Koppie kruie

WOORDE Nadine Botha FOTO’S Fay Jackson


Read in English.

Drink koffie en bou jou eie groentetuin op met Truth se nuwe projek, Seeds of Truth, wat in samewerking met die digitale agentskap Native ontwikkel is.

Vir dié projek word koffie in bioafbreekbare beperkte-uitgawekoppies met ’n saadring rondom bedien. Ná jou laaste slukkie frommel jy bloot die ring op, sit dit in die koppie en voeg grond en water by om jou kruietuin te begin. Daar is basiel, roket en tiemie, terwyl ’n gegraveerde roerstokkie jou herinner wat jy geplant het.

Ons was bra skepties toe die uitnodiging na die bekendstelling met die belofte kom van ’n “koffiekoppie wat heeltemal verdwyn”, maar ons het dit gou “gesluk”. Sodra die kruie uitloop, plant jy die bioafbreekbare koppie net so in die tuin of ’n groter planthouer. En siedaar, die koppie disintegreer!

Dis mos ’n vars benadering tot “grondopvulling”. Terloops, in Amerika beland ’n allemintige 250 miljard wegneemkoppies elke jaar in asblikke. Om dít in perspektief te stel vir Suid-Afrikaners: “een wegneemkoppie per dag vir ’n jaar skep ’n ton rommel, roei 30 vierkante meter van ’n woud uit of stuur 10 kg koolstof die atmosfeer in,” sê Truth se persverklaring.

“My doel is om die werklikheid van herbenutting eerder as herwinning te benadruk,” sê Truth se uitvoerende hoof, David Donde. “Native het my met dié idee genader; dis die resultaat van ’n gesamentlike werksessie.”

Native se skeppende hoof, Ryan McManus, vertel: “Ons besef jy kan nie verwag mense moet ophou koffie koop nie. Ons wou egter hulle koolstofvoetspoor kleiner maak én vir stadbewoners ’n kruietuin gee.”

VISI reken dis ’n briljante idee en kan nie wag om te sien hoe Seeds of Truth die stad groen verf nie. Ons is seker dis net ’n kwessie van tyd voor vernuftige Kapenaars in guerrilla-tuiniers ontpop wat flink saadbom – veral noudat stedelike plase op allerlei onverwagse plekke opduik. Onthou ons artikel oor die Oranjezicht-stadsplaas en Liani van der Westhuizen se blog oor stedelike kostuine? Om nie te praat van die smullekker plakkershuis en die verplaasbare plaas nie.

O ja, die ontwerp op die koppies is deur die illustreerder Christiaan Venter – dis so mooi, jy wil dit amper nie begrawe nie!

Lees meer hieroor by www.truthcoffee.com/seeds-of-truth

Kyk ook na ons fotosessie van Truth se ongelooflike steampunk interieur.