Old Mac Daddy

FOTOS: Old Mac Daddy | WOORDE: Michelle Coburn


Kapenaars wat elke langnaweek die Groot Trek oor die Hottentots-Hollandberge aanpak, sal binnekort ’n splinternuwe uitspanplek kan besoek: die Old Mac Daddy-woonwapark in die Elginvallei.

Ongeveer drie jaar gelede het die ou dae se woonwavakansies uit die familie-album verdwyn en ’n sjiek nuwe beeld gekry – op die dak van Kaapstad se Daddy Long Legs-hotel. Die innoverende Penthouse Airstream-woonwapark met sy sjiek sleepsels wat elkeen individueel deur ’n ander kunstenaar versier is, was so ’n treffer dat die gedagte vir ’n landelike Airstream-park gebore is. En die appel het nie ver van die boom geval nie…

Teen Junie 2010 sal Kapenaars ’n bekostigbare plattelandse wegbreek skaars 40 minute se ry uit die stad kan ervaar. Die Daddy Long Legs-groep se Jody Aufrichtig gee VISI ’n kykie op die werk wat agter die skerms plaasvind om dié nostalgiese oord ’n werklikheid te maak.

Ligging

Die soektog na ’n geskikte stuk grond om te huur het die span gelei na die Vuki-plaastrust, ’n landboubemagtigingstrust op Elgin. Die gekose plek, ’n bestaande kampterrein wat effens reggeruk moes word, spog met denneboombedekte heuwels, diep plaasdamme en hope vars lug.

Die voorkoms

’n Uitnodiging aan ontwerpers en ander kreatiewe geeste om konsepte vir die interieurs voor te lê het tot 50 voorleggings gelei. Ná ’n openbare stemming is 10 kunstenaars gekies. Een van die VISI-span se gunstelinge is “For Better or for Boerewors” deur Julie Kenney, wat nostalgiese elemente uit die Karoo-plaaslewe bevat.

In April het die wenners onder leiding van die kunstenaar Tracy Lynch hulle slaapkamersuites by die Old Mac-werkswinkel in Tuine geskep, met die finale afronding wat op die terrein gedoen sal word sodra die woonwaens soontoe gesleep word.

Verblyf

Gaste kan een van 10 woonwasuites bespreek, elkeen met ’n hoofslaapkamer, badkamer en ’n eie sitkamer en grasperk. Daar’s ook twee kleiner en suite-eenhede teen die water, en ’n drieslaapkamerplaashuis vir gesinne, Daddy’s Villa. Kabellose breëband en konferensiegeriewe sal beskikbaar wees.

Kampplek met ‘n verskil 

Old MacDaddy het ’n gemeenskaplike deel met onder meer ’n swembad waar gaste gesonde etes kan geniet; dit word berei met organiese en vryloopbestanddele wat plaaslik verkry is. Kinders het hulle eie binnenshuise speelplek waar daaglikse aktiwiteite aangebied word.

Eko-kenmerke

Wateropvangpunte waar water met sonkrag verhit word, kry ook twee geisers om seker te maak daar’s altyd warm water. Oral word FSC-hout (dus goedgedeur deur die Forestry Stewardship Council) gebruik, en alle nuwe plante in die tuine is inheems. ’n Herwinnings-en-komposstelsel sal in die blyplekke en sentrale leefskuur op die been gebring word. Daar sal ook kruie-en-groentetuine aangeplant word by die kamp.

Sin vir gemeenskaplikheid 

Vir die projek is bouers en handwerkmense uit die Elginvallei gebruik, en die kampterrein se personeel sal ook uit die gemeenskap kom. Die eienaars se mikpunt is om Fair Trade-akkreditasie te kry vir Old Mac Daddy – ’n proses van ’n jaar wat hulle reeds met die Daddy Long Legs-hotel reggekry het.

reservations@oldmacdaddy.co.za, www.oldmacdaddy.co.za