
FOTOS: Andries Joubert | WOORDE: Alma Viviers
Vir die ontwerpgerigte argitek Frank Bohm, wat ook sy voelers uitgesteek het na meubelontwerp, is daar geen groter vreugde as om’n groot houtstomp te sien wat wag om in ‘n meubelstuk omskep te word nie.
Frank kan dit al sien: ’n groot industriële ruimte vol houtstompe wat besig is om uit te droog. En genoeg ruimte om te ontwerp, werk en groot stukke te maak –“ ’n plek waar jy dinge máák; ’n plek wat oor leer en verken eerder as oor massaproduksie gaan.”
Dis die droom, maar tans is Frank heeltemal tevrede om te pendel tussen sy Kaapstadse argiteksateljee in Roeland Square (waar die papierwerk plaasvind) en die fabriek in Paardeneiland waar hy met ’n vervaardiger saamwerk om sy idees “werklikheid” te maak, soos hy dit stel.
Frank, wat eng definisies haat en stereotipes uitdaag, het ’n bykans frenetiese energie wanneer hy gesels oor meubels maak. “Die idee is die maklikste deel – dis amper impulsief en kos niks nie,” sê hy. “Om dit te maak, dís die moeilike deel.”
Sy stukke het ’n argitektoniese kwaliteit, met ’n spanning tussen materiale soos glas en hout. Hy erken hy hou daarvan om die grense van materiale of strukture te toets, en hy is tans besig om drie verskillende reekse te verfyn: Gallery (eenmalige stukke), Collections (eksklusiewe ontwerpe) en Alien (bekostigbare stukke van goeie gehalte vir massaproduksie).
Frank het onlangs die nuwe Waterkloof- wynkelder, -restaurant en -proekamer op Stellenbosch voltooi; hier is al sy vaardighede ingespan, van die ontwerp van die argitektuur regdeur tot by die opdienblad, ligte en meubels. Frank sal van sy werk by die Jo Carlinstalletjie (F12) op Design Indaba ten toon stel. Dis ook beskikbaar by Ebony (sien Nuwe winkels op bladsy 48) en die Dorpstraat-galery op Stellenbosch.
• Frank Böhm-ateljee 021 465 8783, 071 219 3850