck & Bob’s: 082 565 7545, www.chuckandbobs.com