Teetyd in Woodstock

WOORDE Maciek Dubla FOTO’S Fay Jackson


Lees in Engels.

Wat begin het as ’n karavaan wat tee verkoop, is nou Lady Bonin’s Tea Parlour, die Moederstad se jongste toevlugsoord. Maciek Dubla het met Jessica Bonin gesels oor haar sjarmante opknappingsprojek: Elke sent is twee keer omgedraai en sy moes staatmaak op vindingrykheid, selfdoen en die Milnerton-mark.

Jessica Bonin was nooit van plan om tee haar loopbaan te maak nie. Tee het haar gekies. Oor die afgelope twee jaar het die Lady Bonin’s Tea Parlour-karavaan haar verskyning gemaak by feeste reg oor die land waar sy partytjiediere met haar verskeidenheid eiesoortige teemengsels oorrompel het.

Nou het dié sigeunerin nes geskop – vir haarself, maar ook haar groot gevolg van blaarteeliefbhebbers: Die nuwe Lady Bonin’s Tea Parlour het pas haar deure geopen in die Woodstock Exchange, wat onlangs opgeknap is.

“Ek wou aanvanklik ’n kafee begin en het gedink tee is die beste manier om die gevoel en die emosie oor te dra wat ek graag in die kafee wou hê,” verduidelik Jessica by die groot hoë tafel in die winkel. “Ek wou hê dit moet ’n plek wees waar mense wêrelde en oomblikke kan deel en ontsnap van die daaglikse sleur, of bloot ’n plek wat hulle kan gebruik soos wat hulle wil.”

Jessica wou die atmosfeer van haar karavaan herskep, maar dit kombineer met die kruising tussen industrieel en boheems-ouwêrelds van die buurt. Daarom het sy die hulp van die skrynwerker Gene Kierman ingeroep. Hy het ’n goeie oog en het haar konsep dadelik gesnap.

Die mobiele “kaggelrak” in die middel van die ruimte is die fokuspunt waarrondom die hele winkel ontwerp is. Dis is die eerste stuk wat Jessica vir die winkel gekoop het, en Gene het dit in die onwerp ingebou. Omdat sy gewoond is daaraan om in ’n klein ruimte te werk, is die kompakte ontwerp met alles naby presies wat sy nodig het.

Omdat haar begroting uiters knap was, moes die ontwerpelemente teen ’n fraksie van die gewone prys gebou word. Sy het die idee vir die veelvormige sweefrakke en die sytafeltjies op Pinterest gesien. Die ander elemente is op wouduitstappies gevind, en by plekke wat afvalstukke hout verkoop.

Hoewel ’n mens dit dalk nie dadelik opmerk nie, het Jessica onderstebo koppies as ligte ingespan om gruwelike fluoorbuisligte te vermy en ’n ligte skemer-atmosfeer in die winkel te skep. Die koppies en die ou tasse wat teen die muur gemonteer is, kom van die Milnerton-mark, een van Jessica se gunsteling-uithangplekke. Sy is ook nie skaam om te erken sy is die een wat die tasse met ’n saag toegetakel het om die slim rakke te skep nie.

Omdat haar kliënte nog altyd op die grond moes sit wanneer sy tee uit haar karavaan verkoop, het Jessica besluit om dié “buite”-gevoel binnetoe te bring. Die houtpalette en kussings is spesiaal vir die winkel gemaak. Sy het die materiaal by Ashanti (Sir Lowryweg 135, Woodstock) gekoop, terwyl Dexter Furnitures (Albertweg 302, Woodstock) die banke gemaak het.

Jessica se tees gaan nie net oor die gesondheidsvoordele en om mense byeen te bring nie, maar ook oor individuele voorkeure. Sy is veral trots op haar teemengsels, veral dié wat sy spesiaal maak vir elke mens wat sy bedien.

“Ek het baie pret wanneer ek rondspeel met speserye en kruie om die persoonlikheid en bui van mense met die tee vas te vang. Ek bied vir baie kliënte aan om ’n mengsel te maak wat hulle weerspieël,” sê Jessica.

Toe ons wil weet watter teemengsel VISI die beste sal verteenwoordig, stel Jessica oolong voor. Dit is ’n elegante tee met die beste van beide wêrelde: Dit huiwer tussen swart- en groentee, bevat sekere eienskappe van albei, maar is ’n totaal aparte entiteit. Dit werk ook goed saam met ’n groot verskeidenheid kruie en speserye, maar daar is net ’n paar spesifiekes wat uitstekend werk. Dis ’n tee met ’n eie styl, maar baie aanpasbaar.

“Hoe klink dit?” vra sy.

“Perfek,” antwoord ons gemaak teë-sinnig.

Eenheid A11b, Woodstock Exchange, Albertweg 66, Woodstock, Kaapstad, www.ladybonin.com

 

https://visi.co.za/content/article/1876/tea-time-in-woodstock