WOORDE: Remy Raitt en Dylan Culhane | FOTO’S: Dylan Culhane
Die Werdmuller-sentrum in Claremont het in 2007 in die kollig beland ná ’n voorstel om dié eiesoortige voorbeeld van Le Corbusier-Modernisme te sloop.
Vyf jaar later woed die debat steeds: Moet Roelof Uytenbogaart se ikoniese bydrae tot die Suid-Afrikaanse argitektoniese landskap gesloop word? Argitekte en ontwerpliefhebbers stem meestal saam dit sal ’n verskriklike onreg wees, hoewel almal dit eens is die sentrum moet dringend opgeknap word en ‘n nuwe rol kry – dit sal byvoorbeeld die ideale ruimte vir skeppende ondernemings wees.
Van die Werdmuller-sentrum se eertydse glorie is nog net ’n dop oor, en die gebou staan grootliks leeg, ontsier en vervalle. Dit word tans omring deur informele handelaars in Claremont se woelige Hoofstraat, en die meeste verbygangers sal waarskynlik verbaas wees om te hoor die gebou is eens op internasionale vlak aangeprys as ’n argitektoniese meesterstuk.
Aan die binnekant voer ’n paar liefdadigheidswinkels en skoenmakers ’n sukkelbestaan. Die gebou, wat in die laat jare sestig ontwerp en in 1976 voltooi is, word steeds deur Old Mutual besit en verdien meer sorg en aandag as wat dit tot dusver gekry het.
Dit word beskou as deel van Le Corbusier se nalatenskap in Suid-Afrika, iets wat verder beklemtoon word deur die betonwerk wat deur Tony De Sousa Santos en Adele Naudé Santos behartig is. Die Werdmuller-sentrum is nie net ’n weerspieëling van die tyd waarin dit gebou is nie, maar ook van Suid-Afrika se argitektoniese geskiedenis.
Die argitek Ilze Wolff glo die betekenis van die gebou gaan die estetiese en funksionele aard van argitektuur te bowe: “Op sosiale vlak is dit ’n belangrike gebou van sy tyd omdat dit uitdruklik die harde politiek van separatisme uitgedaag en eerder die beginsels van humanisme en kontektualisering nagevolg het.” Sy sê die gebou verteenwoordig ook innovasie in argitektuur, “of ten minste ’n eksperiment in die bekende tipologie van kommersiële winkelsentrums”.
Hoewel voorstanders van die poging om die Werdmuller-sentrum te red meen dit moet – bo en behalwe die dringende herstelwerk – bly soos dit is, sal die funksie van die gebou beslis heroorweeg moet word: Dit voel soos ’n totale vermorsing om dit as ’n goedkoop winkelsentrum te gebruik reg oorkant die reusagtige Cavendish Square-inkopiesentrum en etlike ander meer aantreklike kommersiële geboue in die omgewing. In ons laaste gesprek met Ilze Wolff het sy gesê die gebou kan floreer as akkommodasie en ateljeeruimtes vir skeppende kunstenaars. Dit is ’n meer realistiese toekoms vir die gebou omdat dit ook reg langs die Claremont-treinstasie geleë is. Kunstenaars en ontwerpers sal uit verskeie oorde kan inspirasie put, en die huurgeld sal waarskynlik nie so hemelhoog wees nie – iets wat sukkelende jong kunstenaars sal waardeer.
Net die tyd sal leer of rand en sent gaan seëvier oor die erkenning wat Suid-Afrika se artistieke erfenis verdien. Ons argitektoniese geskiedenis is nog in sy kinderskoene, en ons kan gewoon nie toelaat dat lieflike geboue soos hierdie een gesloop word om plek te maak vir generiese glas-en-staal-winkelblokke nie. Ons hoop van harte die owerhede doen die moeite om te bereken wat die koste sal wees om die Werdmuller-sentrum te sloop en ’n nuwe struktuur op te rig, en wat dit gaan kos om gewoon die gebou behoorlik op te knap. Maar – nóg belangriker – hoop ons hulle besef wat die Werdmuller-sentrum beteken en die plek wat dit beklee – nie net in ons land se argitektoniese erfenis nie, maar in die harte van diegene wat waardering het vir die unieke humanistiese vorm daarvan. Dit is tyd om saam te staan teen die kortsigtige aanslag van kapitalisme en ons ontwerperfenis te koester.
Wys jy gee om
Erfenis Wes-Kaap het in terme van die bepalings van seksie 38(2) (a) van die wet op nasionale erfenishulpbronne aansoek gedoen om ’n impakstudie oor die beplande sloping van die Werdmuller-sentrum op Erf 54472 in Hoofweg, Claremont.
Enige persoon of organisasie wat ’n belang het by dié saak word genooi om formeel te registreer as I&AP – ’n party wat ’n belang het by die saak of wat daardeur geraak word – en om verder aan die proses deel te neem deur so gou moontlik hulle naam en kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) per e-pos te stuur na werdmuller@ashleylillie.com.
Geregistreerde I&AP’s sal op hoogte gehou word van enige openbare vergaderings oor die proses, en ook afskrifte van die verslag ontvang om kommentaar te lewer op die onderskeie voorstelle.
Hou asseblief in gedagte dat partye wat aan vroeëre prosesse rondom die Werdmuller-sentrum deelgeneem het (wat daarna opgeskort is), wéér moet registreer as ’n party wat ’n belang daarby het of daardeur geraak word.
Ashley Lillie – Erfenisspesialis
Posbus 109, Kaapstad 8000
Tel.: 084 416 5267

