‘n Nuwe baadjie vir Kunstekaap

Read in English.

‘n Plan van R1,5 miljard is pas bekend gemaak om die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad in ‘n ikoniese kulturele distrik te verander wat deel vorm van die ingrypende hernuwingsprojekte in die Strandgebied.

Die konsep is die werk van ’n span onder leiding van die argitek Andrew Flint van Gapp Architects. Hoewel die sentrum volgens hom reeds ’n woelige 24-7-ruimte en polspunt vir kunsontwikkeling en -gemeenskapsprojekte is, is die hoofdoel met die nuwe plan om die funksionaliteit van die kompleks te verbreed om dit ook in ’n toeriste-, handel-, en gasvryheidsbestemming te verander.

“As gebou was die Kunstekaap-sentrum dalk eerder ’n simbool van kulturele onderdrukking as kulturele uitdrukking en vermaak, maar dit is wel ’n goeie voorbeeld van beheerste modernisme. ’n Mens sit met ’n gevestigde gebou – ’n grande dame – waarvan jy beslis nie ontslae wil raak nie, maar jy wil tog nog vele kulturele lae byvoeg – iets wat beslis ’n saamwerk-ontwerpprojek moet wees,” sê Andrew.

Die voorlopige ontwerpgedagtes getitel “Artscape Live Vision 20!20” is allermins ’n finale ontwerp, maar hopelik ’n vonk wat Andrew hoop debat en entoesiasme vir herbesinning oor die distrik sal aanwakker. Finale goedkeuring moet nog op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak verkry word, en so ook genoegsame fondse om die projek te implementeer.

Andrew se plan is om die 41 jaar oue kompleks uit te brei na die sowat 17 000 vierkante meter aangrensende grond om een van die grootste distrikte in Afrika te skep wat spesifiek op die uitvoerende kunste fokus. Die uitbreiding sluit in ’n kunsakademie vir 300 studente, ’n wêreldklas konsertsaal, drama-ateljee, ’n touwerk-ateljee vir die Zip Zap-sirkusskool, vier dubbelvolume-seminaarlokale wat ook as repetisievertrekke kan dien, asook drie repetisielokale wat spesifiek verskillende dansvorme kan akkommodeer.

“Omdat die wind baie sterk is in hierdie deel van Kaapstad moet ’n mens as’t ware die weer tem om dit in ’n fantastiese binne-buite-ruimte te verander,” verduidelik Andrew, wat kragte saamgesnoer het met RHWL Architects in Londen, ’n praktyk wat in teater- en kunste-ontwikkelings spesialiseer.

Michael Maas, uitvoerende hoof van Kunstekaap, stem saam: “Deur die Kunstekaap-kompleks meer as te verdubbel sal Suid-Afrika aan die voorpunt van die internasionale kulturele ekonomie plaas en die huidige aantal poste in die plaaslike uitvoerendekunste-sektor verdubbel.”

Die ekonomiese impak is duidelik as ’n mens in ag neem dat die Kunstekaap se totale personeelnetwerk van 754 insluit bestuurders, verhoog-, klank- en beligtingspersoneel, stelbouers, garderobe-spesialiste, grimeerkunstenaars, uitvoerende kunstenaars, onderwysers en administratiewe personeel. Nog 414 poste word deur die sentrum ondersteun, en die meer as 715 produksies en saamtrekke per jaar lok jaarliks 317 000 besoekers. Die organisasie se regstreekse bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie word op R541 miljoen per jaar geraam.

“Die uitvoerendekunste- en vermaakbedryf is een van die snelgroeiendste sektore in die moderne wêreld wat ’n betekenisvolle bydrae lewer tot ekonomiese groei in stede en streke. Om met toekomstige groei en die toename in vraag tred te hou het Kunstekaap die geleentheid aangegryp om sy kapasiteit en vaardighede uit te brei,” sê Maas.

Prof. Somadoda Fikeni, voorsitter van Kunstekaap, sê: “Ons visie vir 2020 is om ’n middelpunt van kulturele uitnemendheid te skep deur die uitvoerendekunste-sektor in te span as die hoofkatalisator vir ekonomiese groei, menslike ontwikkeling en maatskaplike samehorigheid.”