Eenderse vere

FOTOS: Alain Proust | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Alma Viviers


Die flambojante binneversierder David Strauss deel sy Bloubergse huis met Liam, Ben, Balthazar, Frieda en Pablo – en dis net die diere met ’n naam. Maar sy eksotiese dieretuin is ook die tuiste van ’n eklektiese versameling kunswerke, boeke en bakke.

Dis sekerlik nie die eerste keer dat ons David Strauss in sy huis in Blouberg besoek nie, maar dié meester van vernuwing hou aan om ons te verras met die knap aanpassings van sy ruimte. Wat begin het as ’n gewone siersteen-strandhuis uit die jare sewentig vir die Strauss-familie, het oor die afgelope drie dekades vele gedaanteverwisselings ondergaan: van vakansiehuis tot gesinshuis tot eenmansplek tot vandag se eksotiese dierehawe.

Die jongste inkarnasie, wat dalk die beste beskryf kan word as iets tussen Mexikaanse hacienta en landelike plaaswerf, het ontstaan ná die oprigting van ’n tweeverdiepinghuis op die eiendom reg voor David se huis. Die nuwe buurman het nie net die seeuitsig gesteel waaraan David 30 jaar lank verknog was nie, maar die nuwe huis het ook ’n beduidende invloed op sy privaatheid gehad.

“Ons het eers besef ons uitsig gaan heeltemal verdwyn toe hulle begin met die verdieping bo die garage, wat tot teenaan die grensmuur loop,” onthou hy.

Maar hy’s ’n ontwerper, en hy het onmiddellik gereageer. Die resultaat is ’n huis wat na binne gekeer het – met nuwe, atmosfeerryker en intiemer ruimtes binne én buite. Wat bydra tot dié gevoel van intimiteit is die ongewone donker seegraskleur mure regdeur die huis.

“Die ding met kleur is, jy kan nie net ’n bietjie daarvan hê nie – die swart mure vorm die perfekte agtergrond vir my kuns.”

David het ook besluit om ’n mezzaninevlak bo die kombuis te bou, wat hom ’n uitsig op die see en in die verte Tafelberg sou besorg. Hiervoor het hy sy boekhouer se man aangestel, en dit, lag hy, was die beste besluit, want hulle het nooit oor geld baklei nie. Maar dit het nie beteken die bouwerk was sonder kopsere nie.

“Hier in Blouberg geld ’n hoogtebeperking van 8 m, en binne mag die dak nie laer as 2,4 m wees nie – wat beteken ons het baie min speling gehad in die bestaande struktuur,” sê hy. “Ons het dit 20 cm oorskiet, en as ons toestemming daarvoor moes kry, sou ons toestemming van al die bure moes kry – en dit sou die hele proses vertraag.” Toe los hulle die probleem op met ’n oop balkstruktuur, ’n gespesialiseerde daktegniek en ’n bietjie kreatiewe meetwerk.

Die idee om na binne te keer het ook vir die buiteruimtes gegeld. Omdat hy nie meer ’n uitsig gehad het nie, wou David die meeste daarvan maak. “Die vier groot manatokabome wat ek by ’n vriend present gekry het, maak die tuin. Hulle kan die sout seelug verduur en het dadelik die tuin in ’n geil lushof verander,” sê hy.

’n Tropiese gevoel

Oral in die tuin het hy terracottapotte gesit met varings, roosmaryn en malvas. Twee visdammetjies sorg vir fokuspunte in die binnehof en op die stoep – die ruimte kry as ’t ware ’n tropiese gevoel. Pergolas van watteltakke sorg vir privaatheid en koelte vir buite- en aangrensende binneruimtes, en dit help om die buiteruimtes as vertrekke te definieer.

Dit was asof hy die trendsvoorspeller Li Edelkoort se gedagtes gelees het, want kort voor haar onlangse voorspelling dat voëls ons groot inspirasiebron sal word, het David ’n klomp van sy eie aangeskaf. Die binnehof het nou ’n hok met hoenders en eksotiese duiwe. “Om diere rondom jou te hê is ’n bevestiging van die lewe,” sê David, wat ook twee katte en drie honde het. “Die eenvoudige taak om vir hulle kos te gee en daagliks na hulle om te sien anker my geweldig.”

Die mees onlangse toevoeging tot die voëlgesin is Frieda en Pablo. Die vurige jong African Grey-papegaai is genoem na die Mexikaanse kunstenaar Frieda Kahlo, en al wil ’n mens aanneem Pablo (’n gouemantel-papegaai) het Picasso se naam gekry, verduidelik David dat dit in der waarhheid die naam van sy gunsteling hotel-concierge in Buenos Aires is.

David is mal oor reis, en, amper soos ’n kraai wat al die blink goed na sy nes aandra, versamel hy mooigoed en kunswerke met ’n storie van reg oor die wêreld. Elke dingetjie in sy huis – van die enorme gekerfde houtluiperd wat die leefvertrek oorheers tot die kleinste Ming-porseleinbakkie – het ’n storie wat met kleur en geur vertel word.

“Daar’s twee dinge waarvoor ek nog altyd gewens het. Eerstens wens ek ek was stil en misterieus. Jy weet, die denkende soort wat net af en toe ’n groot waarheid kwytraak,” sê hy. “En die ander is dat ek minimalisties kon leef – nie ’n blink en koue minimalisme nie, maar eerder iets soos die ekonomie van ’n klooster: ’n eenvoudige bed met ’n houttafel en -stoel.”

Maar hy maak vrede met die feit dat nie een van dié twee eienskappe in sy bloed is nie. David hou daarvan om hom met lieflike dinge te omring – kuns óf diere. Dis vir hom die natuurlikste, vervullendste ding.

• David Strauss 082 565 1607, davidstrauss@mweb.co.za

SO MAAK MENS Leef saam met diere

As jy diere in die huis het, beteken dit nie jou interieur moet soos hondekos lyk nie. David het ’n paar nuttige lesse wat hy op die harde manier geleer het.

* Wie raak krapperig? Met twee katte en drie honde kan meubels met materiaalstoffering gewoon nie hou nie. Die meeste van David se meubels is van leer – dis nie net duursaam nie, maar word ook maklik skoongemaak.

* So naby, so ver… Dis ’n goeie plan om seker te maak presies tot waar jou diere kan bykom. David sit al sy breekbare goed buite bereik op boekrakke, tafels en uitstalkassies.

* Al die voete! Met meer as 14 pare pote wat heeldag in- en uitdraf, is dit belangrik om deeglik te besin oor die vloerbedekking. David het ’n kombinasie van terracottateëls, behandelde sement en hout – alles sterk oppervlakke wat maklik skoonmaak.

* Die lekker lewe Gelukkige diere is gewoonlik gehoorsame diere. Al twee die papegaaie het baie speelgoed in hulle hokkies, en die honde gaan stap gereeld op die strand. Selfs die henne mag so nou en dan uit die hok kom en in die binnehof gaan skrop.

* Dis net ’n ongeluk David erken hy is nie te heilig oor goeters nie. As dit breek, aanvaar hy dit maar het.