
FOTOS: Dook en Michael Le Grange | WOORDE: Alma Viviers
PEDERSEN + LENNARD het emmers vol planne – ‘n credo wat ook as riglyn dien vir hulle ontwerpe, tog is die trio met hulle voete stewig op die aarde as dit kom by materiaal, die proses en die produk.
Luke Pedersen en James Lennard het hulle benadering met produkontwerp al begin vorm terwyl hulle nywerheidsontwerp gestudeer het aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
In 2009 het hulle met die Johannesburgse entrepreneur Nhlanhla Ngwenya kragte saamgesnoer om hulle idees as Pedersen + Lennard te toets. In hulle Kaapse werkswinkel in Soutrivier, waar hoë stapels afvalhout en weggooilaaie wag om iets nuuts te word, gaan die gesprek oor die voor- en nadele van spesifi eke materiale, soos tekstielstowwe vs. leer, oor hoe om afvalmateriaal in die hande te kry en dit te gebruik, en oor hoe om met plaaslike vervaardigers saam te werk om topgehalteprodukte te maak.
“Dit lyk dalk idealisties, maar ’n groot deel van ons kreatiewe proses word aangevuur deur die verkenning van materiaal,” verduidelik Luke. “Nie alles hoef splinternuut te wees nie – ou voorwerpe kan met ’n ander perspektief nuut gemaak word.”
Die Bucket-stoel, van hulle eerste versameling, is ’n goeie voorbeeld. Om ’n emmer in te span vir sitplek is dalk nie ’n nuwe gedagte nie, maar as dit ’n liefl ik ontwerpte voorwerp word wat beter werk vir dié praktiese funksie, word dit iets oorspronkliks. Die verwyderbare gestoffeerde kussing stel jou in staat om die emmer ook as ’n bêreplek – of selfs ’n ysbak – te gebruik. En met die handvatsel kan jy dit maklik ronddra.
Die Bucket-stoel is die perfekte illustrasie van dié twee se geloof dat “fantastiese dinge kan gebeur as hand- en masjiengemaakte artikels by mekaar uitkom”. Die emmers word deur ’n handwerkspesialis in Nyanga, Kaapstad, gemaak en met ’n poeierverfl aag gespuit voordat dit laaghoutpote kry wat digitaal gesny word.
As jy nog van hulle werk wil sien, loer in by Pedersen + Lennard se stalletjie (E31) by die Design Indaba-ekspo.