Ligte, kamera, aksie…

FOTOS: David Ross | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes & Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly


Party mense sê werk is groter pret as enige pret self. Dit moet werklik waar wees by Grid Worldwide Branding & Design se nuwe Johannesburgse hoofkantoor.

Die druk om met iets ongeloofliks vorendag te kom vir jou eie werkomgewing moet taamlik hoog wees as jy een van die mees gerespekteerde ontwerpspesialiste in Suid-Afrika is. Dis hoekom Nathan Reddy, wat Grid in 2005 gestig het en die maatskappy se kreatiewe baasbrein is, die hulp van Tonic Design ingeroep het om vir die werkruimte wat hy in gedagte gehad het, ’n konsep te bedink wat minder kantoor en meer nagklub is.

Nathan het al saam met groot name soos Converse, Virgin Mobile, Suid-Afrikaanse Toerisme en die Lughawensmaatskappy gewerk en weet beter as enigiemand anders dat in die wêreld van ontwerp dit eerste indrukke is wat die deurslag gee. Daarom was sy bedoeling om ’n werkruimte te skep wat sy span én kliënte sou inspireer.

“Ek was op soek na ’n element van weelderige rustigheid: Dit moes effens voel soos ’n klub of restaurant of kroeg waar die mense wat jy ontmoet, in hulle vrye tyd ’n bietjie ontwerpwerk doen,” sê hy grappenderwys. Nou wil kliënte nie Grid se kantore verlaat nie – hulle vra trouens altyd of hulle hier vergaderings kan hou. “Dis ’n goeie sielkundige ding vir ons onderneming,” sê Nathan met ’n glimlag.

Twee werkstasies

Hy het twee werkstasies in die Grid-“nagklub”: Een in sy sitkamer-kantoor met sy glasmure, en die ander een by die lang werktafel in die middel van die kantoor waar die kreatiewe drukkoker prut.

Dis moeilik om nie mal te wees oor ’n kantoor sonder fluoorligte nie, een waar koel musiek heeltyd op die iPod speel. Die kroeggedeelte buite kan maklik dié van ’n byderwetse boetiekhotel wees, en die toilette met hulle Fornasetti-muurpapier is nogal fassinerend.

Nathan sê die personeel het inspraak gehad in die ontwerp van die kantore, veral wanneer dit gegaan het oor die ruimtelike beplanning. Grid se kreatiewe span het nog altyd om een lang tafel gewerk en wou dus daardie energieke dinkskrumgedeelte herskep waar idees die heeltyd uitgeruil word. Die klantediensafdeling het ’n bietjie meer privaatheid gevra en dus glasmure gekry, hoewel hulle enige tyd buitentoe kan kom en deel in die feestelike gevoel.

Hoewel Grid se kantore op vele maniere onkonvensioneel is, is dit tydloos genoeg dat dit nie maklik uit die mode sal raak nie. Grid gee vir sy kliënte ontwerpe wat 25 jaar moet hou; dus maak dit sin dat die maatskappy se eie voorkoms klassiek moet wees, iets wat maklik verfris kan word deur byvoorbeeld ’n nuwe kunswerk. As jy immers goeie ontwerp gaan gee, dan moet jy dit ook leef.

• Grid Worldwide Branding and Design: 011 502 4600, www.gridworldwide.com

VISI 57, wat vanaf 12 Oktober 2011 te koop is, is deur die span van Tonic aan mekaar geslaan. Maak seker jy koop dié ongewone uitgawe!