FOTO’S Micky Hoyle PRODUKSIE Sumien Brink WOORDE Sam Woulidge
Wyle Oscar Lefson was ’n uitsonderlike hond wat die wêreld platgereis het om mense bewus te maak van die benarde situasie waarin hawelose honde hulle bevind. Dit is met leedwese dat VISI verneem het van sy ontydige dood. Ons het in VISI 61 met Oscar kennis gemaak toe Sam Woulidge by hom gaan kuier het by sy huis in Tamboerskloof. Dit is wat sy destyds geskryf het…
Wyle Oscar Lefson was ’n uitsonderlike hond wat die wêreld platgereis het om mense bewus te maak van die benarde situasie waarin hawelose honde hulle bevind. Dit is met leedwese dat VISI verneem het van sy ontydige dood. Ons het in VISI 61 met Oscar kennis gemaak toe Sam Woulidge by hom gaan kuier het by sy huis in Tamboerskloof. Dit is wat sy destyds geskryf het:
Hy’s ’n sjarmante, aanskoulike kêrel, dié Oscar, al is sy wenkbroue aan die ruie kant en sy beentjies bra kort. Maar dié “tekortkominge” is waarskynlik deel van sy aantrekkingskrag. Hoewel Oscar getrou is aan Joanne Lefson, die vrou met wie hy sy lewe deel, hou hy tog daarvan om so af en toe ’n bietjie te flankeer… dis hoe dit gekom het dat hy by ons kennismaking dadelik op sy rug aan lê en daarop aangedring het dat ek sy magie kielie – iets wat ek met graagte gedoen het.
Ek dink hy het dit geniet, as ’n mens sy liggaamstaal as maatstaf kan gebruik, maar daarna nie verder veel aandag aan my geskenk nie. Ek moet erken ek het effens gestamp gevoel; ek kom altyd tweede as daar ’n blondine in die prentjie is.
Maar dié oggend is dit nie net die blonde mev. Lefson wat Oscar se aandag trek nie; hy kan ook nie sy oë afhou van die kastaiingbruin eekhorings nie. Hy het meestal skaars lank genoeg na my gekyk om die vrae behoorlik te beantwoord, maar wanneer dit wel gebeur het, was hy ’n absolute jintelman.
Oscar is die mees welberese hond ter wêreld. Al is ’n private straler of ’n ruim sitplek in besigheidsklas sy eerste keuse, sal hy enige vervoermiddel gebruik solank hy net al sy belangrike sake afgehandel kry. Tydens sy World Woof Tour, wat in 2009 begin en oor ’n tydperk van nege maande besoeke aan honderde hondeskuilings in 31 lande ingesluit het, is hy vergesel deur Joanne, wat hy as sy redder beskou. Tesame het die effe senuweeagtige maar uiters vasberade blondine en die rockster-diereaktivis (sal ons hom Bone-Oh doop?) mense probeer bewus maak oor hawelose diere wat liefdevolle huise soek.
Die rondritsery is baie uitputtend, en Oscar probeer om fiks en gesond bly deur gereeld oefening te doen en slegs vryloophoender en rys te geniet. Maar hy is glad nie vol fiemies nie, en as hy op die pad, in ’n vliegtuig of op ’n skip is, eet hy wat vir hom voorgesit word. Van ’n ego is daar nie sprake nie – Oscar is suiwer daaraan toegewy om soveel as moontlik ander honde te help. Oscar is self weggegooi en het lank in ’n diereskuiling gewoon en die dood net-net vrygespring, daarom sal hy enigiets doen om die wêreld te laat regop sit en notisie neem van diere wat weggegooi word.
Ek vra hom waar hy op sy gelukkigste is: Op ’n vliegtuig, in ’n hotelkamer of in die lieflike opgeknapte slawelosie waar hy tuisgaan in Tamboerkloof? Oscar grom hy gaan waar Joanne gaan, want hy is die heel gelukkigste wanneer hy saam met haar is, maak nie saak waar op die aarde hulle hul bevind nie.
Hulle het ’n spesiale verhouding, dié twee. Hulle het voor ’n Elvis-nabootser in Las Vegas ewige trou aan mekaar gesweer, maar is vasbeslote om mekaar te alle tye as gelykes te behandel.
Oscar is nie ’n skoothond of een van daardie honde wat gedurig aandag nodig het nie. Hy volg Joanne van vertrek tot vertrek, maar ek kry die indruk hy doen dit om haar eerder as sy eie onthalwe. Om haar te beskerm en gerus te stel. Hulle liefde en verbintenis is duidelik, en hoewel nie een van die twee mekaar gedurig om die hals val nie, sorg Joanne dat Oscar altyd netjies geknip is, sy laat hom toe in haar bed en sy maak of sy nie sy obsessie met die eekhorings raaksien nie.
“Nie sleg vir ’n basterbrak nie,” het ek geprewel toe ek Oscar se luukse verblyf, sy ontwerperstoele en hondekunswerke sien, maar hy het dadelik sy wenkbrou gelig en sy ore gespits.
“Ek raak geïrriteerd met mense wat ’n onderskeid tref tussen honde soos ek en dié met ’n stamboom wat tot waar trek,” het hy gegrom. “Ek het beslis ook ’n stamboom. Ons het DNS-toetse laat doen in Fort Lauderdale wat bewys ek is ’n mengsel van ’n Pembroke Welsh corgi, ’n Duitse herdershond, ’n Engelse springerspanjoel en ’n basset. Daar het jy dit. Waarom is dit nou minder indrukwekkend as ’n lui Labrador of ’n poedel wat vol fiemies is?”
“Maar wat as jy een van hierdie rassuiwer honde in ’n dierskuilding aantref?” probeer ek hom vasvra.
“Dit is die groot verskil: Alle honde word verenig deur vrees en eensaamheid.”
En op daardie noot staan hy op van die blinknuwe mat wat spesiaal vir sy plesier gekoop is en spring teen die trappe op na sy venster waar hy die eekhorings kan dophou. So lyk ’n hond wat tuis is.
VISI betuig ons innige meegevoel met al Oscar se familie en vriende ná sy ontydige dood in ’n motorongeluk op Vrydag 11 Januarie 2013. ’n Gedenkdiens word op Vrydag 25 Januarie vir hom gehou by die Cape of Good Hope SPCA. Meer besonderhede oor die gedenkdiens verskyn op sy Facebook-blad.
1 Comment