Kroniek van ‘n familiehuis

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


’n Modernistiese familiehuis op Stellenbosch, ontwerp deur die argitek Pius Pahl, het oor twee generasies van dieselfde familie verskeie gedaanteverwisselings ondergaan om by die behoeftes van sy inwoners aan te pas.

Lag maar: Die “laaste” – en grootste – verbouing het begin nadat die interkom by die hek iewers in 2007 gesteel is. “Ek was so kwaad daaroor,” sê die eienaar, wat op VISI se papier net as mnr. H. wil bekend staan, “dat ek die argitek Hein Visser gebel het om die hek – eintlik die hele ingang – te kom verander.”

Maar toe die argitek eers hier invaar, het hy en mev. H. gou-gou ’n hele klomp ánder veranderings in die mou begin voer. “Hulle het aan omtrent alles behalwe die slaapkamers en die wynkelder gewerk – van ’n instap-yskas en tuis-outomatisering tot ’n nuwe afdak, waskamer en ’n aantrekkamer vir ons slaapkamer.”

Die ingrypendste van die lot, sê mnr. H., was die splinternuwe eenheid op die onderste deel van die erf teen die pad: Op die grondverdieping is twee slaapkamers, elk met sy eie badkamer, asook ’n klein kombuiseenheid, en op die eerste verdieping ’n ateljeeruimte.

“Ons het besluit om die huis so in te rig dat ons hier kan bly tot ons voete eerste hier uitgaan. Ons gebruik die eenheid vir gaste en vir wanneer al ons kinders met hulle kêrels en meisies kom kuier, maar later kan dit dien as ’n blyplek vir iemand wat ons versorg.”

Die nuwe eenheid het twee besonderse uitdagings meegebring: Eerstens moes die ou huis en die nuwe eenheid met mekaar versoen word sonder om aan die oorspronklike Pahl-ontwerp afbreuk te doen; en tweedens is almal – van die argitek tot die bouer – die dood voor oë gesweer as die eeu-oue olienhoutboom wat tussen die twee staan, in die bouproses iets sou oorkom.

Kenners reken die boom was lank terug tuis op die oewer van die Eersterivier, wat deesdae ’n paar honderd meter ondertoe by Coetzenburg verbyloop. As jy hier grawe, sug mnr. H., is dit die ene rivierklip…

Eenvoudige, minimalistiese ontwerp

Visser Kapperer De Bruin-argitekte, wat ook die gesin se vakansiehuis in die Laeveld en hulle kantoor op die dorp ontwerp het, se oplossing vir probleem nommer een was ’n gang op drie vlakke wat terselfdertyd ook die nuwe ingangsportaal huisves. Die nuwe voordeur word aangekondig deur ’n swiepende koperdak, wat oor tyd ’n groen patina sal ontwikkel, terwyl die eenvoudige, minimalistiese ontwerp van die nuwe slaapkamer-en-ateljee-eenheid sorg dat dit nie met die bestaande huis inmeng nie.

Probleem nommer twee, die olienhoutboom, het heelwat fyn meet- en paswerk vereis: ’n Tak of wat het in die slag gebly en die boomwortels moes met sakke toegedraai word om te keer dat die beton vir die fondasie dit beskadig. Tog, nou meer as ’n jaar sedert die bouspan weg is, staan die boom steeds hier, grasgroen van geluk, op presies dieselfde plek waar dit gestaan het toe mnr. H. se ouers destyds die huis laat bou het.

“Hierdie was een van die laaste twee erwe wat van die oorspronklike Mosterdsdrifplaas afgekoop is,” vertel hy. “Ek was so vyf jaar oud, hier rondom 1959, toe my pa vir Pius Pahl gevra het vir ons ’n huis te ontwerp.”

Pius het in 1952 van Duitsland, waar hy aan die bekende Bauhaus onder meesters soos Mies van der Rohe gestudeer het, na Suid-Afrika geëmigreer en op Stellenbosch kom woon. Die Bauhaus-beweging, wat daarna gestreef het om die gaping tussen vakmanskap en dissiplines soos ontwerp, argitektuur en skone kunste te oorbrug, het geboue onder meer as driedimensionele kunswerke benader en Pius het dié beginsels ook in sy Suid-Afrikaanse ontwerpe toegepas.

“Ek onthou hoe Stellenbossers op Sondaemiddae voor ons huis geparkeer het om na die ongewone ontwerp te kyk,” sê mnr. H. ’n Modernistiese huis was revolusionêr vir daardie tyd, veral in ’n dorp waar huise oorwegend in die Kaaps-Hollandse en Victoriaanse boustyl is. Nie net het dit ’n plat dak gehad nie, maar kenmerkende ontwerpdetail soos “Pahl se paaltjiesheining”, ’n voordeur van hout en helderkleurige linoleum, groot vensters en dun staalkolomme, het ook die argitek se agtergrond verklap.

Kenmerkende detail

Die gesin het daar gebly tot mnr. H. klaar gestudeer het en uit die huis getroud is in 1976. Nie lank daarna nie het sy ouers die familiehuis verkoop. ‘n Hele klompie jaar daarna, in 1990, het mnr. H. aan ’n Paul Roos “Old Boys”-gholfdag deelgeneem toe een van sy pa se oudkollegas vertel hulle is aan’t huis koop op Stellenbosch. ’n Eiendomsagent het ook dié dag saam stok geswaai en vertel van ’n huis in Jonkershoekweg wat net die vorige dag op die mark gekom het. Dit was sowaar die ou familiehuis, en al was dit verwaarloos, het die twee eienaars wat na mekaar daar gebly het, niks noemenswaardig daaraan verander nie. Hulle het dieselfde dag nog die huis teruggekoop en die argitek Annette Steenkamp aangestel om die “eerste” verbouing te doen.

“Ons het ongelukkig in daardie stadium baie van Pius se oorspronklike detail uitgegooi,” vertel hy, “soos die voordeur met die helderblou linoleum-inlegwerk, die leiklipteëls, ’n ingeboude studeertafel wat Pius self ontwerp het, en sulke tulpvormige beligting in die sitkamer…”

Hulle het wel ná dié verbouing vir Pius oorgenooi vir tee, en behalwe vir die voetgangerhekkie wat hy nie sou verander nie, het al die ander veranderinge sy goedkeuring weggedra. En, sê mnr. en mev. H met ’n vars koppie tee byderhand, hoewel Pius in 2003 oorlede is, is hulle taamlik seker hy sou baie tevrede gewees het met die nuwe toevoegings deur Visser Kapperer De Bruin-argitekte.

Want ondanks die feit dat baie van sy kenmerkende detail destyds en nou met die tweede verbouing in die slag gebly het, is die ou gedeelte van die huis steeds pure Pius Pahl – ’n sprekende bewys van hoe gemaklik Modernisme met metamorfose is en presies hoe robuus en akkommoderend die ruimtes is wat dié meester ontwerp het.

• Visser Kapperer De Bruin-argitekte 021 880-2991, www.vkdb.co.za