FOTOS: David Hisock & Graham Gaunt | WOORDE: Elana Castle
Toe ’n egpaar besef hulle Hampsteadhuis het ’n rits ontwerptekortkominge, het hulle die Suid-Afrikaanse argitekte van ’n Londense firma genader. Die resultaat is ’n herontdekking van die luilekker leefstyl wat hulle so geniet.
Jy hoor dikwels hoe Suid-Afrikaners wat in Brittanje woon, steen en been kla oor die koue, nat weer. Ons is immers mense wat hou van die son; ons is mal oor die warmte en natuurlike lig wat ons Afrika-huise die grootste deel van die jaar vul.
Toe die Suid-Afrikaanse eienaars van dié huis uit die jare twintig, geleë in ’n Londense bewaringsgebied, dus die eerste keer op die eiendom afkom, was hulle onmiddellik gaande oor die ligteruimtes en enorme buitenshuise deel. “Die huis het ’n helder en ruim gevoel – net die soort gesinshuis waarna ons op soek was,” verduidelik hulle. As onlangse immigrante in Londen nadat hullebaie jare in Spanje gewoon het, was die eienaars vasbeslote om die ontspanne en gemaklike leefstyl te handhaaf waaraan hulle in Suid-Afrika en die Mediterreense streek gewoond geraak het.
Maar slegs 18 maande nadat hulle ingetrek het, ontdek hulle toe hulle droomhuis is nié so perfek nie. ’n Gebrekkige beligtings- en verhittingstelsel was maar net die begin. Die grootste probleem sou uiteindelik veel moeiliker wees om op te los. “Nadat ons ’n ruk lank in die huis gewoon het, het ons besef die onsamehangende rangskikking van die ruimtes verhinder ons om die huis in sy geheel te geniet. Ons onthaal graag groot groepe vriende, maar hier was dit taamlik moelik om dit te doen.”
Met die vooruitsig om in ’n huis te bly wat nie aan hulle verwagtinge voldoen nie – en dalk vele maande na ’n nuwe plek te soek – besluit hulle toe om die hulp in te roep van KSR, ’n gevestigde Londense argiteksfirma met goeie residensiële ervaring wat deur drie Suid-Afrikaners bedryf word. Die huiseienaars was onmiddellik gerusgestel dat hier begrip sou wees vir hulle vereistes van lig, ruimte en ’n ontspanne leefstyl, en die span het weggeval en ’n uitgebreide restourasieprojek begin beplan.
“Die opdrag was relatief maklik,” verduidelik Gordon Jefferys, ’n vennoot by KSR en ontwerpargitek vir die projek. “Die kliënt wou ’n samebindende verhouding tussen die groot leefgedeeltes bewerkstellig waarin klein groepe mense byeen kan kom, maar waar ’n mens op groot skaal kan onthaal. Hulle wou ook ’n nuwe ruim hoofslaapkamersuite hê, ’n aangepaste ingang en ’n swembad.
Met die aard van die Engelse somer moes dit maar van die binnenshuise soort wees!” verduidelik Gordon. “Die konsep was om al die hoofleefruimtes met ’n tuinvertrek saam te trek wat die ruimtes dan almal met die buitegedeelte verbind.”
‘n Onversteurde uitsig
Dié strategie is duidelik sigbaar wanneer ’n mens van die tuin af na die huis terugkyk. Die fasade is behou, maar die agteraansig is as ’n integrerende deel van die ontwerp ontwikkel. In ’n bewaringsgebied word dikwels toegewings gemaak met sulke aanpassings en KSR het dit ten volle benut.
Die oorspronklike, tradisionele fasade vorm ’n dramatiese teenstelling met twee glasvolumes wat lyk asof dit in die tuin uitskiet. Die eerste is die tuinkamer van glas, ’n ontspanne sitkamer met ’n onversteurde uitsig op die nuutontwerpte tuin. “Dié vertrek het groot skuifdeure wat na buite oopmaak, maar die skuins dak gee ’n mens ook die gevoel dat dit die buitekant na die huis toe aantrek,” verduidelik Gordon.
Die tweede ruimte is die binnenshuise swembad, wat luuks afgewerk is in harpuis en swart silikasand. Hoë bobeukvensters nooi die blou lug in die ruimte in – en die resultaat is ’n waarlik glansryke en teatrale toevoeging tot die huis.
Geen binne-buitenshuise skema is volledig sonder ’n sterk verbintenis met die tuin self nie, en KSR het nou saamgewerk met die landskapkonsultante om ’n sterk en ryk buitedeel te ontwikkel wat pas by die beplanning van die huis en die eienaars se leefstyl. Omtrent al die beskikbare ruimte is gebruik. ’n Terras met ’n dek net onder die tuinvertrek verskaf die agtergrond vir die buitenshuise eetgedeelte, wat goed toegerus is met kosmaakgeriewe en ekstra sitplek. Ander elemente is groot gras- en plantdele, beeldhouwerke en waterfokuspunte.
As die weer nie saamspeel nie (en dít gebeur net-net te veel na hulle sin), maak die gesin volle gebruik van die nuwe informele eetkamer wat soomloos in die nuwe, glimmende wit kombuis oorgaan. Die formele eetkamer- en sitkamergedeelte is, heel gerieflik, reg langsaan, maar trek nietemin voordeel uit ’n veel meer gestruktureerde interieur. Rosie Winston van Clifton Interiors het gehelp om die eienaars se eklektiese styl in ’n holistiese geheel saam te snoer. Ryk teksture, verskillende kuns- en dekoritems en sterk afdrukke werk saam om ’n sterk sinergie in die huis te bewerkstellig.
Rosie eksperimenteer graag met teksture en meubels en haar kenmerkende styl, ’n rooigeverfde geboë portaalmuur en dramatiese ligte sorg vir die finale afronding. Die tema word deurgedra na die hoofslaapkamer, wat ook ’n ontwerp-intensiewe restourasie ondergaan het. “Die slaapkamer het net een kas gehad,” onthou die eienaars. Boonop het die ruimtes nie juis karakter, intimiteit of ’n weelderige gevoel gehad nie. “Ons het die hele deel herbeplan,” verduidelik Gordon. “Ons het ’n ry diep, suède-gevoerde kaste bygevoeg, die badkamer verskuif sodat ’n mens oor die tuin uitkyk, en ’n skilderdoek geskep wat die kliënte met hulle eie styl kan versier.”
Die resultaat is ’n gelukkige gesin wat uiteindelik die huis en leefstyl het wat hulle nog altyd in gedagte gehad het.
• KSR Architects www.ksra.co.uk
• Clifton Interiors www.cliftoninteriors.com

