Smeltkroes van paradokse

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor


Die ontwerpdiva Maira Koutsoudakis het die edel tradisie van die ou Stephanie’s geneem en nie net haar unieke glansryke ontwerpstempel daarop afgedruk nie, maar ook haar siel én ’n stewige dosis passie en eerlikheid bygevoeg. Die resultaat is Hyde Park se nuwe Life Grande Café.

Passie, plesier en paradokse is nie wat ’n mens saam met filantropie in die smeltkroes verwag nie. Maar voeg by dié ongewone mengsel die eienaar van Life Interiors + Architecture + Creative Direction, Maira Koutsoudakis, en jy bevind jou straks in die nuwe Life Grande Café in Hyde Park, ’n eetplek-en-winkel waar sofistikasie en sielvolheid hand aan hand gaan. Wat Stephanie’s was, daar waar mense vir mekaar soentjies geblaas het, is nou ’n diep persoonlike plek waar Maira se invloede, smake en immer ontwikkelende lewensuitkyk gestalte kry.

“Hoe ouer ek word, hoe meer glo ek in karakter, in veelvlakkigheid. Ek wou ’n plek van paradokse tot stand bring. Die dekor, die kos, die goed in die winkel en die ontwerp-elemente gaan alles oor kontradiksie en jukstaponering. Dit gaan daaroor om die aardse te kombineer met ’n sterk betowerende faktor; industriële elemente met weelde.”

Dis ’n ruimte, sê sy, waar die “monumentale karakter van marmer” saamleef met die warmte van ’n houtoond, waar die geriewe van ’n huis ineenvloei met uitbundigheid, en waar die klassieke en die organiese mekaar omhels.

“Dit weerspieël die soort kos wat ek saam met my vriende geniet, die handgemaakte objets wat ek graag koop en om my wil sien. Dit gaan ook daaroor om jou in teenstrydighede rondom jou te verlustig.”

Die teenstrydigheid-metafoor word ook in Life Grande Café se ure weerspieël. Dit sal dag en nag oop wees.

’n Sterk Engelse invloed

Die kos is Mediterreens met ’n sterk Engelse invloed. “Dis vars, plaaslike bestanddele, en aanbieding vorm ’n belangrike element,” verduidelik Maira. Die klem sal val op lynvis, tapas en vinnig- en stadiggekookte kos, terwyl nageregte soos ’n piesangboot of jellie met vla sal sorg vir ’n lekker lawwe element.

Maira sê Life Grande Café weerspieël ’n wêreldleefstyl. Dis ’n samevoeging van haar en haar span se ervarings in oorde soos die Seychelle se Noord-eiland, die Okavangodelta en Europa, en “om dit in ons nuwe winkel in te bring”.

Die dekor is eklekties. Asgrys hout bedek dele van die mure, en in die vloere word klipmarmer met dun bronsstrepies gekombineer – “ek’s ’n Jozi-meisie; ek soek die warmte en glans van goud”. Deur ’n “gelukkige ongeluk” is die plafonne die teenpool daarvan. Toe werkers die ou plafon verwyder, kom hulle af op sement: “Lieflik landelik met ’n wonderlike melasse-kleur. Ek kon dit mos nie bedek nie!” sê Maira. Sy’s mal oor die “spanning tussen hoë glans en die rou onopgesmuktheid.”

Die emporium in Life Grande Café, waarvan Maira self die kurator is, glinster stylvol op ’n vloer met inlegwerk van ou koeëls. Maira se man, John, wat ook haar sakebestuurder is, moes van die een Johannesburgse skietbaan na die ander gaan om dit bymekaar te maak. “Ek hou daarvan om waarde toe te voeg tot weggooigoed – om dinge weer te gebruik en opnuut te vertolk.” Die rakke is gemaak van herwinde hout. Dis hier waar sy unieke, handgemaakte produkte in ’n soort galery-“souk” verkoop. Al die artefakte, van enorme monolitiese stukke soos ’n houtstoel tot leefstyl- en kunsboeke, van kerse tot lappe, juweliersware tot sandale, “bring hulde aan die erfenis, maar ook kontemporêre estetika”.

Maira se filosofie om iets terug te gee

Maira beplan om die beste van plaaslike produkte te ondersteun met temageleenthede en tentoonstellings, en sy hoop die plek sal ’n bymekaarkomplek word wat die heeltyd ontwikkel en waarvan die gemeenskap mettertyd eienaarskap neem.

Sy en haar span het ook volhoubaarheid as ’n etos aangeneem. “Ons het ’n goeie afvalbeleid en gebruik meestal organiese produkte.” Dis met volhoubaarheid in gedagte dat Maira haar filosofie om iets terug te gee, gegrond het op dié van een van haar gunstelingwinkels, Merci in Parys, Frankryk: ’n Persentasie van die emporium se wins sal geskenk word aan drie welsynsorganisasies, waarvan een die Nelson Mandelakinderfonds is.

“Plesier-filantropie,” sê sy. “Dit gaan oor hoe ek nou die lewe as ma, vrou, winkelier en ontwerper wil vertolk. Vir my gaan dit daaroor om vrede te maak met kategorieë wat kruis.

“Ek was onlangs in ’n hyser met ’n stel planne in die een hand en ’n klomp bakplate in die ander. ’n Sakeman sê toe vir my: ‘Daai goed hoort mos nie saam nie?’

“Waarop ek antwoord: ‘O ja, hulle doen.’ ” Inderdaad doen hulle.

• Life Grande Café 011 325 4350 of 011 325 5371