Ry die trendgolf

WOORDE Claire Jowell FOTO’s Fay Jackson


Read in English

Kos, kuns en modes kruis paaie by Latitude 33, Kaapstad se jongste uithangplek, waar “koel” en “kookwater” die sleutelwoorde is. Ons het vir Claire Jowell gevra om by dié veeldoelige branderplankryer-paradys in te loer.

“Bali, bintang en branderplankry! Of kortweg vir almal wat gaande is oor die branderplank-leefstyl: die goeie lewe. Dís hoe die konsep van Latitude 33 gebore is.”

Só verklaar Charles Post, die sjef Gareth Walford en die Britse portretkunstenaar Olivia Franklin, wat deesdae die eienaars is van Latitude 33, ’n komkommerkoel kruising tussen ’n kunsglaery, klereboetiek en restaurant aan die bopunt van Breestraat.

Die oop, ruim, ligdeurdrente ruimte spog met stylvolle dekor en ’n ontspanne atmosfeer waar besoekers op groot leerbanke kan uitspan of werk, en met die restaurant onder en die winkel-cum-galery bo kan jy onder een dak kuns kyk en koop, koffie drink of iets te ete kry.

Nadat Gareth vir jare in van Johannesburg se voorste fynproewersrestaurante gewerk het, was hy reg om sy droom te bewaarheid en ’n eie onderneming te begin. Sy vriend Charles het presies dieselfde plan gehad. Die twee het oë toegeknyp en die kans gewaag om Kaap toe te trek en ’n restaurant saam met Charles se meisie, Olivia, oop te maak.

Die branderplankry-tema word regdeur die ruimte gebruik saam met verskeie aandenkings van hulle reise en stukke deur plaaslike ontwerpers wat die mure en ander oppervlakke versier. Verskeie branderplanke wat deur Glen Row van Explocean Surf Boards gevorm en gestileer is, staan nonchalant teen ’n muur om daardie “kom-nou-net-uit-die-water-uit”-gevoel te skep.

Die boonste vlak huisves die winkel, waar Olivia meestal Australiese branderplank-handelsmerke verkoop, waarvan talle eksklusief by Latitude 33 beskikbaar. Haar portretstudies versier die mure, en daar is ook ’n gemaklike rusbank-en-pouffe-afdeling waar jy met ’n boek (of ’n VISI!) en ’n koppie koffie van Truth.coffeecult kan uitspan.

Petra Vonk Design het die interieurontwerp van die winkel behartig. Die hoof-ontwerpfokuspunt wat ook besoekers dadelik aan die praat kry, is die reuse-“houtbrander-plafon” van die kroeg wat ook uit ’n agtermuur-eenheid en delitoonbank aan die voorkant bestaan. Konstruct Exhibitions was verantwoordelik vir die vervaardiging en installering van die “golf” wat van oorspronklike hortjieslaaghout gemaak is en perfek inpas by die helder, oop gevoel van die restaurant.

Garth, wat lank as sjef by die Saxon- en Michelangelo-hotel in Johannesburg gewerk het, bly besluiteloos as ’n mens hom pols oor wat Latitude 33 se spesialisgereg is. “Ons probeer tans iets van alles en sit bistro-kos voor wat elemente van ons reise inkorporeer. Wat ek wel weet, is dat die Oosterse varklies-toebroodjie en ons burgers groot byval vind.”

Lattitude 33 sluit aan by ’n hele klomp nuwe galerye en uithangplekke wat hulle deur oopgemaak het in Breestraat, wat deesdae dié plek is vir modes, ontwerp en kuier in die Moederstad. Die straat is ’n goeie voorbeeld van binnestedelike vernuwing en spog selfs met sy eie blog, Facebook-blad en Twitter-groep. Dag of nag, deesdae is daar altyd iets aan die kook in Breestraat at all times. 

Lees meer oor Latitude 33 by www.lat33.co.za

Volg wat in Breestraat aangaan by www.breestreet.co.za, “like” BreeStreetCapeTown op Facebook of volg @Bree_Street op Twitter.