Leef, Slaap, Speel.

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


Met die argitek Pietro Russo se Ecomo- modulêre stelsel is dit nie net makliker en vinniger om ’n huis te bou nie, maar ook aansienlik meer omgewingsvriendelik.

As jy na die Skandinawiese houtkubus, die donker denneboomwoud en die dramatiese bergpieke op hierdie blaaie kyk, dink jy waarskynlik die VISI-span was Switzerland toe om Heidi se nuwe naweekhuise te gaan afneem. Verkeerd. Die Ecomo-huis – die eerste van sy soort – is jou werklikwaar op ’n bekende wynplaas net buite Franschhoek.

Die Italiaans-gebore argitek Pietro Russo is reeds sedert sy studentedae geïnteresseerd in modulêre huise, veral binne die konteks van maatskaplike trosbehuising. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat hy die afgelope agtien maande die Ecomo-stelsel ontwikkel het, ’n topgehalte voorafvervaardigde modulêre sisteem wat op beginsels van volhoubaarheid gegrond is.

“Die ‘boublokke’ is basiese 5×5-modules,” verduidelik hy. “Daar is drie komponente: ’n slaapmodule met ’n en suite-badkamer, ’n leefmodule wat die kombuis huisves en ’n speelmodule wat as ’n leefkamer gebruik kan word.”

Elke module rus op vier betonstelte, wat deur blokfondamente ondersteun word. Die mure word vooraf vervaardig en later op die bouterrein geïnstalleer. Anders as met konvensionele bouwerk gee die Ecomo-stelsel jou meer beheer oor die gehalte van die bouwerk asook die kosteberekening, en natuurlik het jy ook aansienlik minder tyd nodig vir die ontwerp- en die bouwerk.

Na gelang van die spesifikasies duur die totale bouproses sowat vyf weke, sê Pietro, maar hy maak dit ook duidelik dat “voorafvervaardig” beslis nie aan “onpersoonlike herhaling van generiese standaardgrootte bokse” gelyk gestel moet word nie!

“Die stelsel gee in werklikheid die kliënt baie meer vryheid,” sê hy. “Die moontlike groeperings van die modules is eindeloos, en so ook die keuse van afwerkings en toebehore.”

Die eko-voordele van voorafvervaardigde komponente, tesame met die gebruik van reënwatertenks, ’n sonkrag-geyser, LED-ligte, groen afwerkings en die herwinning van gryswater, gee boonop aan die Ecomo-stelsel ’n indrukwekkende groen gradering.

Met die eerste oogopslag lyk dit of die stelsel die beste sal werk in landelike gebiede en Pietro gee toe dat hy dit aanvanklik ontwerp het met natuurlike omgewings in gedagte. Tog is hy nou seker dit kan ewe goed werk as ’n sjiek dakwoonstel bo-op ’n wolkekrabber of as ’n aanbouing tot ’n bestaande huis in die voorstede. Sela.

• Ecomo 072 445 9373, www.ecomohome.com