SA ontwerp swaai die septer in Umhlanga

WOORDE & FOTO’S Georgie Chennells


Read in English.

’n Splinternuwe winkel wat in plaaslike ontwerp spesialiseer, het sy deure in Umhlanga geopen, skryf ons nuwe korrespondent in Durban, Georgie Chennells.

’n Vars nuwe bries trek deur Umhlanga – en dis sowaar nie nog ’n kroeg nie! Dié kruising tussen ’n seedorpie en vakansiemekka spog met iets nuuts wat hierdie vakansieseisoen besoekers se aandag (en beursies) sal trek.

Catalyst is die resultaat van ’n ongewone saamwerkprojek tussen die apteker David Fraser en die interieurontwerper Gareth Henderson van GIH Design. David het Gareth genader om die Medisport-apteek by Umhlanga Village uit te brei en die ontwerp in heroënskou te neem. Daar was uiteindelik ’n stuk winkelruimte oor wat perfek was om uiting te gee aan David se ander voorliefde: beeldskone goed. Die twee het toe die konsep verder ontwikkel en produkte vir die winkel uitgesoek.

Catalyst het twee ingange: een op die buiteplaza (by die restaurant Calisto’s) en die interessanter ingang deur ’n reuse skuifdeur aan die agterkant van die apteek. Wat jou dadelik opval, is dat dié ruimte nie net nog ’n skitterblink paleis is waar jy kussings en kamersproei kan koop nie. Die winkel lyk verfrissend nonchalant en ingeleef met die skuifdeure, toonbanke en muurbedekkings wat byna uitsluitlik van herwinde hout gemaak is. ’n Enorme embuia-styl bal-en-klou-tafel vorm die fokuspunt, met blinknuwe swart en akwa wat bygevoeg is, terwyl ’n netjiese geometriese stelsel van modulêre rakke die mure versier met die koperbedekte sparre wat opwaarts sigsag.

David en Gareth is ewe passievol oor Suid-Afrikaanse ontwerp en sê alles in Catalyst word plaaslik gemaak. Uit Durban is daar Shaw Sisters se geverfde mandjies en reuse- gehekelde pouffes, sambrele met botaniese motiewe deur Clinton Friedman, armbande en bykomstighede van Blossom, Alice May se luukse skryfbehoeftes, sakke van Wylder Jane, juweliersware deur Chey Michau en Nicky Savage, asook Catalyst se eie reeks grasplekmatjies en tuinsitplekke. GIH se ontwerpe soos die Gut-Punch-lig en die Deep Seat word wel as winkelmeubels ingespan, maar kan ook bestel word.

Kaapstad, Johannesburg, Knysna en Plett word ook goed verteenwoordig met leerprodukte van Adriaan Kuiters, Potterseed-keramiekware, Skinny LaMinx-materiale, Ilovani-snyplanke, sakke deur Tamelia, Pedersen and Lennard-sitplek, Joe Paine-voëltjiekoshouers, keramiekware deur Sandra Godwin, Mungo-handdoeke en vele ander.

Ons hoop van harte Catalyst is inderdaad die begin van groot dinge.

Catalyst / Medisport-apteek, Winkel 11, Protea Mall, Umhlanga, 031 561 1227, www.g-i-h.co.za