PHOTOS: Merwelene van der Merwe | PRODUCTION: Annemarie Meintjes | WORDS: Jacqueline Myburgh Chemaly
‘n Nuwe gastehuis op ’n beskeie straathoek in Parkwood, Johannesburg, vorm ’nstylvolle balans tussen oud en nuut – en gee nuwe betekenis aan die woord restourasie.
Toe Hannia Weber en haar man besluit om’n donker, vaal en toegegroeide Johannesburgse huis uit die jare vyftig in’n gastehuis te verander, het hulle geweet dis’n ongewone paadjie wat hulle aandurf. Om hierdie ruimte te omskep in iets wat kontemporêr en stylvol is en terselfdertyd getrou bly aan die stad se erfenis, was ’n proses wat eerder as ’n soort evolusie beskryf kan word as restourasie.
Hulle het wel vir seker geweet hulle gaan nie die gewilde restourasieroete inslaan en die helfte van die gebou platslaan nie. Die restourasie van Ilali het eerder ’n organiese transformasie geword van die struktuur byna presies soos dit 18 maande gelede gestaan het – die huis se beendere het bloot nuwe funksies gekry.
“Vir my het die restourasie ’n vorm van herwinning geword, ’n projek waarin ons sou werk met wat ons het,” sê Hannia.
Met die hulp van die binnehuisontwerpers Lantis-Bain Scorgie en Anthony Fourie van AntLantis het baie vertrekke bloot ’n nuwe rol gekry, en spitsvondige dekorafwerkings het Ilali in ’n kunstige, moderne ruimte verander wat niks van sy ou siel verloor het nie.
Saam het Hannia en Lantis uitgewerk hoe om vir al die vertrekke ’n nuwe doel te kry – die kombuis is nou ’n sitkamer, ’n opwaskamer nou ’n badkamer en die sitkamer het die eetkamer geword. Die enigste strukturele veranderings was om ’n paar binnemure uit te breek of te bou, die binnehof toe te bou en twee badkamers by te voeg.
Die doel was om ’n leefbare ruimte te skep eerder as om ’n argitektoniese stelling te maak. En dit werk. Die restourasieprojek het sin gemaak vir dié huis en vir haar eie styl, wat altyd erkenning gee aan die verlede, maar tog die hede aangryp, sê Hannia.
Haar unieke styl word weerspieël in die spitsvondige sofistikasie van Ilali se ontwerpelemente: Kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns hang gemaklik neffens oorgroot Tretchikoff-afdrukke. Ou houtkratte wat eens vol monsters uit mynare was, is herwin en vorm nou spieëltafels en boekrakke. Mexikaanse spieëls van Hadeda verleen glans aan ’n sitkamer waarin Hannia se eie ou leerbank staan en ’n klompie retro-eende teen die muur verby vlieg.
Dié Suid-Afrikaanse mengelmoes van style weerspieël nie net Hannia se smaak nie, maar ook ons nasie se kleurryke karakter. Ilali beteken “dorpie”, en dit was vir Hannia belangrik dat die gastehuis, wat baie naby Parktown-Noord se koffiewinkels, restaurante en winkels geleë is, by sy omgewing inpas. “Ons wou dit deel maak van een van die min straatdorpies in Johannesburg.”
Die hart van die huis
Hannia se benadering was ook gegrond op dít waarna sy in ’n hotel op soek is wanneer sy reis: gemak, styl en gerief, maar nie teen ’n vyfsterprys nie.
Op twee gebiede wou sy nie suinig wees nie: matrasse en bedlinne van goeie gehalte, en die luuksste badkamers moontlik.
Lantis en Anthony se bydrae was kritiek; hulle het gesorg vir die ontwerpelemente wat sy eenvoudig nie self kon baasraak nie. “Hulle het presies verstaan wat ek bedoel toe ek vra of hulle net kon ‘vat en los’,” verduidelik Hannia.
Gewapen met die kennis dat Hannia se gunsteling-kleurskema ’n uitgewaste skakering van akwa is saam met rooi, het Anthony en Lantis Ilali se ontwerp saamgetrek. Hulle het Hannia oortuig om spatsels pers in te bring en byderwetse elemente soos bedkopstukke met tatoeëerkuns voorgestel as hulle gevoel het die vertrekke word te stemmig. Dié kopstukke het uiteindelik Ilali se unieke kenmerk geword, en almal het ’n plaaslike aard – van die kenteken van die ou Suid-Afrikaanse Lugdiens tot ’n Johannesburgse straatkaart.
In die eetkamer getuig twee enorme skilderye deur Hannia se ouma – die beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaar Hannatjie van der Wat – van haar liefde vir familie, maar ook vir haar geboorteera van die jare sestig en sewentig.
Uiteindelik word dit in die buitekant en tuin duidelik presies hoe slim hierdie restourasie gedoen is. ’n Sementkleur Tiroolse muurafwerking verleen nie net aan die 60 jaar oue huis ’n tydlose gevoel nie, maar beteken ook die eienaars hoef dit nooit weer te verf nie. Hulle kan eerder agteroor sit en kyk hoe die mure verouder en ’n eie sjarme en patina ontwikkel. Lantis verduidelik dat as hulle die mure gepleister en geverf het, sou elke spitsvondige element uit plek gelyk het.
Die landskapargitek Grieta Web het raad gegee oor die ideale tuinuitleg, met Hannia wat geïnspireerde ontwerpe binne die raamwerk geskep het. Omtrent elke plant kom uit ander mense se tuin; haar skoonma het vir haar die dramatiese aalwyne gegee wat trots by die ingang waghou. “In die ou dae was daar nie kwekerye nie,” sê sy. “Mense het mekaar gehelp om ’n tuin te vestig deur virmekaar steggies te gee en plante wat hulle nie meer wou hê nie.”
Selfs die motoroprit is ’n herwinde kunswerk: Dié is afgerond met gebreekte teëls en bakstene wat in mooi krulle gepak is. “Ons het bloot die materiaal vir die bouers gegee saam met wie ons al 15 jaar werk en vir hulle gesê wat ons in gedagte het. En dís waarmee hulle vorendag gekom het. Dis ’n meesterstuk.”
Die hart van die huis is die rustige seegroen-en-houtskool binnehof wat eens ’n koue, donker en toegegroeide agtertuin was. Vandag is dit ’n sonnige, stil ruimte met ’n waterfokuspunt deur Andrew Lindsay en ’n gesellige sitpaviljoen waar Hannia dikwels haar gaste laatnag raakloop terwyl hulle op hulle skootrekenaar sit en werk. ’n Vuurput sorg vir ’n tikkie Afrika-warmte, en Hannia se buitelandse gaste is mal daaroor.
En hoe kan hulle nié wees nie? Met die hart en siel wat in dié restourasie gestort is, gaan Ilali beslis ’n tweede tuiste word vir gaste wat ook ’n voorliefde het vir alles wat lieflik en blywend is.
• Ilali guesthouse 071 392 1851, hannia@mwebbiz.co.za, www.ilaligh.co.za
• AntLantis 082 581 4468, antlantis@telkomsa.net
• Grieta Web 082 903 9630
Eenvoudige,bekostigbare restourasielesse
• Nuut IS nie altyd beter nie Die deurhandvatsels is vervang met mooier ou handvatsels. Lantis en Anthony (heel regs) waarsku daarteen om ou afwerkings met splinternuwes te vervang: Die gevaar bestaan dat alles anders dan uit hulle plek lyk – en die dominoeffek kan ’n duur storie word.
• Behou soveel as moontlik Hannia (links) het nie ’n enkele vensterraam vervang nie – slegs party van die glas. Dit het haar ’n klomp geld bespaar, en gehelp om die huis se oorspronklike karakter te behou. Sy het ook die oorspronklike dakteëls behou.
• Beperk ins tandhouding ’n Sementkleur Tiroolse tekstuurafwerking op die buitemure beteken die gastehuis hoef nooit weer geverf te word nie – ’n groot besparing in instandhoudingskoste.
• Herwin en hergebruik Die herwinningsetiek is ’n leefstylkeuse wat bygedra het tot Ilali se unieke ontwerp en ’n integrale deel van dié restourasieprojek – van die tuin en die motoroprit tot die herwinde mynkratte en die mosaïek-waterfokuspunt