WOORDE: Nicci Collier | FOTO’S: John Second
Toe ’n graad in die rekenaarwetenskap en siviele ingenieurswese nie sy vindingryke streep kon bevredig nie, het Pierre Cronje na die timmermanswerkswinkel teruggekeer om ’n droom te bewaarheid. En watter werkplek is dit nie.
Die soet, aardse geur van houtsaagsels hang in die lug, terwyl die gedreun van skuur-, saag-, skaaf- en vormmasjiene die klankbaan vorm vir die 160 skrynwerkers wat hier enorme lengtes boomstomp in lieflike hangkaste, tafels en spieëltafels verander.
Pierre Cronje se fabriek is enige skrynwerker se droom. In dié reusagtige pakhuis staan ’n magdom spesiaal gemaakte erfstukke in verskillende stadiums van voltooiing – van tafels van soliede Franse eikehout (met handgemaakte spykers wat uit Frankryk ingevoer is) tot ’n massiewe hangkas met ’n pragtige gewel.
Daar’s ook eetkamertafels met ingewikkelde parketstyl-inlegwerk van hout en ivoor, hemelbeddens van Franse kersiehout en Metro-sytafeltjies met net drie pote. Die beddens en sytafeltjies vorm deel van Pierre se nuwe reeks klaargemaakte meubels, Simply Pierre, waarmee hy die gehalte en vakmanskap van sy opdragstukke meer toeganklik wil maak.
En watter slim plan is dit nie! Waar een van sy klassieke agtsitplektafels van Franse eikehout jou maklik R30,000 uit die sak sal jaag, kan jy nou ’n eenvoudiger tafel van eshout aanskaf vir R10,000. Pierre maak natuurlik steeds op bestelling die klassieke stukke vir mense wat wil belê in ’n erfstuk.
Vereenvoudigde ontwerpe
Vir die Simply Pierre-reeks, wat tegelykertyd kontemporêr is én van tradisionele vakmanskap getuig, het Pierre sy ontwerpe aangepas en vereenvoudig – van sy soliede eetkamertafels tot tradisionele melkstoeltjies en ’n plasmaskerm-eenheid.
Die eenvoud van die Sandveldstoel, byvoorbeeld, hunker terug na die sober eenvoud van die lewe vroeg in die 19de eeu in dié kontrei. Die oorspronklike stoele was klein en laag met goeie proporsies, en is nooit met olie of politoer behandel nie, maar tradisioneel een keer per week afgedra na die rivier, waar dit met riviersand geskuur is.
“Ek bewonder die eerlikheid van hierdie stoel al vandat ek destyds Kaapse meubels begin versamel het,” sê Pierre.
Sy weergawe van soliede Franse eikehout spog met ’n riempie-sitplek van rou koedoeleer. “Die rou leer sal net so lank hou soos die stoel,” sê hy. “Deesdae word leer meestal gelooi en gebleik, wat dit verswak. Die riempies begin gou hang.”
Die Simply Pierre-reeks word van soliede Franse eikehout, geelhout en Europese eshout gemaak. Die hout kom uit woude wat voldoen aan die streng vereistes wat geld in die Noordelike Halfrond om enige boom af te kap.
“Ons het onlangs honderde kubieke meter ou Franse eikehout gekoop van ’n saagmeule in Alsace in die noordooste van Frankryk wat bankrot verklaar is,” vertel Pierre. Dié besending is die afgelope 20 jaar gesaag, maar uitgegooi weens allerlei klein gebreke. Hout word volgens die hoeveelheid defekte gegradeer, maar in Pierre se oë is dit juis die sogenaamde foute wat die hout nog mooier en interessanter maak.
“Hierdie hout lê al jare lank buite en het ongelooflike karakter ontwikkel met allerlei kwaste en krake – dis behoorlik ingeleef,” sê hy. “En dis júís die natuurlike voorkoms wat mense deesdae soek. Oorsee – en toenemend plaaslik ook – wil mense die hout self sien. Pleks daarvan om die hout te beits of vernis, word dit met olie gevryf of met ’n deurskynende waterbasis-seëlmiddel behandel. Wat Pierre Cronje onderskei van die res, is sy vermoë om die beste uit ’n stuk hout te haal.
“Dit raak deesdae ál moeiliker om ervare, opgeleide vakmanne te kry,” sê hy. “Ons neem elke jaar omtrent 20 vakleerlinge in diens. Baie van hulle hou aan om vir die maatskappy te werk.”
Dis goeie nuus vir mense soos ons wat hoop dat Pierre Cronje se lieflike handgemaakte skeppings en die nuwe Simply Pierre-reeks jaar ná jaar gemaak sal word.
• Pierre Cronje: 021 761 4534, www.pierrecronje.co.za