
FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Alma Viviers
Die meubelontwerper Peet van Straaten glo laaghout is die nuwe soliede hout…maar net beter!
Dié Pretoriase laaghout-towenaar het sy passie vir houtwerk geërf van sy oupa – ’n bedrewe kabinetmaker wat ongelooflike houtwerk vir kerke reg oor die land gemaak het. Omdat sy pa en broer ook daarin belang stel, het Peet grootgeword met ’n goed toegeruste werkswinkel by die huis. Maar sy talent het eintlik ontwikkel terwyl hy ’n ses jaar lange vakleerlingskap gedoen het by Nic Godaurd van Swiss Joinery in Pretoria.
“Ek het Nic effens mal gemaak met my buitensporige idees vir kunsmeubelstukke,” vertel Peet. “Eers het hy altyd gesê dis onmoontlik om te maak, maar dan sou hy met oplossings vorendag kom – ’n proses waarin ons baie by mekaar geleer het.”
Peet het sy ontwerp- en skrynwerkvaardighede verder ontwikkel toe hy in die ses jaar daarna in Rotterdam ’n draai gaan maak het. Hier het die “eenvoud, elegansie, funksionaliteit en vernuf van Nederlandse ontwerp” hom beïnvloed.
’n Diploma in gevorderde omgewings-en-energiestudies in Brittanje het ook ’n diepe sorgsaamheid oor volhoubare produkte en prosesse by hom gevestig. “Ek het besef presies hoe skadelik die meeste produksieprosesse vir die omgewing is, en ek is daar weg met die voorneme om omgewingsvriendelik te werk.”
In 2005 het Peet Raw Studios begin, waar sy kliëntgerigte ontwerpe beïnvloed word deur gebruikersbehoeftes, produksieprosesse en modulêre uitbreiding. “Onlangs het ek ’n aanklik-kantoorstelsel van laaghout voltooi vir die koffi emaatskappy TriBeCa – dis volkome modulêr, gebruikersvriendelik en kan uitgebrei word, maar terselfdertyd werk dit naatloos binne die ervaring en ergonomiese vereistes van die handelsmerk.”
Dié innoverende Gridlock™-stelsel sal saam met Peet se hout-sluitkas, Ikonik™, te sien wees by stalletjie nommer B4 by die Design Indaba-ekspo.
• Raw Studios www.rawstudios.co.za