FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjies | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly
Amanda du Plessis se huis in Riverclub, Johannesburg, is as ’t ware gedompel in die geskiedenis – antiek en modern – en vorm dus die perfekte skilderdoek vir haar nuwe lewe as ’n materiaalontwerper.
Vir Amanda du Plessis gaan alles oor sielvolheid – gemeng met erfenis, integriteit en geduld. En ’n mens se wortels. Sy en haar man, Rudolf, woon al 12 jaar in hulle huis, maar sy voel dit begin nou eers haar styl weerspieël.
Vir dié kleinhandelkonsultant, slypskool-aanbieder en produkontwikkelaar is dit moeilik om haar kenmerkende styl ’n naam te gee. Maar as ’n mens deur die Riverclubse huis stap wat sy ook met haar twee jong seuns, Wian en Malan, deel, blyk dit gou sy het ’n voorliefde vir ontwerp met ’n geskiedenis, maar wat ook oor kontemporêre relevansie en flair beskik.
Die familiewapen, wat aan die kant van haar pa se ou lessenaar in die studeerkamer uitgekerf is, het Amanda die eerste treë laat gee as trotse ontwikkelaar van Evolution Covered-materiale, wat eksklusief deur Home Fabrics versprei word.
Amanda se loopbaan het in die mode-bedryf begin – sy het vir Esprit, Truworths, Stuttafords en Polo gewerk, én sy was die kreatiewe gees agter Stuttafords se Oaktree-reeks. Toe haar seuns gebore word, het sy besluit om dinge stadiger te vat, en deesdae doen sy konsultasiewerk om kliënte met hulle verkoopstrategie te help. Sy bied ook slypskole aan vir modeontwerpers oor hoe om hulle onderneming winsgewend te kry.
Evolution Covered (soos gesien in VISI 47) was Amanda se eerste poging tot produkontwikkeling, en te oordeel aan die positiewe reaksie daarop, beslis nie die laaste nie. Karen Stanek, voorheen van The Silk & Cotton Co., het gehelp met die ontwerp en tegniese ontwikkeling van die reeks stoffeermateriaal wat Amanda se Hugenote- en Afrikaanse wortels (haar nooiensvan is Du Toit) verken. Die reeks bestaan uit meer as 30 ontwerpe wat ’n nostalgiese verhaal vertel, een wat terugdateer tot 1688.
Van die ontwerpe sluit in ’n familie-wapen; klassieke kranse met die naamteke-ninge van Hugenote-setlaars wat uit argief- dokumente verkry is; Amanda se eie “eersteskooldag-foto’s” in silhoeëtvorms op geruite en gestreepte materiaal (geïnspireer deur Kim Lieberman se kuns en Marlene Dumas se klasfotoskilderye); plus Adinkra-simbole uit Wes-Afrika met gelowe en sêgoed wat as inspirasie dien. In een ontwerp vorm woorde wat Amanda se lewe geraak het, ’n grafiese mosaïek. Een van hulle is “Liefding”, die laaste woord wat haar pa vir haar ma gesê het voordat hy oorlede is.
Die reeks is ’n roerende weerspieëling van ’n erfenis waarin Europese en Afrika-tradisies versmelt. En dit dra die gevoel oor van die eiesinnige styl in Amanda se huis. Hoewel die huis self taamlik onlangs gebou is – in 1980 – anker die honderd jaar oue rooiessenhoutboom in die tuin dit in die geskiedenis én sorg vir warmte en karakter. Die boom dien as ’n herinnering dat die noorde van Johannesburg nie net bestaan uit verbeeldinglose voorstedelikheid en rye meenthuise nie.
Al bly die Du Plessis’s skaars ’n hanetree van die verkeer en kitskosdolheid van Rivoniaweg, is dit ’n kalm toevlugsoord. Wanneer die aluminiumdeure van vier meter oopgegooi word – amper soos in ’n wildslodge – wag die tuin met die enorme boom en donker-olyfgroen mure, wat retro-elegansie verleen aan die naatlose binne-buite-leefstyl. Die kombuis, eetgedeelte (binne en buite), leefgedeelte en sonkamer front noord en vorm almal deel van ’n groot boog wat die boom en tekstuurryke tapyt van mondogras (Ophiopogon japonicus) omarm. Die huis het ook ’n swart swembad aan die een kant, terwyl die waskamer en opwaskamer in die ander kant versteek is. Dis ’n oorvloedige ruimte wat ontwerp is om die meeste te maak van die lieflike Johannesburgse klimaat – en dis boonop ideaal vir ’n ontspanne gesinslewe.
Aan die suidekant van die huis is ’n kort stel trappe waarmee jy uitkom by die drie slaapkamers, badkamers, ’n studeerkameren Amanda se kantoor in die agtertuin. Die ruimtes is eenvoudig en ruim, met groot vensters wat sorg vir lig, en al die vertrekke oopmaak vir die oorweldigende groen van die grafiese agtertuin. Regdeur die huis het Amanda haar stempel afgedruk: Ou hospitaalkassies met ’n skelgeel poeierverflaag gee die badkamers ’n kontemporêre gevoel. Teen die buitemuur van haar kantoor is enorme houtprenterame wat met hoenderdraad bedek is sodat plante daarteen kan rank, terwyl ’n massiewe afdruk van ’n Karoo-landskap die muur bo Wian se bed met ruimte en warmte vul.
Die dekor is ’n spitsvondige mengsel van oud en nuut: ’n geliefde Franse armoire (Amanda se geskenk van haar man op hul tiende huweliksherdenking) en ’n dramatiese handgemaakte retro-rusbank van Casamento staan gerieflik naas ou leersitkussings en, natuurlik, die jongste toevoegings tot Amanda se materiaalreeks. Tog het niks hiervan oornag gebeur nie, en Amanda gebruik graag die naam van ’n winkel wat sy onlangs in Londen se Ooseinde ontdek het om haar uitkyk te verduidelik: Labour and Wait. Dis ’n naam waarmee sy sterk identifiseer, want sy glo nes met alles in die lewe het ’n mens geduld nodig as jy ’n huis bou. Kry jou eie styl en laat dit van daar af groei.
• Amanda du Plessis www.evolutionconsulting.co.za
• Home Fabrics 011 262 3492, www.homefabrics.co.za

